Soldeer


Nr. 706 - 3/11/2016

HOOFSTORIE:

CVO-Orania, eerste privaat skool wat tegniese velde betree
Deur: Juran van den Heever

Die CVO-skool in Orania het in Oktober vanjaar sy nuwe tegniese vleuel by die skool geopen. Dit maak van hierdie privaat skool die eerste van die Onafhanklike Eksamenraad (IEB) se skole om ook volledige tegniese kurrikulums by sy aanbod te voeg. Die aanbod sluit Meganiese, Siviele, Elektriese Tegnologie asook Ingenieursgrafika en -ontwerp in.

Die nuwe, moderne gebou, wat ’n oppervlakte van 1 400 vierkante meter beslaan, is teen R8 miljoen opgerig. Om so ’n groot projek in ’n Karoodorp te onderneem en te laat slaag, was hulp uit alle oorde van kardinale belang. Ouers het met masjinerie opgedaag, diesel is geskenk en vrywillige hande uit die gemeenskap het dié Karoojuweel, die Bo-Karoo Opleidingsentrum, saam gebou. Daar is van die dienste van bouers, vakmanne, verskaffers en kundiges uit die gemeenskap gebruikgemaak.

Solidariteit Helpende Hand het die projek gedeeltelik befonds. Dr. Danie Brink (die uitvoerende hoof van Helpende Hand) en dr. Dirk Hermann (Solidariteit se uitvoerende hoof) het die gebou amptelik op 28 Oktober 2016 geopen. Volgens Brink help Solidariteit Helpende Hand graag waar projekte opgerig word om kinders op te lei en wat ook enige vorm van armoede verbreek en mense ophef.

Die Bo-Karoo Opleidingsentrum sal nie net onderrig bied aan die CVO-skool se leerders nie, maar sal ook opleiding aan persone van buite af aanbied. Die sentrum sal naskoolse lede van die gemeenskap ophef deur opleiding in elektriese werk, enige siviele werk, soos messel- en bouwerk, en ook ander tegniese kwalifikasies aan te bied. Omdat Orania so vinnig uitbrei en verskeie projekte tans onderneem word waar behuisingseenhede in die dorp gebou word, sal hierdie opleiding ten doel hê om die projekte van die beste vakmanne en bouers te voorsien. Daar word ook met Akademia onderhandel om sy graadkursusse in die toekoms plaaslik aan te bied deur lesings na die nuwe ouditorium in die sentrum uit te saai.

Die CVO-skool in Orania sien hierdie mylpaal as ’n begin. Hulle poog om die res van die terrein wat voorberei is, te gebruik om netbalbane en ’n nuwe rugbyveld aan te lê en om koshuise te bou. Hul vyfjaarplan is om 500 leerders te kan akkommodeer en ook om die breër gemeenskap te dien. ’n Projek soos dié, wat deur die gemeenskap vir die gemeenskap gebou word, dien nie net ’n klein groepie mense nie, maar dien die hele gemeenskap en kan mense in die gemeenskap werklik ophef sodat hulle ook met trots hul werk kan verrig en vir hul gesinne kan sorg.

 

SOLIDARITEIT NUUS:

Tem arbeidsverhoudinge by die werkplek self
Deur Gideon du Plessis

Dit is opmerklik dat wanneer kwellende arbeidsverhoudingekwessies op vakbondfederasie-, besigheids- en regeringsleiersvlak hanteer word, die meeste deelnemers baie lank gelede of nie voorheen by dispute oor arbeidsverhoudinge betrokke was nie, maar altyd glo dat ʼn meesterlike oplossing beding is. Die gevolg is dat ʼn ooreenkoms met groot mediafanfare aangekondig word, maar die volgende dag woed arbeidsverhoudingegevegte by die werkplekke voort, want dít is waar arbeidsverhoudinge hulself hoofsaaklik uitspeel.

Met #FeesMustFall wat die nuus oorheers en die algemene vakbondomgewing, Cosatu en die regerende party wat in ʼn warboel verkeer, moet werkgewers nou die geleentheid aangryp om arbeidsverhoudinge op werkvloervlak te stabiliseer sonder die vrees vir hoëvlakinmenging. Dit is opmerklik dat populistiese vakbonde se plaaslike strukture ook nou meer onafhanklik van inmenging deur hul hoofkantoor tydens arbeidsdispute wil optree. So byvoorbeeld wys Amcu-lede deesdae gereeld die deur vir Amcu se leierskap by werkplekke met die boodskap dat besluite op takvlak geneem sal word. Die voormalige Amerikaanse politikus, Tip O’Neill, se stelling, “all politics is local,” is so relevant in die arbeidsverhoudinge-omgewing.

Soos #FeesMustFall is arbeidsverhoudinge gekompliseerd met verskuilde agendas en as werkgewers nou die magsbalans en arbeidsvrede op werkvloervlak wil herstel, sal hulle slimmer moet onderhandel, maar ook die diepliggende dinamika agter arbeidsverhoudinge moet verstaan.

Loononderhandelinge is die algemeenste arbeidsverhoudingeproses, maar min werkgewers en analiste besef wat ágter ʼn populistiese vakbond se looneis skuil – onrealistiese looneise is selde die gevolg van arm werkers wat ʼn beter lewe verlang of die toepassing van ʼn uitgediende “Chinese bargaining” onderhandelingsmodel, maar eise spruit voort uit hoë verwagtinge wat vakbondamptenare gedagtig aan hul eie agenda skep. Populistiese vakbonde onderhandel loonverhogings onder meer om hul eie vakbondinkomste te verhoog deurdat 1% van werkers se lone aan vakbondlidmaatskapgeld betaal word. Dit beteken dat die persentasieverhoging waarmee vakbondlede se lone verhoog word, die verhoging is wat ʼn vakbond aan ledegeldinkomste gaan kry – nogal kapitalisties, kamerade!

Andersins poog vakbonde om lede by hul opposisie af te rokkel deur ʼn hoër looneis as ʼn ander vakbond in te stel. Dit maak gewoonlik ʼn groot indruk op ongeletterde werknemers. Verder gebeur dit dat wanneer ʼn vakbond se leierskapsverkiesing deur loononderhandelinge voorafgegaan word, vakbondamptenare hul kanse op herverkiesing wil verhoog deur uitspattige looneise in te stel.

In reaksie op onrealistiese looneise maak werkgewers, soos universiteitsbesture en die minister van hoër onderwys met #FeesMustFall, die fout om nie bloot “nee” te sê as daar nie aan ʼn eis voldoen kan word nie. Deur ʼn onrealistiese eis te entertain, skep dit die verwagting dat die eis kan realiseer en gee dit verder aanleiding dat doelpale verskuif word weens verdere eise wat op die tafel geplaas word.

