Soldeer
|
Nr. 724 - 30/03/2017 |
HOOFSTORIE: |
Solidariteit se “Steun Ons Staal”-veldtog skep hoop vir die Suid-
Afrikaanse staalbedryf
Deur Wilmarie Brits
Die vakbond Solidariteit het vandag tydens ʼn konferensie by Akademia sy “Steun Ons Staal”-veldtog (SOS) van stapel gestuur. Die veldtog, wat fokus op die uitdagings wat hierdie bedryf in die gesig staar, beoog om betrokkenheid aan te moedig wat aanleiding sal gee tot aktiewe optrede om die plaaslike staalbedryf te red.
Volgens Marius Croucamp, adjunkhoofsekretaris van Solidariteit se metaal- en ingenieursbedryf, plaas die drastiese afswaai in die groei van die plaaslike ekonomie, kostedruk in die vervaardigingsektor, asook uitermate hoë staalinvoere en die gebrek aan die gebruik van Suid-Afrikaanse staal die Suid-Afrikaanse staalbedryf onder geweldige druk. “Ons het die afgelope paar jaar duisende werkverliese in die plaaslike staal, vervaardigings- en ingenieursbedrywe ondervind. Talle plaaslike staalmaatskappye het óf afgeskaal deur duisende werkers af te lê óf hulle het hul besighede permanent gesluit – wat talle werknemers sonder ʼn heenkome gelaat het,” het Croucamp gesê.
Croucamp het daarop gewys dat die staalbedryf sowat 300 000 werksgeleenthede skep vir mense wat regstreeks sowel as onregstreeks by die staalbedryf betrokke is. “Altesaam 66% van die huishoudings in sowel die Vaaldriehoek as Newcastle is van die staalbedryf afhanklik vir hul lewensbestaan. Dit is statistieke soos dié wat die behoefte aan en dringendheid vir ʼn veldtog soos die SOS-veldtog beklemtoon,” het Croucamp gesê.
Volgens Croucamp is die SOS-veldtog se primêre doelwitte om die Suid-Afrikaanse staalbedryf te red by wyse van bewusmaking van die uitdagings wat hierdie bedryf in die gesig staar, om openbare steun te werf, om belyning tussen die primêre bedryf en aanverwante bedrywe te bevorder en om sinergie tussen hulle te bewerkstellig. Hierdie veldtog is gerig op die publiek, rolspelers in die bedryf, die regering, die media, vakbondlede en -strukture en werkers in die bedryf.
“Die SOS-tema loop hand aan hand met die idee dat ons almal trotse Suid-Afrikaners is en daarom moet ons saamstaan en saamwerk om te voorkom dat ons ontneem word van ons staalbedryf,” het Croucamp gesê.
|
SOLIDARITEIT NUUS: |
Nóg mense in vervaardigingsektor hul werk kwyt – Solidariteit
Deur Francois Redelinghuys
Die vakbond Solidariteit het vandeesweek bevestig dat hy in kennis gestel is van beplande afleggings by Girlock Brakes omdat die maatskappy weens verskeie redes nie meer aan sy operasionele vereistes sal kan voldoen nie.
Volgens Marius Croucamp, adjunkhoofsekretaris van die metaal- en ingenieursbedryf by Solidariteit, het die maatskappy redes vir die afleggings aangevoer wat onder meer ʼn 95%-vermindering van ʼn plaaslike Volkswagen-kontrak en die invoer van remme vanuit China insluit. “Volgens die maatskappy het hierdie veranderinge in die markomgewing hulle daartoe genoop om hul werkmag te verminder as hulle steeds ʼn lewensvatbare besigheid wil wees,” het Croucamp gesê.
Croucamp sê dit is juis waarom Solidariteit besluit het om ʼn veldtog van stapel te stuur met die doel om werksbehoud in Suid-Afrika te verseker. “Hierdie veldtog, wat amptelik op 30 Maart 2017 geloods word, gaan juis op die staal-, vervaardigings- en ingenieursbedryf fokus om die uitdagings wat hierdie en aanverwante bedrywe in die gesig staar, te takel en om met daadwerklike planne vorendag te kom om hierdie bedrywe te help red,” het Croucamp gesê.
|
Solidariteit se aansoek rakende Hlaudi dan aangehoor
Deur Francois Redelinghuys
Die vakbonde Solidariteit en die Broadcasting, Electronic, Media & Allied Workers Union (Bemawu) se aansoek dat Hlaudi Motsoeneng toegevoeg moet word as respondent in dié twee vakbonde se kostebevelsaak teen die SAUK sal op Dinsdag 28 Maart 2017 in die arbeidshof in Johannesburg aangehoor word.
Dit volg nadat die arbeidshof in 2016 beslis het dat die SAUK 8 onregmatig afgedank is. Die hof het ook beide Solidariteit en Bemawu, wat elk vier van die SAUK-lede verteenwoordig het, se aansoeke om die joernaliste weer aan te stel, met koste toegestaan.
Volgens Anton van der Bijl, hoof van Solidariteit se Sentrum vir Billike Arbeidspraktyke, voer die vakbonde aan dat hoewel Motsoeneng nie die opdrag self uitgevoer het nie, die de facto besluit om die joernaliste af te dank, ingevolge sy instruksie uitgevoer is deur Simon Tebele wat reeds as respondent tot die saak gevoeg is.
Van der Bijl verduidelik voorts dat die vakbonde Motsoeneng as respondent tot die saak wil voeg om hom in sy persoonlike hoedanigheid aanspreeklik te hou vir die regskoste wat die twee vakbonde aangegaan het.
|
Uitspraak oor UV-taalbeleid berei weg voor vir Konstitusionele hofsaak
Dit is tragies dat onderriginstellings en howe so min beskerming vir die internasionaal erkende reg tot moedertaalonderrig bied. Omdat toegang tot Afrikaanse onderrig vir Solidariteit en AfriForum ʼn prioriteit bly, duur gesprekke met internasionale forums en kenners voort met die oog daarop om die stryd vir die beskerming van dié reg ook in die internasionale arena aan te pak. Tegelykertyd word alternatiewe Afrikaanse studiegeleenthede ook in die privaatsektor ontwikkel.
In reaksie op die uitspraak van die hoogste hof van appèl ten gunste van die taalbeleid van die Universiteit van die Vrystaat, tree Solidariteit en AfriForum tans in gesprek met dié instellings se regspan. Die moontlikheid word ondersoek om by die Konstitusionele Hof aansoek te doen om teen die uitspraak te appelleer.
Selfs in die uitspraak is dit duidelik dat daar uiteenlopende standpunte oor die betekenis van artikel 29 van die Grondwet bestaan. Dié artikel handel onder meer oor die reg tot onderrig in ʼn student se taal van keuse, onderhewig aan praktiese uitvoerbaarheid. Dit is van belang dat die appèlregters in die uitspraak erken dat die uitfasering van ʼn taal soos Afrikaans uit ʼn tersiêre taalbeleid die taal tot nadeel strek en ʼn bron van kommer vir alle taalgroepe in die land behoort te wees.
Solidariteit en AfriForum sal Afrikaanssprekende studente se reg tot Afrikaanse onderrig op alle moontlike wyses binne die wetlike raamwerk beskerm en verdedig. Soos die appèlhof se uitspraak tereg noem, is taalregte ten nouste verweef met kulturele identiteit en minderheidsregte en is dit nodig dat die Konstitusionele Hof uitspraak oor Afrikaans as medium van onderrig op tersiêre vlak lewer. Om hierdie rede sal verlof tot appèl na dié hof verwelkom word.
Sodra sekerheid oor die aansoek om verlof tot appèl by die Konstitusionele Hof verkry is, sal ʼn mediaverklaring hieroor uitgereik word.
|
South32 wil aandele terugkoop
Netwerk24 berig dat die mynmaatskappy South32 bekendgemaak het dat hy $500 miljoen se aandele met spaarkontant wil terugkoop.
Luidens ʼn verklaring wat Maandag uitgereik is, beloop dit sowat 4,5% van die groep se huidige markwaarde.
Hierdie kapitaalbestuursprogram, wat aanvullend tot sy dividendbeleid is, sal aanvanklik behels dat aandele op die ope mark in Australië teruggekoop word.
South32 het onlangs ʼn tussentydse dividend van $192 miljoen verklaar.
Die getal aandele en tydsberekening vir die terugkoop sal volgens South32 van die aandeelprys en marktoestande afhang. Die programme hoef nie deur sy aandeelhouers goedgekeur te word nie en sal oor ʼn tydperk van 12 maande afgehandel word.
South32 is in 2015 van BHP Billiton ontknoop.
Hy produseer onder meer aluminium, steenkool, mangaan, nikkel en silwer in Suid-Afrika, Australië en Suid-Amerika.
Sy aandele het Maandagoggend 1,8% laer teen A$2,67 in Sydney verhandel en op die JSE was dit net-net hoër (+0,04%) op R25,81.
|
Diensbeëindiging: Waarom en hoe?
Deur Lucindi van Zyl
Die beëindiging van jou diens by ʼn werkgewer kan om verskeie redes plaasvind waaronder bedanking, afdanking, aflegging, aftrede of ʼn vastetermynkontrak wat verstryk. Indien jy self bedank, moet jy ʼn bedankingsbrief indien. Dit kan in hand- of tikskrif wees, en ʼn e-pos is ook reg. In jou brief moet jy die ooreengekome kennistydperk in ag neem, byvoorbeeld ʼn kalendermaand.
Kragtens artikel 37 van die Wet op Basiese Diensvoorwaardes is die minimum kennistydperk ʼn week as jy ses maande in diens was, twee weke as jy tussen ses en 12 maande gewerk het, en vier weke as jy ʼn jaar of langer in diens was. Die kennistydperk mag ook nie oorvleuel met enige verlof waarop jy nog geregtig is nie.
Die skriftelike kennis is slegs ʼn kort briefie waarin jy duidelik en ondubbelsinnig sê dat jy jou dienste op ʼn bepaalde datum gaan beëindig, byvoorbeeld: “Ingevolge my diensooreenkoms gedateer ……………………. gee ek hiermee kennis dat ek my dienste op 28 Februarie 2017 gaan beëindig.” Die datum waarop die brief geskryf (en ingedien) is en jou laaste werksdag moet duidelik aangedui word.
Rig die brief aan jou toesighoudende bestuurder of die bestuurder: mensehulpbronne van jou werkgewer. Jy hoef nie redes vir jou bedanking aan te voer nie, maar jou redes, asook dalk ʼn paar vriendelike woorde oor jou dienstydperk by die werkgewer, kan tydens die uitdienstredingsonderhoud oorgedra word.
Jou werkgewer moet op sy beurt ʼn dienssertifikaat wat jou dienstydperk en laaste vergoeding aandui, aan jou besorg. Indien die werkgewer gekontak word vir ʼn verwysing, mag die werkgewer die volgende inligting openbaar: dienstydperk, redes vir diensbeëindiging, verantwoordelikheidsareas, vaardighede, dissiplinêre rekord, prestasie en vergoeding.
Dan moet jy in gedagte hou dat sommige werkgewers dit inderdaad sal verkies om jou dadelik uit te betaal wanneer jy bedank, sodat jy tydens jou kennistydperk nie hoef te werk of eens by die werk te wees nie . Onthou ook dat ʼn bedanking wat skriftelik ingedien en deur die werkgewer aanvaar is, gewoonlik nie teruggetrek kan word nie.