Dan is dit onverstaanbaar dat werkgewers nie teeneise tydens loononderhandelinge instel nie. Werkplekafwesigheid en lae produktiwiteit is groot uitdagings vir werkgewers, maar werkgewers koppel meestal nie hul loonaanbod aan ʼn teenprestasie soos ʼn produksie teiken of aanwesigheidbeleid om dié probleme aan te spreek nie. Werkgewers moet ook meer waag deur ʼn loonsverhoging aanbod aan ʼn moratorium op afleggings of werkskepping program te koppel, wat in die huidige hoë werkloosheidsklimaat groot aftrek by vakbonde sal kry.

Nog ’n fout wat groot werkgewers tydens loononderhandelinge maak, is dat uitvoerende hoofde by dispute betrokke raak, wat meebring dat hul mensehulpbron-onderhandelingspan hul status en gesag verloor. Omdat ’n presedent geskep is eis vakbonde dan tydens ʼn loonsdispuut dat daar verder met die uitvoerende hoofde onderhandel word. Só verkry vakbonde die grootste deurbrake en word toegewings gemaak, want hoewel uitvoerende hoofde gekompliseerde kommersiële kontrakte kan beding, snap hulle nie altyd die dinamika van ʼn loondispuut nie en het hulle ook nie die geduld en aanvoeling wat geverg word nie.

Tydens loononderhandelinge vergeet talle werkgewers ook dat vakbondlede eintlik hul werknemers is en dat niks hulle verhoed om direk met hul werknemers te kommunikeer en hul posisie te verduidelik nie. Tydens vakbond massavergaderings word daar gewoonlik ʼn skewe prentjie oor die onderhandelinge aan werkers geskets indien die vakbondleiers ʼn staking in gedagte het wat vir ʼn vakbond en vakbondleiers goeie mediadekking bied en ʼn geleentheid om aan hul struggle credentials te werk indien hul voor 1994 te jonk was om aan die werklike vryheidstryd deel te neem.

’n Verdere swakpunt van werkgewers is geleë in hul hantering van onbeskermde stakings en werkplekgeweld wat sedert Marikana toegeneem het. Tot nadeel van werkers en gematigde vakbonde het min werkgewers die ruggraat om militante vakbonde vir skadevergoeding en produksieverliese te dagvaar en ook om werknemers wat hulle aan growwe wangedrag skuldig maak, af te dank – die magsbalans word dus nie herstel nie.

Die magstryd tussen vakbonde wat spanning binne en buite ʼn onderhandelingsproses skep, kan ook ontlont word indien daar met die ondemokratiese meerderheidsbeginsel van vakbond erkenning weggedoen word. Om sekere voorregte en voordele aan ʼn vakbond se representativeness te koppel, veroorsaak bloot wedywering wat nie net spanning by die werksplek skep nie, maar ook tot lewensverliese lei. Die tyd en energie wat werkgewers vermors om vakbond erkenningsooreenkomste te onderhandel, kan eerder gebruik word om ʼn onderhandeling protokol en vredesakkoorde te onderhandel.

Laastens, ʼn les wat werkgewers uit universiteite se foute moet leer, is om nooit op te hou om met vakbonde buite ʼn formele onderhandelingsfase oor broeiende of onafgehandelde kwessies in ʼn meer ontspanne atmosfeer dialoog te voer nie, want só word verhoed dat brandpunte skielik opvlam of ʼn uitstaande aangeleentheid, later ʼn beginselkwessie word.

 

Ontslag van ʼn werknemer sonder bewys van skending van vertroue
Deur Gavin Stansfield en Zola Mcaciso

Die aard en erns van wangedrag kan genoeg wees om die afleiding te maak dat ʼn skending van vertroue plaasgevind het sonder om getuienis aan te voer om die skending te bewys.

In ‘n spesifieke geval is die werknemer onstlaan deur Easi Access Rental na skuldigbevinding op vyf aanklagte van wangedrag, insluitend oneerlikheid en growwe nalatigheid. Die werknemer, ʼn betaalbeampte, het al die werkgewer se betaalstaat-inligting aan ʼn medewerknemer openbaar. Gegrief deur die uitkoms van die dissiplinêre verhoor, het die werknemer ʼn onregverdige ontslag-dispuut na die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA, oftewel CCMA) verwys. Die Kommissaris het bevind dat die ontslag onregverdig was en vergoeding aan die werknemer toegeken. Die werkgewer het die saak na die arbeidshof verwys vir hersiening.

Die Kommissaris se bevinding was gebaseer op twee gronde, eerstens dat hy die werknemer nie skuldig bevind het op al die aanklagte teen hom nie, en tweedens, dat geen getuienis deur die werkgewer voorgelê is om aan te toon dat die vertrouensverhouding tussen die partye geskend was nie.

Met betrekking tot die vertrouenskwessie het die Kommissaris staatgemaak op die 2009 Hoogste Hof van Appèl-beslissing in Edcon Bpk v Pillemer N.O en Ander, waar die hof bevind het dat die ontslag van ʼn werknemer onvanpas was waar ʼn werkgewer beweer het die werknemer is ontslaan omdat die vertrouensverhouding geskend was en toe nagelaat het om getuienis voor te lê om hierdie aantyging te staaf/ondersteun.

In die arbeidshof het die regter in die huidige saak bevind dat die Kommissaris die Edcon-uitspraak misinterpreteer het om te meen dat as daar geen direkte getuienis is van die skending van die vertrouensverhouding nie, die ontslag onregverdig sou moes wees. Dit is ʼn eensydige vertolking van die beslissing.

Die regter het bevind dat in gevalle waar direkte getuienis van die skending nie voorgelê is nie, moet die ondersoek na die regverdigheid van die ontslag deur die Kommissaris ʼn bepaling insluit van of die skending nie deur die aard van die oortreding afgelei kan word nie. In ondersteuning van hierdie posisie, het die regter verwys na Departement van Binnelandse Sake en ʼn Ander v. Ndlovu, waar die hof voorgehou het dat die werkgewer ʼn verpligting het om getuienis te lei om ʼn ontslag te regverdig, tensy natuurlik die gevolgtrekking van ʼn geskende verhouding duidelik is uit die aard van die oortreding en/of omstandighede van die ontslag.

In die vasstelling van die regverdigheid van die sanksie, moes die aard van die oortreding, erns van die wangedrag en die omstandighede van die saak dienooreenkomstig oorweeg word. Hierdie beslissing illustreer die punt duidelik dat hoewel getuienis met betrekking tot die skending van die vertrouensverhouding tussen die partye in ʼn ontslagsaak van kritiese belang is in die assessering of andersins van die ontslag, waar geen sodanige getuienis voorgelê is nie, moet die Kommissaris steeds bepaal of die skending in die vertrouensverhouding nie afgelei kan word uit die aard van die wangedrag en die omliggende omstandighede as geheel nie.