In sy boek, Interpretation of Statutes, beskryf professor Devinish ʼn kalendermaand baie duidelik:
“A calendar month is a month according to the almanac or common calendar. A calendar month is therefore not a fixed number of days but varies according to the actual month concerned. A calendar month need not necessarily run from the beginning of the month. In ascertaining a certain number of calendar months the civil method of computation is used: the first day of the period is included and the last day excluded. However the application of this definition is ambiguous. The term “calendar month” may be interpreted in two ways: either as a month as it appears on the calendar (1 January – 31 January), or a month reckoned in terms of one day in a particular month until the corresponding day of the next month; thus for example, from the fourth day of March until the fourth day of April. Both possibilities arise in practice.”
Ons beveel aan dat diensooreenkomste voorsiening maak vir ʼn bepaalde datum, byvoorbeeld die eerste, derde of vyfde dag van die maand. Dan kan jy in jou bedanking aandui dat jy volgens artikel 37 van die Wet op Basiese Diensvoorwaardes slegs ʼn kennistydperk van vier weke wil werk, welke tydperk op die datum van jou bedankingsbrief gaan begin.
|
Hoe kon julle sommer net oppak en weggaan?
Deur Karen van der Berg
Hulle kry gereeld die vraag: hoe kon julle emigreer? Hoe kon julle net julle familie en vriende groet en julle wortels uitpluk? Stephanie Venter (40), wat vir die afgelope jaar saam met haar man en dogtertjie (3) in Kanada woon, sê die vraag bring baie nagmerries terug.
Haar skoonfamilie is op 24 April 2014 op hulle plaas in die Reddersburg-distrik aangeval. Hulle het oorleef. Stephanie en haar gesin en vriende was minder as een kilometer van daar af in hulle eie huis op dié plaas.
“Ek het altyd gewonder hoe dit sou wees as mens so iets oorleef, gedink ek gaan ʼn onmenslike vrees beleef elke sekonde van die dag. Maar nadat ons ons direkte omgewing net nog veiliger gemaak het, het die lewe weer aangegaan.
Tog het die lekker lewe op die plaas vir ewig verander.
“Ons het nooit meer na skemer iewers heen gegaan nie. Ons het gebraai met toegesluite hekke en ʼn geweer byderhand. As ons iewers laat gekuier het, het ons oorgeslaap.”
Die ergste was om Sondae na kerk terug te ry plaas toe. Plaasaanvaltyd, die tyd dat jy ingewag word. Daardie vrees.
“Misdaad was die grootste rede vir ons trek Kanada toe. Dit was nie maklik nie, maar ons kind was ons inspirasie. Nagmerries oor ontvoering, verkragting, aanranding en moord het oor en oor in ons koppe afgespeel. Dit was nie meer die moeite werd om daar te bly nie.”
Stephanie sê die skuldgevoelens as jy te trek, is die ergste.
“Ons het elke dag gehuil totdat ons op daardie vliegtuig geklim het, en toe ons daar aanland het ons eers begin huil.”
Maar om ʼn oproep te kry dat jou mense aangeval is, is rede genoeg om te gaan.
“Vir die mense in Kanada klink dit asof ons hulle van ʼn riller vertel.”
Hoewel tegnologie hulle lewenslyn en verbinding met hulle familie en vriende is, is dit nie vir Stephanie maklik om op Facebook die nuus te lees nie.
“Ons is bang vir wat ons gaan lees oor die plaasmoorde en misdaad.”
“As ek die berigte lees, voel ek naar en bekommerd. Verraai en hartseer.
“Elke keer as ek verlang of smag na ʼn koppie koffie saam met ʼn vriendin of familielid, besef ek dat ek die vrede wat ek het oor ons veiligheid vir niks kan verruil nie. Ek sal eerder elke dag vir die res van my lewe my beywer om my familie hier te kry.”
Stephanie sê al is al hulle mense nog in Suid-Afrika en al het hulle permanente verblyfreg in Kanada, sal hulle altyd Suid-Afrikaners bly.
“Ek huil dalk een of twee keer per week omdat ek verlang. Maar ons verlang na ons mense, nie meer na ons land nie en dit is hartverskeurend. Suid-Afrika is nie meer ons huis nie.”
|
SOLIDARITEIT BEWEGING NUUS: |
AKADEMIA |
Opgradering van optiesevesel verbeter Akademia-studente se leerervaring
Selfs vinniger internet, topgehalte video’s, ekstra skerp beelde en intydse interaktiewe klasse word nou aan Akademia se studente gebied, nadat die optiesevesellyne van 2 megagrepe na 80 megagrepe opgradeer is.
Hierdie toonaangewende tegnologiese vooruitgang verseker dat al elf Akademia se landswye studiesentrums nou die vele voordele van vinnige internetspoed en uitstekende tegnologie kan geniet. Waldemar Blanché, hoof van opvoedkundige tegnologie by Akademia, sê die beter optiesevesellyne bied aan die studente en dosente soveel meer opsies. “Dosente kan nou staan en rondbeweeg terwyl hulle klasgee en studente kan vinnig en maklik reageer. Die interaktiewe aard van die klasse bied aan ons studente ʼn uitstekende afstandsleerervaring, aangesien dit voel asof jy werklik deel van die klas is en nie net ʼn toeskouer nie.”
Toe Akademia in 2012 sy deure oopgemaak het, het elke studiesentrum met ʼn halwe megagreep se ADSL-lyn gefunksioneer. In 2014 het Suid-Afrikaanse besighede na optiesevesellyne oorgeskakel en Akademia het ook spoedig sy tegnologie verbeter, met elke studiesentrum wat toe aansienlik beter met 2 megagrepe gefunksioneer het. Die mees onlangse opgradering is ʼn tegnologiese sprong wat Akademia op die voorpunt van tegnologiese ontwikkeling hou en die groeiende studentekorps in elke opsig bevoordeel.
Akademia se onderrigmodel kombineer ʼn klaservaring met afstandsonderrig. Studente woon klas by, maar kan kies by watter van die elf studiesentrums regoor die land hulle dit wil doen. Alle klasse is regstreeks met mekaar, sowel as met een van vier professionele ateljees by Akademia se hoofgebou waar die dosent gesetel is, in verbinding. Studente sien op een groot skerm die klasnotas, en op ʼn tweede skerm word die dosent lewensgroot vertoon.
Kontaksessies duur ongeveer vyftig minute, en studente kan aan die klas deelneem deur eenvoudig ʼn hand op te steek en ʼn vraag te vra. Sagteware bring outomaties so ʼn student na die voorgrond van die videovoer in ander klasse, byna asof die vraag in dieselfde lokaal gevra is. Op soortgelyke wyse kan die dosent studente vrae aan enige student in enige van die klasse rig, en word die bespreking regstreeks oor studiesentrums heen gedeel en ervaar.
Die ateljees vanwaar die dosente klasse aanbied is met gevorderde tegnologie ingerig. Voor dosente verskyn al die verskillende klasse op groot televisieskerms, waar dosente studente kan identifiseer vir vrae en opdragte. Digitale penne dra wat dosente ook al op die papier voor hulle skryf oor na die skerms in studiesentrums. Terselfdertyd is klank- en videoingenieurs deurentyd in die beheerkamer besig om klank, video en ander tegnologiese aspekte te monitor en optimaliseer.
Na klasse word die opnames geredigeer en binne enkele dae op Akademia se digitale leerruimte, die Spens, vir studente beskikbaar gemaak. Hier kan studente video-opnames van die klasse aflaai, argiefmateriaal bestudeer, of selfs net die klankbaan op hul selfone laai om later weer as ʼn potgooi te luister.
|
AFRIFORUM |
AfriForum stig tak in Boshof
Die burgerregte-organisasie AfriForum het op 22 Maart 2017 ʼn tak in Boshof gestig. Dít volg nadat verskeie gemeenskapslede ʼn behoefte aan ʼn AfriForum-tak uitgespreek het om die voortslepende gebrek aan munisipale dienslewering in dié dorp aan te spreek.
Die nuwe takbestuur bestaan uit Johann Steenkamp (voorsitter), Nicol Thiaart (ondervoorsitter), Elizna Janse van Rensburg (tesourier) en Ernest Afrika (sekretaris).
“Ek glo dat die stigting van ʼn AfriForum-tak in Boshof ʼn keerpunt in die geveg teen munisipale wanbestuur is. Die Tswelopele Plaaslike Munisipaliteit het volgens die ouditeur-generaal se 2014/2015-verslag byna R15,5 miljoen onregmatig spandeer en moet daarom tot verantwoording geroep word,” sê Pieter Myburg, AfriForum se distrikskoördineerder vir Bloemfontein.
“Ek dink dit is tyd dat die gemeenskap self verantwoordelik raak en vir hul regte opstaan. Ek doen ʼn beroep op die Boshof-gemeenskap om by die plaaslike AfriForum-tak aan te sluit,” sê Johann Steenkamp.
Raak vandag betrokke deur “Boshof” na 45266 te SMS (R1).
|
SOLIDARITEIT HELPENDE HAND |
Fondsinsameling is nie bedel nie
Deur Marlien van der Westhuizen
In vandag se tyd is dit nie kinderspeletjies om ʼn skool aan die gang te hou nie. Skole se uitvoerende bestuur moet behoorlik kopkrap om met die toenemende ekonomiese druk die skool se deure oop te hou. Daarom het Solidariteit Helpende Hand se Skoleondersteuningsentrum (SOS) besluit om skole op te lei oor hoe om ʼn effektiewe fondsinsameling te hou.
Die SOS het vir Chris Windell, ʼn kenner op die gebied van fondsinsameling, genader om die hoofde van top Afrikaanse skole in Gauteng by ʼn glansontbyt in Centurion toe te spreek. Windell werk al jare by die Departement Bemarking en Kommunikasie van Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus.
Volgens Windell is fondswerwing meer as ʼn besigheid en is dit eerder ʼn wetenskap en ook die hoogste vorm van bemarking. “Fondswerwing gaan gepaard met beplanning, entoesiasme en eerlikheid,” sê Windell. “Die belangrikste is om te onthou dat “fundraising” sinoniem moet wees met “friend-raising”. Vriendwerwing gaan daaroor om ʼn verhouding op te bou met instansies wat ʼn passie vir jou skool het. En ʼn mens moet nooit moed opgee nie. As iemand vanjaar nee sê, gaan volgende jaar terug.”
Volgens Hugo Vermeulen, hoof van die SOS, is baie skole afhanklik van fondsinsamelings om hul operasionele koste te dek. “Die meeste ouers wil die aapstuipe kry as hul kind by die huis kom met ʼn lys vir geldinsameling,” sê Vermeulen. “Maar fondsinsameling gaan veel verder as om lysies huis toe te stuur. Tydens hierdie ontbyt is skoolhoofde aangeraai om slimmer te werk te gaan om in hierdie uitdagende tydsgewrig hul fondse te beskerm en aan te vul.”
Die SOS het onderneem om meer skole hierin op te lei en beplan ʼn volledige werkswinkel oor fondswerwing, spesifiek vir Afrikaanse skoolgemeenskappe.
Die SOS het ook van die ontbytgeleentheid met Gautengse skoolhoofde gebruik gemaak om die skole wat op die SOS se lys van Top 20 Afrikaanse skole in Wiskunde en Afrikaans Huistaal (volgens die aantal onderskeidings tydens die 2016-matriekeksamen van die ministerie vir onderwys) was, te vereer met ʼn ere-toekenning vir hul uitmuntende prestasie.