Bron: Cliffe Dekker Hofmeyr

 

Werkgewers moet geleentheid aangryp om arbeidsverhoudinge te stabiliseer

Solidariteit se hoofsekretaris Gideon du Plessis skryf dat arbeidsverhoudinge, net soos in die geval van #FeesMustFall, gekompliseerd is en deur versteekte agendas gekenmerk word. Hy het ook daarop gewys dat arbeidsverhoudinge op werkvloervlak hanteer moet word.

As werkgewers dus nou die magsbalans en arbeidsvrede op werkvloervlak wil herstel, sal hulle slimmer moet onderhandel, maar ook die diepliggende dinamika agter arbeidsverhoudinge moet verstaan. Du Plessis wys daarop dat in die lig daarvan dat die algemene vakbondomgewing, Cosatu en die regerende party in ʼn warboel verkeer, werkgewers nou die geleentheid moet aangryp om arbeidsverhoudinge op werkvloervlak te stabiliseer sonder vrees vir hoëvlakinmenging. 

Dit is ook opmerklik dat die plaaslike strukture van sekere populistiese vakbonde tydens arbeidsdispute deesdae meer onafhanklik van inmenging deur hul hoofkantoor wil optree.

Dit is ook so dat wanneer kwellende arbeidsverhoudingekwessies op vakbondfederasie-, besigheids- en regeringsleiersvlak hanteer word, die meeste deelnemers nie voorheen by dispute oor arbeidsverhoudinge betrokke was nie, maar altyd glo dat ʼn meesterlike oplossing beding is. Die gevolg is dat ʼn ooreenkoms met groot mediafanfare aangekondig word, maar die volgende dag woed arbeidsverhoudingegevegte by die werkplekke voort, want dít is waar arbeidsverhoudinge hulself hoofsaaklik uitspeel.


5 maniere om nou vir jou somervakansie te begin spaar
Deur Dr. Eugene Brink

As daar twee dinge is wat hierdie tyd van die jaar ons gedagtes oorheers, is dit ‘Hoe gaan ek ʼn fantastiese somervakansie bekostig?’ en ‘Hoe gaan ek in my baaibroek pas wat ek verlede jaar aan die einde van die somer gekoop het?’

En alhoewel jy die beplanning vir beide tot op die laaste nippertjie gelos het, kan ons jou ten minste help om van daardie ekstra kontant bymekaar te maak om vir ʼn ordentlike Desember-uitspan te kan betaal. Is egter nie so seker wat jy omtrent daardie baaibroek gaan doen nie.

Hier volg dus vyf dinge wat jy onmiddellik kan doen om ʼn bietjie ekstra geld vir ʼn fabelagtige vakansie op te diep:

1. Hou op uit-eet

Om die waarheid te sê, dit kan jou help met die hele baaibroeksituasie. Ons bedoel nie net ‘hou op om deftige etes by te woon’ nie (alhoewel dit ook sal help), ons bedoel hou heeltemal op om uit te eet in die weke wat jou vakansie voorafgaan. Dit beteken alles. Jy en jou bankrekening gaan op ʼn ernstige besparingsdieet.

Geen lattè-koffie meer op pad werk toe nie, geen kantienburger vir middagete nie, nie eers ʼn skelm versnapering uit die kantoor se snoepiemasjien nie. Maak jou eie toebroodjies en hou ʼn smulsakkie met vrugte, grondboontjies en ander goedkoop versnaperings byderhand vir wanneer die hongerpyne knaag.

En bly weg van die winkels af totdat jy eerlikwaar nie meer kos in die huis het nie.

2. Stap

Dit mag in der waarheid help om jou agterstewe te verslank in tyd vir die Speedo-seisoen. Wanneer ook al moontlik, stap na jou bestemming toe in plaas van om te ry. Veral winkels toe. As jy al die items wat jy nou net gekoop het self moet dra, sal jy meer geneig wees om ʼn onnodige (en swaar) impulsiewe kopie terug te sit.

3. Vries jou luukse subskripsies

Goed, haal asem, gaan sit. Hierdie een gaan moeilik wees. Vries enige betalings op jou rekening wat nie absoluut noodsaaklik is nie: jou gim, jou satelliet TV, enige tydskrifte of speletjies (insluitend die wat aanlyn is; moenie dink jy gaan by die ‘Spaarpolisie’ verbykom nie).

Gaan draf, lees ʼn boek, drink tee in die park saam met ʼn vriend. Gebruik hierdie tyd om die eenvoudige dinge te herontdek en geniet. En wanneer jy jou subskripsie hernu, kan jy opvang met al die TV-reekse wat jou vriende ongetwyfeld alreeds vir jou bederf het.

Dit is die opofferings wat ons maak.

4. Ruil daardie rommel in jou kas vir kontant

Ons praat van ʼn kattebak-uitverkoping!

Jy het sekerlik klere, snuisterye, ou DVD’s, toerusting en, jy weet, rommel wat jy nie meer benodig nie? In plaas daarvan dat dit jou garage beklotter, kan dit help om vir jou vliegtuigkaartjies na *Zanzibar te betaal!

*Of ten minste na P.E.

5. Gaan na of jy nie te veel vir versekering betaal nie

Sommige versekeringsmaatskappye blaas hulle premies op om “kontant terug-bonusse” toe te laat, so dis die moeite werd om ʼn paar kwotasies in te win om seker te maak jy betaal die laagste bedrag moontlik vir dieselfde gehalte dekking.

Dit maak ook sin om jou polisse te konsolideer waar moontlik. Om op jou versekering te bespaar kan jou elke maand ʼn netjiese bedraggie in die sak bring.

Bron: King Price Versekering

 

Jou kind mag maar nee sê
Deur Karen van der Berg

Ouerskap is nie ‘n geringe taak nie. Alle ouers probeer hul kinders leer om mededeelsame mense te wees wat andere se behoeftes raaksien.

Maar hoe leer ek my kind om ordentlik te wees sonder om sy of haar selfrespek prys te gee. Is dit ooit nodig? Is dit moontlik?

Marie Venter, ’n opvoedkundige sielkundige van Johannesburg, sê ouers praat gereeld oor goeie maniere en om waardes aan hulle kinders te leer.

“Dit kan ongelukkig gebeur dat ’n mens soveel klem daarop plaas dat die teenoorgestelde ook gebeur. Jou kind se maniere is so goed, hy is so ingestel op andere se behoeftes en probeer altyd die minste wees dat hy in die proses sy eie menswaardigheid daarvoor ingeruil het.”

Daarom, meen sy, moet daar ’n baie fyn balans gehandhaaf word.

Sy gee graag die volgende wenke:

  • Om ordentlik te wees, beteken nie jy hoef altyd terug te staan nie. Sodra jou kind dit verstaan en weet hy of sy is op ’n mening geregtig, is die stryd reeds halfpad gewonne. Marie sê daar moet eerder klem geplaas word op hoe ’n mens moet kommunikeer, wat jou liggaamshouding uitstraal en jou woordkeuses. Dit is veral ’n moeilike vaardigheid om aan kinders te leer omdat hulle baie van digitale kommunikasie gebruik maak.
  • Jou dogters het meer hulp nodig: Dogters is meestal baie ingestel daarop om goeie maniere te wys terwyl seuns geprys word as hulle risiko’s neem of dapper is. Marie sê dit is daarom meestal dogters wat onder druk is om ordentlik te wees en hulle sukkel meer daarmee om hulle eie behoeftes oor te dra. “Help daarom jou dogter om haar eie behoeftes te erken en leer haar dit is nie ongeskik om ook bewus van haar eie voorkeure te wees nie.”
  • Jou eie optrede moet altyd ’n voorbeeld vir jou kinders wees. Dit is geen geheim dat jou optrede baie meer tot jou kinders spreek as dit wat jy hulle vertel nie, sê Marie. Sy sê daarom het ouers die belangrike taak om altyd eers na hulle eie optrede te kyk en daaraan aandag te gee. Indien jy daarin kan slaag om ordentlik te wees maar steeds op ’n regverdige manier te sê hoe jy voel, maak jy reeds daardie deur vir jou kinders oop om ook so op te tree. Sy sê ouers moet ook twee keer dink voor hulle inmeng wanneer kinders met hulle vriende baklei. Hulle moet leer om die situasies sonder jou te hanteer en dit is die enigste manier hoe hulle vaardighede gaan kry.
  • Leer jou kind om bewus van hulle self te wees: Marie sê doen dit deur tegnologie af te skakel en tyd saam met hulle deur te bring en hulle regtig goed te leer ken. Om saam te eet, is veral belangrik as julle werklik saam tyd wil deurbring.


5 onderhoud-foute wat voorbereide mense steeds maak
Deur Lauren Laitin

Nou ja, jy het die werwer se siftingsoproep geslaag en die onderhoud is gereël. Natuurlik wil jy baie goed vaar en jy gaan deur jou kontrolelys van goed wat jy moet doen om gereed te wees. Soms is dit egter net so belangrik om die goed te onthou wat jy nie moet doen nie. Selfs die slimste en belowendste kandidate trap op die groot dag by tye klei tydens hierdie sleuteldeel van die proses.

Hier onder is vyf foute wat jy waarskynlik gemaak het sonder om daarvan bewus te wees. As jy hulle vermy, sal jy waarskynlik langer ʼn aanspraakmaker wees.

1. Jy weet nie hoekom jy daar is nie

As jy lank gesoek het of jy smag na verandering is dit maklik om die belangrikheid van ʼn kritiese oog te vergeet. Vandag se manier om net op ʼn knoppie te klik, maak dit baie maklik om outomaties aansoek te doen. Goed, dit kan jou by die onderhoud kry maar dit sal nie vir jou die werk kry nie. Om na daardie vergadering te gaan sonder ʼn baie duidelike begrip van hoekom jy belangstel en hoekom jy die perfekte persoon vir die pos is, sal sleg eindig vir jou.

So, benewens navorsing oor die maatskappy (wat almal weet ʼn moet is), moet jy ook jouself ondersoek. Hoe pas hierdie pos by jou groter doelwitte in? Watter vaardighede sal jy by hierdie maatskappy kan ontwikkel en hoekom maak dit vir jou saak? Hoe het jou vorige poste jou vir hierdie geleentheid voorberei? Kan jy hierdie pos vereenselwig met wat vir jou belangrik is? Die antwoorde op vrae soos dié sal dit vir jou duidelik maak wat dit is waarvan jy hou aan die pos en wat jy daaruit wil haal. Kortom, dit sal jou daaraan herinner dat jy ook ʼn besluitnemer is in hierdie spel.

2. Jy het vergeet om jou energie saam te bring

Jy moet so uitgerus as moontlik opdaag. Ja, adrenalien kan vir ʼn ruk werk en jou gefokus en skerp hou, maar wanneer dit uitwerk, los dit jou verlep. Werkgewers stel mense aan wat selfgemotiveer en gefokus is: hulle wil weet dat jy energie en dryfkrag aan die span sal oordra. Om die waarheid te sê, baie maatskappye sal wil weet dat jy hard kan werk en hard kan speel.

Nie alleen moet jy wakker wees tydens die gesprek nie, maar jy moet ook voluit deelneem as die maatskappy se missie bespreek word. As jy nie geesdriftig voel by die onderhoud nie, is dit moeilik om mens voor te stel dat jy op enige gegewe dag geesdriftig oor jou werk sal voel. Daar is baie maniere om ʼn bietjie woema by die onderhoud te voeg, soos om op te staan (as dit ʼn telefoniese onderhoud is) en te glimlag (as dit persoonlik is). Wees ook gereed om ʼn gepaste storie te vertel wat jou goed laat lyk. Selfs al het jy die storie al 1 000 keer vertel ─ maak seker dat dit jou met trots, geluk of ʼn gevoel van sukses vul. Entoesiasme is aansteeklik en die onderhoudvoerder sal jou dryfkrag en vasbeslotenheid aanvoel.

3. Jy laat jouself in ʼn wip vang

Dit maak nie saak hoeveel negatiewe gedagtes jy oor jou huidige of vorige werkgewer koester nie, hou dit vir jouself. Om jou uit te laat daaroor stel nie net vir jou in ʼn slegte lig nie maar sal ook die onderhoudvoerder laat wonder wat jy oor hom of haar gaan sê as dinge nie goed gaan nie. Maar soms, selfs met die beste voornemens, word mens gekonfronteer met ʼn vraag oor dít waarvan jy in jou huidige pos of maatskappy nie hou nie.

As jy in ʼn hoek gedryf word, wees eerlik maar ook strategies. As jy nuwe werk soek omdat jy moeg is van die kantoorkultuur, identifiseer ʼn konkrete rede waarom jy ʼn skuif wil maak. Jy wil byvoorbeeld in ʼn ander rigting spesialiseer, of jy wil ʼn nuwe tipe verantwoordelikheid hê, of jy is gereed vir die uitdaging om ʼn nuwe aspek van die besigheid te leer. Dit sal die vraag effektief beantwoord sonder om jou karakter in gedrang te bring.

4. Jy staar na die muur

Hierdie een lyk ooglopend, maar is tog vir baie kandidate ʼn probleem. Jy moet kontak maak om die werk te kry. Die maklikste manier om dit te doen, is om oogkontak te maak. (Nog ʼn rede om hieraan te werk: ʼn gebrek aan oogkontak kan ʼn aanduiding wees dat jy ongemaklik en onseker is, of selfs dat jy jok.)