Die SOS bied ook later vanjaar twee nasionale onderwyskongresse aan, op 28 en 29 Junie in Centurion en 3 en 4 Julie in Bellville. Vir meer inligting oor die kongres, klik hier of stuur ʼn epos na hugo@helpendehand.co.za.
|
KRAAL UITGEWERS |
Nuwe boek ondersoek gemeenskappe se strewe na kultuurvryheid
ʼn Nuwe publikasie uit die pen van meer as ʼn dosyn internasionale kenners uit Suid-Afrika, Zimbabwe, Nederland, Vlaandere, Duitsland, Australië en die VSA plaas die kwessie van kulturele vryheid van klein groepe wêreldwyd in die kollig.
Dié werk, getiteld Kultuurvryheid en selfbestuur: Keuses van klein groepe wêreldwyd, staan onder redaksie van die risiko-ontleder, kenner van Afrika-sekuriteit en gasnavorser by die Universiteit van Amsterdam, dr. Heinrich Matthee. Ander plaaslike kenners wat as medewerkers opgetree het sluit in proff. Koos Malan, Danie Goosen, Louis du Plessis en Deon Geldenhuys sowel as raadslid Yagyah Adams.
Kultuurvryheid en selfbestuur stel onder meer ondersoek in na die regstelsel wat onder Amerikaanse Indiane in die VSA geld, die miskenning van die Amazigh-mense se kultuur in Noord-Afrika, die situasie ten opsigte van die Turkmene in Irak sowel as die leefwêreld van die Hongaarse minderheid in die hedendaagse Roemenië. In elkeen van hierdie gemeenskappe is daar raakpunte met en lesse vir minderheidskultuurgroepe in Suid-Afrika. Daar word ook indringend gekyk na hoe Suid-Afrikaanse minderheidsgemeenskappe, soos die Afrikaner en die Khoi-San, aanspraak kan maak op staatkundige beskerming van hul identiteite en kulturele outonomie.
Die boek is tans beskikbaar by Kraal Uitgewers teen R350 (posgeld uitgesluit). Kontak die uitgewer by kraal@kraaluitgewers.co.za of skakel 012 644 4329 vir meer inligting of om ʼn bestelling te plaas.
|
RUBRIEKE: |
BEDRYFSBROKKIES |
Transnet bied vrywillige skeidingspakkette aan personeel aan
Transnet het Vrydag by wyse van amptelike dokumente bevestig dat hy vrywillige skeidingspakkette (VSP’s) aan sy bestuur en personeel in die bedingingseenheid aanbied.
Volgens Mining Weekly het dié semi-staatsinstelling gedempte ekonomiese groei wêreldwyd, insluitend swak ekonomiese vooruitsigte vir die plaaslike ekonomie, as redes aangevoer om die VSP-program van stapel te stuur.
Die VSP-proses sal oorweeg word in ooreenstemming met besigheids- en bedryfsvereistes, insluitend die behoud van vaardighede wat Transnet in ooreenstemming met sy toekomsplanne mag benodig. Die groep verwag om die proses teen die einde van April af te handel.
|
MY WERK |
Hoe om ʼn balans te handhaaf as jy vriend en bestuurder tegelyk is
Deur Wilmarie Brits
Een van die voordele wat daaraan verbonde is om ongeveer ʼn derde van jou volwasse lewe by die werk te spandeer, is dat jy nuwe mense ontmoet en die geleentheid het om deel te wees van ʼn span waarin almal hegter saamgesmee word terwyl hulle struikelblokke en uitdagings saam die hoof bied. Talle goeie vriendskappe ontwikkel uit werksverhoudinge. Op sigself is dit nie ʼn slegte ding nie, tensy jy jou skielik in ʼn gesagsposisie oor jou vriende bevind. Hoe hanteer ʼn mens so ʼn situasie?
As ʼn mens ʼn span lei, moet jy bewus wees van hoe jy teenoor jou werknemers optree. Hoe hard jy ook al probeer, die reëls van vriendskap geld nie altyd wanneer mense bestuur moet word nie. ʼn Balans moet gehandhaaf word tussen professionalisme en vriendskap.
Nuut aangestelde bestuurders bevind hulself in ʼn uiters moeilike en ongemaklike situasie as hulle hul vriende moet bestuur. Soms word besluit dat dit makliker is om afstand tussen jou en jou vriende te skep deur enige persoonlike kontak by die werk te vermy, wat beteken ʼn mens kan nie meer saam vir middagete uitgaan nie; kontak is slegs professioneel en kommunikasie geskied net by vergaderings of deur amptelike korrespondensie. So ʼn benadering kan die einde van jou vriendskap beteken. Die ander uiterste is as jy sou besluit om die vriendskapsverhouding voort te sit asof niks tussen jou en die vriend verander het nie. Die moontlikheid bestaan dan dat dit bestuursverwydering tussen jou en die res van die span kan teweegbring en dat daar geen respek vir jou as bestuurder is nie. Vriende mag onder die indruk verkeer dat ʼn vriend nie ʼn vriend in die pad sal steek nie en dit mag hulle net in die versoeking lei om kans te vat en laks te wees wanneer dit by produktiwiteit kom. Nie een van die twee uiterstes hoef egter gevolg te word nie.
Daarom is dit belangrik dat jy ʼn goue middeweg tussen die twee sal vind; ʼn balans wat jou vriendskap sal koester terwyl jy aan die stuur staan om produktiwiteit en spanwerk te verbeter. Jy moet altyd eerlik, konsekwent en openlik met jou span wees. Ten einde weersin van jou span te vermy, is dit baie belangrik dat jy nie enige indruk van voortrekkery skep nie. Volgens Sarah Hansen, ʼn Teamgantt-navorser, moet jy seker maak jou hele span weet dat jy die mees verdienstelike werknemer, en nie die een wat al ʼn pad met jou geloop het nie, sal beloon.
Dit is deel van jou plig as bestuurder om jou werknemers te evalueer en hoewel sodanige interaksie nie altyd welkom is tussen vriende nie, is dit iets wat gedoen moet word om ontwikkeling te verseker. In so ʼn situasie kan jy jou vriende/kollegas gemakliker laat voel deur te beklemtoon hoe belangrik hul ontwikkeling vir jou is en dat jy net die beste vir hulle wil hê.