Hierdie eenvoudige gebaar sê “Ek luister na wat jy sê”. As dit vir jou ʼn uitdaging is, oefen met vriende. Per slot van sake, jy moet op die persoon gefokus bly die heel tyd dat hy of sy praat, selfs al kry die onderhoudvoerder dit nie so goed reg om jou in die oë te kyk nie. Dis altyd lekker as daar aan albei kante goeie onderhoudvaardighede is, maar jy kan net jou eie kant beheer. Behalwe om dit duidelik te stel dat jy die beste persoon vir die werk is, moet jy ook let op wat jou lyftaal sê of nie sê nie. Professionele wenk: doen wat die indiensnemingsbestuurder doen — dit verrig wondere.

5. Jy kan nie ophou borrel oor hoe baie jy van die maatskappy hou nie

Dit is ongetwyfel belangrik om entoesiasties te wees, maar ek sou eerder iemand wou hê wat ʼn bietjie blasé is as iemand wat die heel tyd opgemaakte stories wil vertel. Weet wat aangaan, weet waaroor die maatskappy gaan, maar moet dit nie oordoen nie. Bly binne perke met ʼn paar opmerkings oor die aspekte van die maatskappy waarvan jy werklik hou. Jy kan ʼn artikel of twee of ʼn mediaberig noem wat jy raakgeloop het, maar moenie elke geringste stukkie of berig noem met die hoop dat dit jou die werk sal laat kry nie.

Hoewel dit waar is dat baie organisasies wil sien dat die kandidaat werklik daarin belangstel om daar te werk, soek die meeste nie na ʼn obsessiewe uitstorting van liefde en bewondering nie. Bly binne perke en wees oordeelkundig met die lofprysing.

As jy hierdie foute kan vermy, sal jy slaag by die onderhoud en weggaan met die wete dat jy alles moontlik gedoen het ─ en niks wat jy nie veronderstel was om nie te doen nie. Selfs al besluit jy die betrekking is nie reg vir jou nie sal jy beter daaraan toe wees want jy het hierdie netelige deel van die proses oorwin en sal selfs meer voorbereid wees vir die volgende een. Kort voor lank sal jy wel uitkom by ʼn maatskappy wat reg is vir jou.

 

SOLIDARITEIT BEWEGING NUUS:

AFRIFORUM

Zuma moet onmiddellik afgedank en vervolg word
Deur Mariska Batt

Die burgerregte-organisasie AfriForum is van mening dat die ingrypende gebeure vandag rakende die staatskapingsverslag en die kommer wat adv. Thuli Madonsela oor Jacob Zuma en onbehoorlike gedrag deur staatsamptenare hierin uitgespreek het, vereis dat Zuma afgedank en strafregtelik vervolg moet word.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, is Zuma oneerlik, sonder ’n greintjie integriteit en ’n enorme verleentheid vir die land.

“Dis tyd dat daar van hom ontslae geraak word.”

AfriForum gaan die inhoud van die verslag bestudeer en strafregtelike klagtes by die polisie indien teen individue wat daarin geïmpliseer word.

 

SOLIDARITEIT HELPENDE HAND
Departement maak ’n vinnige besluit na GeRAT druk op hulle plaas
Deur Marlien van der Westhuizen

Solidariteit Helpende Hand se Genootskap vir Regte Afrikaanse Taalonderwysers (GeRAT) het die departement van basiese onderwys (DBE) aangevat oor hulle stilswye aangaande die voorgeskrewe literêre werke vir 2017.  Kort na die vergadering het die departement vinnig reageer om van die voorgeskrewe werke aan die media bekend te maak.

Die departement van onderwys het tot gister geswyg oor wat die voorgeskrewe literêre vir Afrikaans Huistaal in 2017 gaan wees. Die vertraging het geweldige druk op onderwysers en skoolhoofde geplaas. Om hierdie rede het GeRAT ’n vergadering met die onderwysdepartement belê om die situasie te bespreek.

Hannie Viljoen van GeRAT en Andre Stolz van Andre Stolz Produksie het op 27 Oktober 2016 ’n vergadering met die departement se LTSM en MST Curriculum  & Quality Enhancement Programmes gehad. Tydens die vergadering is daar aangedring dat die voorgeskrewe werke bekendgemaak word om verdere probleme te vermy.

Volgens Viljoen het die departement die afgelope agt jaar al gefaal in deeglike kommunikasie aan onderwysers wat hulle genoegsame tyd vir voorbereiding gee. “Tot hier toe en nie vêrder nie. Ons is gerat om hierdie sake in die lig te bring en elke taalonderwyser die nodige steun te gee wat hulle verdien. Dit is nie net Afrikaans nie, maar elke taal in Suid-Afrika wat onder die departement se laksheid ly,” sê Viljoen. “Daar is min dinge wat ’n mens se hare so laat rys soos wanneer ’n lid van GeRAT, ’n bekwame onderwyser, vir jou sê ’n provinsiale verteenwoordiger van die departement het vir haar gesê onderwysers moet net “chill”  oor die voorgeskrewe werke wat die tyd van die jaar nog steeds nie bekend is nie.”

Andre Stolz, verantwoordelik vir opvoerings aan skole van Afrikaanse voorgeskrewe werke (o.a. ‘Mis’ van Reza de Wet, ‘Krismis van Map Jacobs’ van Adam Small en ‘My Japan’  geskryf deur Schalk Schoombie),  meen dat hulle daarin geslaag het om die uiterse dringendheid van die saak by hulle tuis te bring. “Die vergadering met die Departement is juis om lig op die onsekerheid te werp. Ek het ‘n versoek gerig dat die direkteur-generaal ons teen Maandagoggend ‘n finale antwoord moet gee,” sê Stolz.

GeRAT het verlede week ’n opname onder sy meer as 600 lede (Afrikaans huistaalonderwysers) gedoen oor die impak van die vertraging op hulle werk. Volgens 45% van die respondente word hulle voorbereiding die ergste benadeel, 26% word hulle beplanning en 28% die kwaliteit van onderwys beïnvloed.

Volgens die opname word nie net die onderwysers benadeel nie, maar die hele onderwyssisteem. Probleme wat na vore tree is die gebrek aan genoegsame tyd om voor te berei, begrotings en aanstellings was skole rooi in die gesig laat. Vir 36% van die onderwysers is Mei maand die laatste datum waarop hulle die lys van voorgeskrewe werke kan ontvang en steeds gehalte onderwys bied. ‘n Verdere 36% glo dat einde Julie ’n aanvaarbare tyd is.

Hierdie inligting is van onskatbare waarde en GeRAT gaan dit aan die departement verskaf om ’n beter prentjie te skets van wat op grondvlak aangaan. Volgens Hugo Vermeulen van die Skoleondersteuningsentrum van Solidariteit Helpende Hand, sal GeRAT voortaan as waghond optree om seker te maak dat daar nie weer ’n vertraging in die proses is nie.


KRAAL UITGEWERS

Koos én Nonnie de la Rey – twee boeke, een spesiale prys

Koos de la Rey, die legendariese Leeu van die Wes-Transvaal, en sy eggenote, Nonnie de la Rey, het albei uitsonderlike lewensverhale: Koos, as Boeregeneraal wat veral gedurende die Anglo-Boereoorlog as dappere leier na vore getree het, en Nonnie, as pioniersvrou en moeder wat vir agtien maande lank gedurende dieselfde oorlog met haar kinders in die veld rondgeswerf het.

Albei se biografieë is by Kraal Uitgewers beskikbaar en is nou teen ʼn spesiale prys as ʼn pakket beskikbaar. De la Rey: ʼn Stryd vir vryheid (die derde boek in Kraal Uitgewers se gewilde Erwe van ons vaad’re-reeks) en Nonnie de la Rey: Pionier van die Wes-Transvaal, 1856-1923 is beskikbaar teen slegs R500 (posgeld uitgesluit). Kontak Kraal Uitgewers by 012 644 4329 of stuur ʼn e-pos na kraal@kraaluitgewers.co.za om van hierdie spesiale aanbieding gebruik te maak of om een van dié boeke apart aan te koop.


RUBRIEKE:

BEDRYFSBROKKIES

Amplats mik na gemeganiseerde produksie van 80% maar tydlyn uitgestel na 2027 ná prysinsinkings

Volgens Mining Weekly, is die platinumprodusent Anglo American Platinum (Amplats) besig om ’n reeks gemeganiseerde tegnologieë te ontwikkel en beoog om teen 2027 80% van sy platinum deur middel van gemeganiseerde mynmetodes te produseer.

Frik Fourie, die hoof van Amplats se myndienste, sê die maatskappy het in 2011 begin om die strategie te implementeer. In daardie stadium was die bedoeling om die doelwit teen 2023 te bereik; weens die “insinking in platinumpryse” die afgelope vyf jaar is die tydlyn egter met ’n verdere vier jaar verleng. “Ons het toe (in 2011) besluit dat as ons as die wêreld se grootste platinumprodusent nie verandering teweegbring in hoe die platinumbedryf bedryf word nie, niemand anders dit gaan doen nie.”

 

MY WERK

Los jou werk by die kantoor
Deur Wilmarie Brits

Elke persoon se werkslewe word by die dag meer kompeterend soos wat die tegnologie ontwikkel en bestuurders se verwagtinge toeneem. Die beskikbaarheid van sogenaamde gerieftegnologie, soos byvoorbeeld selfone, tuisrekenaars en tablette, het die eens heilige lyn tussen persoonlike en professionele tyd laat vervaag. ʼn Studie het getoon dat een derde van mense wat op kantoor werk, saans werk huis toe neem.

In hierdie gejaagde tyd waarin ons leef en ’n verhoogde werklading wat hanteer moet word, moet werknemers, waarvan die meeste ook ouers is, hul werk- en familielewe van mekaar skei om uitbranding te voorkom. Hier volg vier maklike wenke om jou te help om jou werk by die kantoor te los.

1. Stel duidelike prioriteite

Vra jouself af watter take vir jou die belangrikste is, want sodra jy nie ’n onderskeid kan tref tussen wat belangrik is en wat nie belangrik is nie, gaan jy al jou take oor dieselfde kam skeer en jouself oorlaai. Prioritiseer jou take volgens belangrikheid sodat jy makliker kan besluit hoe om elke taak te hanteer.

2. Jy moet altyd realisties wees

Kyk na hoeveel werk jy het. As daar nog te veel werk is wat jy nog moet hanteer, moenie jou werklading verhoog deur nóg take op jou te neem nie. Dit is hoekom spanwerk so belangrik is in die werkplek. Sodra die span goed saam funksioneer, kan jy met ʼn geruste hart die werk onder die span verdeel en die sekerheid hê dat die werk gedoen sal word.

3. Organiseer jou tyd

Dit is van kardinale belang dat jy self die bestuurder van jou eie tyd moet wees. Maak tyd vir jouself in die oggend om jou dag te beplan. Probeer om van daar af aan net op een taak op ʼn slag te fokus en dit af te handel. As dit kom by vergaderings, maak seker almal hou by die agenda. Mense is geneig om tyd in ʼn vergadering te mors deur van die agenda af te dwaal.

4. Maak gebruik van tegnologie, maar moenie dat dit jou baas word nie

Ons almal weet dat jou tablet, selfoon en skootrekenaar jou beste vriend kan wees, maar dit kan ook jou grootste vyand wees. As jy noodgedwonge van die huis af moet werk, skep ʼn tydgleuf waarin mense jou in die hande kan kry, byvoorbeeld van 18:00 tot 20:00. As jy ʼn vasgestelde tyd het vir besigheid waarvan almal bewus is, hoef jy nie skuldig te voel as mense jou nie buite daardie ure in die hande kan kry nie.

 

MY GESONDHEID

Waarom gereelde gesondheidsondersoeke belangrik is
Saamgestel deur Medihelp
(Vir be-kostigbare voordele-opsies, SMS “solidariteit” na 32291.)

Voorkoming is beter en goedkoper as genesing. Ons hoor hierdie stelling gereeld en stem heelhartig daarmee saam, maar doen ons regtig alles in ons vermoë om te keer dat ons gesondheidsprobleme ontwikkel? Dis nou die beste tyd om ’n afspraak met jou gesondheidsorgverskaffer te maak en al die belangrike gesondheidstoetse te laat doen.

Hoe gereeld moet jy vir gesondheidsondersoeke gaan?

Dit hang af van faktore soos jou ouderdom, algemene gesondheid, leefstylkeuses, aktiwiteitsvlak en familiegeskiedenis. Ouer persone moet meer gereeld ondersoek word vir kanker, hoë cholesterol en diabetes, terwyl jonger persone getoets moet word vir virusse, kindersiektes en allergieë.

Waarom moet jy gereeld gesondheidsondersoeke laat doen?

Jou gesondheidsorgverskaffer weet watter gesondheidstoetse, behandelings, fisieke ondersoeke en siftings belangrik is om potensiële gesondheidsprobleme en -risiko’s te identifiseer. Indien sekere mediese toestande vroegtydig bespeur word, is die kanse beter dat dit suksesvol behandel kan word en dat jy ’n gesonder, gelukkiger lewe kan lei.

Sien potensiële gesondheidsrisiko’s vroegtydig raak

Jou gesondheidsorgverskaffer sal jou bloeddruk meet, jou cholesterol- en bloedglukosevlak toets, en ’n liggaamsmassa-indeksmeting doen om jou algemene gesondheidstoestand te bepaal. Hierdie toetse kan help om moontlike gesondheidsprobleme te identifiseer voordat dit in ernstige siektes omsit. Maak dus ’n afspraak met jou gesondheidsorgverskaffer sodra jy bewus raak van enige potensiële gesondheidsrisiko’s.