Daar gaan ongelukkig kere kom wat jy nie met jou vriend/werknemer saamstem nie. In konfliksituasies is dit dan belangrik om nie emosioneel betrokke te raak nie. Onthou om altyd eerlik te wees. Eerlikheid en vertroue vorm die hoeksteen van enige vriendskap en werkgewer-werknemer-verhouding.
Bestuurders moet in hul interaksie met hul werknemers oop kommunikasie aan die dag lê. Maak dit dus van meet af aan duidelik aan jou vriende dat wanneer dit kom by die neem van moeilike bes, vriendskap tersyde gestel gaan word.
|
MY GESONDHEID |
ʼn Kosblik kan lekker én gesond wees
Saamgestel deur Medihelp(Vir bekostigbare voordele-opsies, SMS “solidariteit” na 32291.)
Jou moed sak in jou skoene wanneer jou lekkerbek-kind sleepvoet na skool met ʼn leë maag en ʼn vol kosblik by die huis opdaag. Hoe gemaak om die vervelige toebroodjie te omseil sonder om jou kind se gesondheid in te boet?
Hier is ʼn maklike formule vir ʼn gesonde kosblik: ʼn porsie lae-GI-koolhidrate + ʼn porsie proteïen + ʼn porsie vars groente en/of vrugte + gesonde vloeistof + ʼn versnapering.
Só maak jy:
Lae-GI-koolhidrate
Fokus op volgraanprodukte soos brood, tortillas, pitabroodjies of beskuitjies as basis vir ʼn lekker toebroodjie of wrap. Jy kan ook ʼn heerlike volgraanpasta of bruinrys gebruik as basis vir ʼn slaai of bredie om sommige kosblikke interessanter te maak.
Proteïen
Probeer rooivleis beperk en gebruik liefs hoender sonder die vel, vis en suiwelprodukte (mits jou kind nie allergies vir suiwel is nie) om noodsaaklike proteïen en kalsium by die kosblik in te sluit. Jy kan ook bone inspan deur byvoorbeeld ʼn hummusdoopsous vir groentestokkies te maak of ʼn interessante pastasous daarmee op te tower. As jy dit met ʼn vars tamatiebasis geur, sal niemand behalwe jy weet dit verdoesel ander gesonde bestanddele nie.
Vars groente en vrugte
As jou kind normaalweg neus optrek vir groente en vrugte, probeer die aanbieding verander. Baie kinders haat gekookte groente, maar sal heel gewillig rou wortel- en komkommerstokkies eet as hulle dit in ʼn lekker sous kan doop.
Jy kan ook byderwetse smoothies optower. Bestanddele soos avokado, spinasie en beet kan baie maklik by ʼn soet vrugtesapskommelingesluit word sonder dat jy dit kan proe, met die byvoordeel van ʼn interessante kleurskakering.
Jy kan dit vooraf berei, in interessante drinkhouers vries en net so inpak om die res van die kosblik tot pouse koud te hou. Dit sal stelselmatig ontvries en net betyds reg wees om heerlik koud afgesluk te word. Onthou om die houer in ʼn paar lagies kombuispapier toe te draai sodat dit nie die res van die kosblik nat maak wanneer dit ontvries nie.
Vloeistof
Water bly die heel beste en jy kan dit interessanter maak met skyfies vrugte, ʼn bietjie vrugtepulp of selfs oulike vrugte-ysblokkies. Probeer om vrugtesappe en gaskoeldranke te beperk weens die hoë suikerinhoud. Jy kan dit ook soms – as ʼn spesiale verrassing – afwissel met melk of gegeurde melk vir ʼn kalsiumhupstoot.
Versnaperings
Baie skole is deesdae streng oor die inhoud van kosblikke, dus moet jy versnaperings versigtig kies. ʼn Versnapering behoort iets lekker sonder ʼn hoë suiker- en/of vetinhoud te wees. Beheerde porsies droëvrugte en neute, selfgemaakte proteïenballetjies of stafies met ʼn hawermoutbasis en energiestafies met ʼn saadbasis is goeie opsies.
Wenke
- Probeer uitvind waarom jou kind weier om sommige kosse te eet. Die probleem kan dikwels met ʼn klein verandering opgelos word, soos om ʼn sous weg te laat of by te voeg of korsies van broodjies af te sny.
- Hou kosblikke interessant deur die vorm waarin jy ʼn alledaagse eetding aanbied, te verander. Dalk gril jou kind vir jogurt, maar hy sal gretig aan ʼn jogurt-ysie smul. Of miskien kan ʼn groot, intimiderende toebroodjie baie aanlokliker lyk as dit met ʼn koekiedrukker in oulike kleiner vorms gesny word.
- ʼn Tamatiebasissous is ʼn reddingsboei vir menige ma. Jy kan amper enige ander groente gaarmaak, versap en daarby voeg sonder om die jongspan se wenkbroue te lig wanneer jy dit kwistig oor pasta skep of saam met visvingers aanbied. Maak dit in grootmaat en vries in porsies vir ʼn maklike oplossing op daai mal dae wanneer jy in die versoeking kom om kitskos te koop.
- Jy kan kapokaartappels gesonder maak deur die botter met ongegeurde jogurt te vervang. Voeg kruie of ʼn klein skeppie gerasperde parmesaankaas by vir ekstra geur.
- Moet nooit jou kind dwing om iets te eet nie. Dit sal veroorsaak dat hy hardkoppig word en weier om te eet, wat jou net nog meer gaan frustreer.