Besnoei gesondheidsorgkoste

Doktersbesoeke is duur en kan sommige mense ontmoedig om hul gesondheidsorgverskaffer te besoek, maar deur gereelde ondersoeke te vermy loop jy die risiko om ernstige (en voorkombare) siektes te ontwikkel wat later selfs nog duurder behandeling soos uitgebreide mediese sorg of chirurgie sal benodig.

Indien die hoë koste van mediese sorg keer dat jy belangrike gesondheidstoetse kry, sluit by ’n mediese fonds aan wat kan help om hierdie uitgawes te dek.

Watter gesondheidstoetse is belangrik?

Bloeddrukmeting

Hoë bloeddruk kan verskeie ernstige gesondheidsprobleme veroorsaak, insluitend beroerte, hartsiekte en niersiekte. Jy behoort jou bloeddruk ten minste een keer per jaar te laat meet. Jou gesondheidsorgverskaffer sal tydens die ondersoek raad gee oor hoe jy jou bloeddruk kan beheer. Jou dokter kan moontlik ook toetse aanvra om niersiektes te identifiseer asook jou risiko om diabetes te ontwikkel.

Cholesteroltoets

Cholesterol is vet wat in die bloed deur die liggaam vervoer word. Hoë cholesterol word nie net geassosieer met oorgewig en ’n ongesonde dieet wat ryk aan vette is nie – dit kan enigeen affekteer ongeag hul ouderdom of gewig. Indien ’n oormaat cholesterol in jou are aanpak, verhoog die risiko van ’n hartaanval of beroerte.

Borstoetse

Dis ’n baie belangrike toets vir vroue. ’n Mammogram word gedoen om moontlike kankergewasse in die borste te bespeur. Hoe gouer borskanker gediagnoseer word, hoe beter is die kanse dat jy ten volle sal herstel.

Oogtoetse

Oogtoetse is belangrik om te bepaal of jy ’n bril moet dra, maar daar kan ook tydens ’n oogondersoek ander toestande bespeur word. Jy moet ’n oogkundige besoek om jou oë te laat ondersoek. Hy/sy sal bepaal of daar enige abnormaliteite in jou oë is wat kan dui op siektes of beserings. Diabetes en gloukoom kan deur middel van ’n oogondersoek geïdentifiseer word en as dié toestande vroegtydig bespeur word, verhoog die kanse dat jy volkome sal herstel.

Veltoetse

Veltoetse is noodsaaklik om die vroeë stadia van velkanker te bespeur. Indien jou gesondheidsorgverskaffer vermoed dat ’n moesie moontlik kwaadaardig is, moet jy dadelik verdere toetse laat doen. Monitor sulke moesies en sê vir jou gesondheidsorgverskaffer sodra jy opmerk dat hulle grootte, vorm of kleur verander.

Servikstoetse

Dis nog ’n belangrike toets wat vroue moet laat doen. Servikstoetse kan abnormaliteite in die serviks identifiseer, wat belangrik is vir die voorkoming van kanker. Vroue behoort elke paar jaar ’n servikstoets te laat doen. Indien ’n vrou met servikskanker gediagnoseer word, sal sy behandeling benodig. Die kanse op herstel is beter indien die toestand vroegtydig bespeur word.

 

MY SPORT

Vrystaat en Smith is waardige wenners
Deur Francois Redelinghuys
Herhaling

Die pas afgelope naweek het die Vrystaatse Cheetahs met ’n reuse-oorwinning oor die Blou Bulle verseker dat die Curriebeker vanjaar vir die eerste keer in nege jaar weer ’n tuiste in Bloemfontein het.

Die span, waarvan die meeste lede ’n jaar gelede nog Varsity-bekerrugby vir Kovsies gespeel het, het daarin geslaag om nie ’n enkele wedstryd in vanjaar se reeks te verloor nie en hulle was deurentyd dié span om te troef. Hoewel die spelers op die veld uitgeblink het, glo ek die eer kom ook die hoofafrigter Franco Smith toe.

Al is Smith nog jonk, het hy homself as breier al op talle vlakke van die spel bewys as ’n afrigter wat die tegniese aspekte van die spel goed ken. Onder Smith se leiding het die Cheetahs vanjaar in die Curriebeker-reeks tot hul reg gekom nadat Smit aspekte wat in die verlede swakpunte in die Vrystaters se mondering was, uitgewys en daarop gefokus het.

Dit is daarom verblydend dat hy nou saam met die Bokke op hul laaste toer van die jaar na Europa toe gaan reis om die Bokke as adviseur te help slyp. Hierdie stap is natuurlik geneem nadat opposisiespanne in die onlangse rugbykampioenskappe die gebrek aan tegniese vaardighede van Alister Coetzee se afrigtingspan op geen onsekere manier uitgewys het.

Hoeveel waarde Smith egter in hierdie stadium werklik tot die Bokke se spel sal kan voeg, bly ’n ope vraag, nie omdat ek nie glo hy sal nie waarde kan toevoeg nie, maar bloot omdat hy so min tyd het om met die span te werk. Desnieteenstaande die kort tyd tot sy beskikking, glo ek egter steeds dat die Bokke met hom beter daaraan toe is as sonder hom.

 

RIDDER EN RAMPOKKER

Deur Wilmarie Brits

Ridder

Die dogters van Affies se goedhartigheid ken geen perke nie en daarom is hulle dié week ons ridders. Die meisies van Afrikaanse Hoёr Meisieskool in Pretoria het die uitdaging om boeke vir Laerskool JJ Booysen in te samel, groot ywer aanvaar. Dié historiese laerskool in Loxton het in Junie vanjaar per ongeluk afgebrand en alles is in die brand verwoes. Affies het hul harte oop gemaak en altesaam 3 000 boeke aan die klein skooltjie in die Karoo geskenk.
Dit is pragtig om te sien hoe jong mense mekaar help om toegang tot onderrig te verseker.

Rampokker

Kobus Koekemoer is ongetwyfeld vandeesweek se rampokker nadat hy Woensdag 27 Oktober in hegtenis geneem is in verband met die moord op sy stiefdogter, Poppie van der Merwe.

Hy word daarvan beskuldig dat hy die pragtige driejarige meisietjie Dinsdag 26 Oktober doodgeskop het op die plaas by Mamogaleskraal naby Brits waar die gesin woon. Sy het nog gelewe toe haar ma op haar af gekom het, maar het ongelukkig by die hospitaal aan haar beserings beswyk.

Koekemoer verskyn Donderdag weer in die hof en bly intussen in aanhouding.

 

REGSVRAAG

Kan ’n werknemer ’n geskil oor onbillike ontslag na die KVBA verwys as hy of sy ontslaan is nog voor indiensneming werklik plaasgevind het?
Deur Lelanie du Plessis

In die uitspraak van Jack v Director-General Department of Environmental Affairs (2003) 1 BLLR 28 (LC) en Wyeth SA (Pty) Ltd v Manqele & others (2005) 6 BLLR 523 (LAC), het die hof beslis dat die beëindiging van ’n dienskontrak, selfs al het die werknemer nog nie by die werkgewer begin werk of vergoeding ontvang het nie, ingevolge die Wet op Arbeidsverhoudinge (No. 66 van 1995),(die “WAV”), soos gewysig, op ontslag neerkom.

Die definisie van “werknemer”, soos beoog in artikel 213 van die WAV, sluit ’n persoon in wat ’n werksaanbod aanvaar het om in ’n later stadium te begin werk. Dit is wel gebiedend dat die werkgewer ’n werksaanbod moes maak en dat die werknemer daardie aanbod onomwonde aanvaar het.

Selfs al sou die werknemer nog nie diens aanvaar het of vergoeding ontvang het nie, moet die werknemer se ontslag steeds substantief en prosedureel billik wees. In Van Deventer v Venture SA (Pty) Ltd (2007) 28 ILJ268 (CCMA) het die kommissaris bevind dat hy gebonde is aan die Wyeth-beslissing en het daarom beslis dat die werkgewer steeds onder ’n verpligting was om die werknemer vir ’n billike rede te ontslaan en dat ’n regverdige prosedure gevolg moet word.

 

BOERERAAT

Gebruike van Sunlight-seep in en om die huis
Deur Wilmarie Brits

Sunlight-seep is dalk ’n skoonmaakmiddel wat jou toelaat om eenhonderd keer skottelgoed te was, maar na aanleiding van vandag se boereraatwenke kan Sunlight-seep ook as ʼn wondermiddel bestempel word wat jou in staat gaan stel om takies in en om die huis gemaklik en doeltreffend aan te pak.

Mediese gebruike vir Sunlight-seep:


Jy kan puisies en swartkoppies verminder deur ʼn gesigmasker te maak van ʼn koekie groen Sunlight seep. Week die seep in warm water, skraap dan ʼn deel van die buitenste sagte lagie af en smeer dit aan jou gesig en nek. Sodra dit droog is, kan jy dit afwas, maar jy is ook meer as welkom om daarmee te slaap. Dit droog nie die vel uit nie; inteendeel, dit bevogtig en trek die porieё op jou vel mooi toe.

Sunlight-seep is ook ideaal vir brandwonde. Smeer die seep oor die gebrande area, want dit sal die brand uittrek en help met genesing.

Sunlight-seep sal daardie doring wat diep in jou voet sit binne ʼn japtrap uittrek. Rasper ʼn koekie groen Sunlight-seep en meng die seepskaafsels met suiker en ʼn bietjie water sodat dit ’n pasta maak. Smeer dan die Sunlight-pasta oor die area waar die doring is en plak dit toe met ’n pleister.

Skoonmaakwenke:

Jy kan jou juwele weer pragtig laat skitter deur dit vir ’n paar ure lank in ’n mengsel van ’n kwart koppie ammoniak en ’n teelepel Sunlight Liquid-seep te laat week. Borsel dan die juwele met ʼn ou tandeborsel en spoel dit onder koue lopende water af.

Om daardie grasvlekke uit jou kind se klere te kry, kan jy die groen koekie Sunlight-seep gebruik. Vryf die koekie seep oor die vlek en laat dit in die son droog word. Was dan die klere soos gewoonlik.

As jy per ongeluk jou wit klere saam met ander klere gewas het en dit nou gevlek is, kan jy die kledingstuk goed insmeer met ʼn groen koekie Sunlight-seep. Gooi vier eetlepels koeksoda en een koppie wit asyn in baie warm water. Druk die kledingstuk onder die water en roer dit nou en dan. Week die kledingstuk vir 3 ure. Jy sal verbaas wees wat koeksoda en asyn uit jou klere uit kan haal.

Kry insekte en plae onder beheer met Sunlight-seep:

Om vlooie en bosluise weg te hou, was jou honde met Sunlight-seep in water waarin twee proppies Dettol opgelos is.

Raak ontslae van daardie lastige vismotte deur ʼn blok groen Sunlight-seep te rasper en dan die skaafsels in die kas of sak waar jy komberse en linne bêre, te strooi.

Meng twee eetlepels suiker, twee eetlepels spiritus, twee eetlepels wit asyn en twee eetlepels Sunlight Liquid-seep in ’n eenliter spuitbottel vol water en spuit jou plante om plantluise te verwyder.

Bron: inenomdiehuis.blogspot.co.za/2014/04/boereraatwenk-vir-die-dag.html

 

HET JY GEWEET?

ʼn Mens vergeet 90% van jou drome en terwyl jy snork, kan jy nie droom nie. In jou drome sien jy net gesigte van mense wat jy ken of al ontmoet het. Die emosie wat mense die meeste ervaar wanneer hulle droom, is angs.

Bron: ofm.co.za/article/huistoe/77075/hier-is-n-paar-feite-oor-jou-drome-wat-jy-nie-geweet-het-nie-

 

SPREEKWOORD

Die waarheid geweld aandoen: Dit beteken om leuens te vertel.

Bron: mieliestronk.com/idiomeboekkr.html

 

AANHALING

“U spreek van geloof – wat is geloof? Here, U wil, nie my wil, geskiede! Ek vernietig my onder Gods wil!”

- J.H. de la Rey, tydens samesprekings tussen die twee Boererepublieke oor vrede met Brittanje, 30 Mei 1902

 

ATTERBURY TEATER:

Hoogtepunte by die Atterbury Teater

Vertoning/ geleentheid

Datum

Tyd

Prys

NESA – Young Performer Showcase 2016

31 Oktober – 1 November

19:00

R60 – R115

If you could read my mind met Steve Hofmeyr

2 - 3 November

20:00

R180 – R220

Dan Patlansky “Intro Vertigo” New Album Launch

7 November

20:00

R175

Mathys Roets & Anna Davel

8 November

20:00

R160 – R180

Kaartjies is by enige Computicket-kantoor beskikbaar of skakel 083 915 8000 om ʼn bespreking te doen. Atterbury Teater is geleë op die hoek van Lynnwoodweg en Daventrystraat in Lynnwood. Skakel die teater by 012 471 1700 of stuur ʼn e-pos na info@atterburytheatre.co.za.

 

ATLETIEKKLUB

Sluit só aan by die Solidariteit Atletiekklub

Word vandag nog deel van die Solidariteit Atletiekklub. Skakel klubvoorsitter Hendrik van der Westhuizen by 082 851 8451 vir meer inligting of stuur 'n e-pos na atletiek@solidariteit.co.za.

 

Teken uit / Teken in