- Stel ʼn voorbeeld deur self gesond te eet. Jy kan nie van jou kind verwag om gesond te eet as jy van wegneemetes leef nie.
|
MY SPORT |
Eulogie aan elke jongman se held
Deur Francois Redelinghuys
Herhaling
As ek aan Joost van der Westhuizen dink, aan vele van sy skitterdrieë om die steelkant van ʼn losgemaal, is daardie beelde egter nie die eerstes wat in my gedagtes opflits nie. Een prent wat al byna 22 jaar in my geheue ingeëts is, bly by my opkom – ʼn fikse 24-jarige Joost wat omhoog spring en sy veerkragtigheid ten volle tentoonstel toe mnr Ed Morrison op 24 Junie 1995 die eindfluitjie geblaas het. Jolyt.
Ek onthou hoe ek as ʼn lat van net so oor die ses jaar oud daardie geskiedkundige dag op ʼn plaas net buite Bothaville op oom Basie en tannie Hester se sitkamerbank net soos Joost rondgespring het van pure vreugde. Hoewel die hele span deel had aan daardie dag, was Joost instrumenteel in die oorwinning.
Hierna is my ma elke keer wanneer Huisgenoot ʼn middelblad-plakkaat van Joost ingehad het, gesmeek om daardie uitgawe te koop. Net sodat ek nóg ʼn Joost-plakkaat op ʼn muur in my slaapkamer kon aanbring. Natuurlik het ʼn groot Joost-plakkaat die ereplek bo my bed ingeneem. Boonop het elke seun in die 90’s, wanneer daar agterplaas-rugby gespeel is, baklei oor wie die rol van Joost kan inneem. Want almal wou soos hy wees. Selfs as ek alleen gespeel het, het ek my verbeel dat ek Joost is en die een teenstander na die ander klop op pad doellyn toe, of ʼn prag-duikaangee uitvoer, net soos Joost.
Voor sy uittrede het Joost verseker dat hy vir altyd ʼn plek in die geskiedenisboeke sal hê as die destydse voorste driedrukker (38) asook die Springbok met die meeste toetse (89) agter sy naam. Hoewel hy soms as te groot vir ʼn skrumskakel beskou is, is daar dikwels gesê dat hy ʼn beter rugbyspeler is as ʼn skrumskakel. Hoe waar is dit nie!
Joost het nie net die verbeelding van ʼn rugbymal land aangegryp nie, maar ook van die w êreld. Die respek van sy teenstanders vir die ‘te groot’ en blitsvinnige skrumskakel wat steeds die wêreldrekord vir die meeste toetsdrieë as skrumskakel hou, is bewys hiervan.
Hierdie week het ons ʼn legende gegroet. Iemand wat vir altyd in rugbygeskiedenis opgeteken sal bly. Die Prestik-kolle op elke jong seun se kamermuur lewer genoeg bewys van hierdie feit.
|
RIDDER EN RAMPOKKER |
Deur Wilmarie Brits
Ridder
Vandeesweek se ridder is Eskom wat op 25 Maart 2017 aan Earth Hour deelgeneem het. Dié nasionale kragvoorsiener het ligte vir ʼn hele uur, vanaf 20:30 tot 21:30, afgeskakel en daardeur gemiddeld 420MW krag gespaar.
Die hoeveelheid krag wat Eskom tydens Earth Hour gespaar het, was genoeg om Polokwane of selfs Port Elizabeth vir ʼn uur lank van krag te voorsien.
Earth Hour is ʼn bewusmakingsinisiatief wat oorspronklik in 2007 in Australië ontstaan het, en deur die World Wide Fund for Nature (WWF) georganiseer is. Die fokus van die inisiatief is om bewustheid rondom klimaatsverandering te verhoog. Vanjaar het daar 187 lande asook miljoene individue en organisasies regoor die wêreld aan die inisiatief deelgeneem. Meer as 3 000 landmerke se ligte is vir die geleentheid afgeskakel.
Rampokker
Die handjievol inwoners van Bosbokrand wat Saterdag, 25 Maart, agt klaskamers en ʼn administrasiekantoor van Lamulelani High School deur brandstigting verwoes het, is sonder twyfel vandeesweek se rampokkers.
Daar word berig dat die inwoners glo die skool aan die brand gesteek het nadat hulle vroeër tydens ʼn betoging daarop aangedring het dat ʼn teerpad onmiddellik in die gebied gebou moet word. Wat die inwoners nie besef nie, is dat wanneer hulle ʼn skool deur vandalisme vernietig, ontneem hulle onskuldige kinders van gehalte-onderrig.
Volgens ʼn verklaring wat op 27 Maart deur Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, uitgereik is, het die misdadigers gereedskap, kos en ander waardevolle artikels gevat voordat die geboue aan die brand gesteek is. “Die minister is uiters teleurgesteld om berigte te ontvang van nog ʼn skoolinfrastruktuur wat verwoes is. Misdade soos dié kan nie geduld word nie omdat dit jare se beplanning en dienslewering in die wiele ry,” lui die verklaring van die departement.
Volgens die verklaring het die regering standpunt ingeneem en aangekondig dat skole wat deur vandalisme vernietig word, nie geprioritiseer sal word ten koste van skole wat reeds op die lys is om gebou te word nie.
|
REGSVRAAG |
Bied die nalate om mondelingse getuienis te lewer ʼn grond vir hersiening?
Deur Nicolette Ras
In die aangeleentheid van The South African Social Security Agency v NEHAWU & OTHERS (ongerapporteerde saak) was die aangeleentheid eers na die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) vir die beslegting daarvan verwys. Die aangeleentheid het verband gehou met die skorsing van werknemers van die applikant wat op onbillike arbeidspraktyk neergekom het. Die arbiter het goedkeuring gegee dat die aangeleentheid ingevolge ʼn ooreenkoms wat tussen die applikant en die respondente bereik is op dokumente (stated case) geargumenteer kan word. Dokumentêre getuienis en die partye se skriftelike argumente is dus ingedien en die arbiter het aan die respondente toegegee en minimale kompensasie is toegestaan. Die arbiter het sy beslissing bloot op grond van die dokumente wat voor hom gedien het, gemaak.
Die regsvrae wat hieruit ontstaan, handel oor die rol wat mondelingse getuienis speel en ook of die nalate om mondelingse getuienis te lewer en te oorweeg, ongeag die ooreenkoms tussen die partye, ʼn hersienbare grond is.
Die hof het die volgende aanmerkings en beslissing in die verband gemaak:
- ʼn “Stated Case” is ʼn skriftelike vergadering van feite, soos ooreengekom tussen die partye sodat die arbiter net die toepaslike reg op die ooreengekome feite kan toepas.
- Die volgende vrae moet in die geval van hersieningsaansoeke oorweeg word:
a. |
Het die proses wat die arbiter gevolg het voldoende geleentheid aan beide partye gebied om hul sê te sê oor die dispuut? |
b. |
Het die arbiter die dispuut geïdentifiseer waaroor ʼn beslissing gemaak moet word? |
c. |
Het hy/sy die aard van die dispuut verstaan? |
d. |
Het hy/sy met die substantiewe meriete daarvan gehandel? |
e. |
Is die besluit van die arbiter een waartoe ʼn ander arbiter redelikerwys kon kom op grond van die bewyse voor hom of haar? |
- As die antwoord op al die bogenoemde vrae negatief is, kan daar nie bevind word dat die proses waarvan die arbiter gebruik gemaak het ʼn redelike en behoorlike arbitrasieposes was nie.
- Mondelingse getuienis oor die materiële feite van ʼn dispuut moet ten alle tye aangebied word en arbiters moenie sommer ooreenkomste tussen partye om nie verbale getuienis te lewer nie, aanvaar nie.
|
BOERERAAT VAN DIE WEEK |
Veelsydige gebruike van tandepasta
Deur Wilmarie Brits
Ek sou nooit kon dink dat tandepasta, wat eintlik bedoel is om jou mond ʼn vars voorkoms te gee, vele ander dinge ook kan doen nie. Tandepasta kan jou onder andere help om verskillende dinge in en rondom jou huis skoon te maak. Ek waarborg jou dat as jy eers al die veelsydige gebruike van tandepasta geleer het, jy ʼn ekstra buisie sal aanskaf.
- Kar se hoofligte
Deur tandepasta aan jou kar se hoofligte te smeer en na ʼn tydjie af te was, sal vir jou kar se ligte ʼn nuwe, skoner voorkoms gee.
- Klavier se klawers
Tandepasta sal die vuil aanpaksels tussen die klavier se klawers verwyder.
- Skoene
As jy die oggend voor werk besef jou skoenpolitoer is klaar, moenie bekommer nie. Trek die buisie tandepasta nader – jy kan enige tipe skoen met tandepasta skoonmaak.
- Duikbril wat heeltyd toewasem
Ons almal sukkel met ons duikbrille wat toewasem sodra ons onder water gaan. As jy jou lense met tandepasta skoonmaak, sal dit voorkom dat jou lense toewasem. Die tandepasta los ʼn olielagie agter wat keer dat die lense toewasem.
- Watervlekke op ʼn tafel
Daar is niks so lelik soos ʼn glas wat ʼn waterkring op jou tafel agtergelaat het nie. Tandepasta stel jou in staat om van dié hardnekkige vlekke ontslae te raak.
- Inkvlekke op klere
Om ink van klere te verwyder was baie moeilik – tot nou toe. Jy kan jou ink bevlekte toppie weer splinternuut laat lyk deur tandepasta op die inkkol te smeer, dit oornag te laat staan, en die volgende dag die kledingstuk soos normaal te was.
- Muskietbyte
Daar is min dinge so lastig soos ʼn muskietbyt wat die heeltyd jeuk. Verminder die irritasie deur tandepasta op elke muskietbyt te plaas.
Bron: healthandlovepage.com
|
HET JY GEWEET? |
Mense wat blind word na geboorte kan steeds beelde in hulle drome sien. Mense wat blind gebore word, kan egter nie beelde sien nie, maar hulle drome is net so duidelik en behels hulle ander sintuie soos klank, reuk, tassin en emosies.
Bron: Bored Panda
|
SPREEKWOORD |
Kajuitraad hou (beraadslaag; oorlogsplanne beraam)
Uit die skeepvaart: Dié beraadslaging het vroeër gewoonlik in die kajuit van ʼn gesagvoerder soos die admiraal ter see plaasgevind.
Bron: Dr. Anton Prinsloo, Spreekwoorde en waar hulle vandaan kom.
|
AANHALING |
“Die pessimis sien moeilikheid in elke geleentheid. Die optimis sien ʼn geleentheid in elke moeilikheid.”
- Winston Churchill
|
ATTERBURY TEATER: |
Hoogtepunte by die Atterbury Teater
Vertoning/ geleentheid |
Datum |
Tyd |
Prys |
Haas Das se Nuuskas |
1 April, 2017 |
11:00 - 12:00 |
Prys op navraag |
In die land van Kammalielie (Anna Davel en Nastassja Jooste) |
5 April, 2017 |
10:00 – 13:00 |
R80 |
Haas Das se Nuuskas |
6 April, 2017 |
11:00 - 12:00 |
Prys op navraag |
Songs of Leonard Cohen |
19 April, 2017 |
20:00 - 21:30 |
R150 - R170 |
Kaartjies is by enige Computicket-kantoor beskikbaar of skakel 083 915 8000 om ʼn bespreking te doen. Atterbury Teater is geleë op die hoek van Lynnwoodweg en Daventrystraat in Lynnwood. Skakel die teater by 012 471 1700 of stuur ʼn e-pos na info@atterburytheatre.co.za. |
ATLETIEKKLUB |
Sluit só aan by die Solidariteit Atletiekklub
Word vandag nog deel van die Solidariteit Atletiekklub. Skakel klubvoorsitter Hendrik van der Westhuizen by 082 851 8451 vir meer inligting of stuur 'n e-pos na atletiek@solidariteit.co.za.
|
|