Soldeer


Nr. 690 - 14/07/2016

HOOFSTORIE:

Konstitusionele hof lewer uitspraak in waterskeidingsaak oor DKD se
regstellende aksie – Solidariteit

Deur Inge Strydom

Die konstitusionele hof sal eerskomende Vrydag 15 Julie uitspraak lewer in die vakbond Solidariteit se geskiedkundige hofsaak teen die departement van korrektiewe dienste (DKD) se omstrede regstellendeaksieplan.

Die hof sal onder meer uitspraak lewer oor die grondwetlikheid van die DKD se huidige regstellendeaksieplan. Solidariteit het in November verlede jaar in die konstitusionele hof aangevoer dat dié plan, wat die nasionale rassedemografie as enigste maatstaf vir bevorderings en aanstellings daarstel, op ʼn kwotastelsel neerkom wat strydig is met die bepalings van die Wet op Diensbillikheid.

“Hoewel die arbeidshof en die arbeidsappèlhof albei vroeër bevind het dat regstellendeaksieplanne ook ’n bepaalde streek se rassedemografie in ag moet neem by die maak van aanstellings en bevorderings, het dié howe versuim om die DKD se regstellendeaksieplan wat juis die teenoorgestelde daarstel, ter syde te stel. Ons het daarom die konstitusionele hof genader om hierdie plan ter syde te stel om sodoende die DKD se onbillike toepassing van regstellende aksie in die kiem te smoor,” sê Van der Bijl.

Die hof sal voorts beslis of daar individuele regskostebevele aan die tien DKD-werknemers wat Solidariteit in die hofsaak verteenwoordig, toegeken moet word. Dit volg nadat die arbeidsappèlhof in April verlede jaar aangedui het dat daar nie ’n duidelike bewys is dat die lede wel in die genoemde poste aangestel sou word indien die DKD ook die streek se demografie as riglyn gebruik het nie. Solidariteit het hierdie deel van die uitspraak ook in die konstitusionele hof betwis.

Solidariteit tree op namens tien werknemers van die DKD wat almal in ʼn stadium oor die hoof gesien is vir bevordering weens hul velkleur. Dit sluit Andre Jonkers, Christo February, Deidre Jordaan, Deric Wehr, Desiree Merkeur, Geo-nita Baartman, Jan Kotze, Linda-Jean Fortuin, Pieter Davids en Theresa Abrahams in.

Hofverrigtinge:

Die media word genooi om die hofverrigtinge by te woon.

Datum: Vrydag 15 Julie 2016
Tyd: 10:00
Plek:  Konstitusionele hof, Konstitusieheuwel, Queenstraat, Braamfontein, Johannesburg

Paneelbespreking en ontleding van uitspraak

Die media word ook genooi om na afloop van die formele hofverrigtinge ʼn paneelbespreking en ontleding van die hofsaak by te woon. Die volgende persone sal aan die paneelbespreking deelneem:

  • Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging
  • Danny Titus, in sy persoonlike hoedanigheid
  • Anton van der Bijl , hoof van Solidariteit se Sentrum vir Billike Arbeidspraktyke

Plek: Ou Fort, Kotzéstraat 11, Braamfontein, Johannesburg.

 

SOLIDARITEIT NUUS:

SAUK moet sensuur-instruksies terugtrek, beveel Okasa
Vakbond vra vir ondersoek na Motsoeneng, terugtrekking van skorsings

Deur Inge Strydom

Die vakbond Solidariteit het vandeesweek gevra dat alle skorsings en dissiplinêre stappe wat teen SAUK-werknemers in werking gestel is, teruggetrek moet word. Verder het die vakbond versoek dat Hlaudi Motsoeneng, bedryfshoof van die SAUK, onmiddellik geskors word hangende ’n ondersoek na sy vermoë om die SAUK te bestuur.

Dit volg nadat die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid van Suid-Afrika (Okosa) vandag uitspraak teen die SAUK se besluit om voortaan nie gewelddadige beeld- en klankmateriaal oor betogings uit te saai nie, gelewer het. Daarby moet die SAUK die instruksies terugwerkend terugtrek en binne sewe dae terugvoering aan Okasa gee.

Volgens dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, verwelkom Solidariteit hierdie uitspraak. “Die uitspraak lewer bewys dat die SAUK onder die leiding van Hlaudi Motsoeneng nie binne die raamwerk van die Grondwet opgetree het nie. Ons versoek dus dat alle klagtes teen die geskorste SAUK-werknemers teruggetrek moet word en dat Hlaudi Motsoeneng onmiddellik as bedryfshoof van die SAUK geskors moet word hangende ’n ondersoek,” het Hermann gesê.

Hermann het voorts gesê dat Okosa se uitspraak teen die SAUK ’n oorwinning vir die beginsel van vryheid van spraak is. “Hierdie uitspraak is ’n oorwinning vir die etiese SAUK-joernaliste wat ten spyte van ’n onregmatige opdrag en intimidasie vir grondwetlike beginsels in die bres getree het,” het Hermann gesê.

Solidariteit het vroeër laat blyk dat hy hom tot die konstitusionele hof gaan wend om die grondwetlikheid van die skorsing van die drie SAUK-joernaliste, Foeta Krige, Suna Venter en Thandeka Gqubule, te betwis. Krige, Venter en Gqubule is in Junie geskors nadat hulle in ’n nuusvergadering beswaar gemaak het teen die opdrag om nie oor betogings van die Right2Know-veldtog teen SAUK-sensuur te berig nie. Solidariteit tree namens al drie joernaliste op.

 

Konsepmynbouhandves: Solidariteit spreek kommer uit oor strydigheid
met Wet op Diensbillikheid

Deur Francois Redelinghuys

Die vakbond Solidariteit het vandeesweek in ’n aanbieding aan die departement van minerale hulpbronne, as deel van ’n konsultasieproses, sy kommer uitgespreek oor sekere aspekte in die konsepmynbouhandves wat strydig is met die Wet op Diensbillikheid en ander internasionale konvensies.

Volgens Gideon du Plessis, hoofsekretaris van Solidariteit, stel die handves onrealistiese diensbillikheidsteikens en die implementering van kwotas voor wat strydig is met die Wet op Diensbillikheid. “Die realiteit is dus dat ’n mynhuis sy mynlisensie kan verloor weens nie-voldoening aan die handves en veral die voorgeskrewe 26%- swart eienaarskap wat ten alle tye geld,” het Du Plessis verduidelik. 

“Inligting rakende volhoubaarheidsplanne asook beroepsgesondheids- en -veiligheidsplanne ontbreek ook in die handves,” het Du Plessis gesê. Volgens Du Plessis moet transformasie teen die agtergrond van volhoubaarheid en veiligheid plaasvind om te verseker dat die mynbousektor groei om onder meer werksgeleenthede te skep wat uiteindelik transformasie sal vergemaklik.

Volgens Du Plessis is die tydsberekening van die implementering van die handves swak omdat die mynbousektor reeds swaar gebuk gaan onder eksterne en interne faktore wat talle myne in ’n oorlewingstryd geplaas het. Boonop staar net oor die 30 000 mynwerkers tans afleggings in die gesig. 

Du Plessis stel dit verder dat die vakbond bekommerd is oor verdere regulatoriese onsekerhede wat die handves teweeg sal bring. “Solidariteit is veral bekommerd oor die finansiële impak van die “nuwe” belastinggeleenthede wat geskep word deur maatskappye en internasionale verskaffers te belas met onder meer 1% van hul omset en 5% van die betaalstaat wat dan aan opleidings- en gemeenskapsprogramme toegewys word. Die addisionele uitgawe beteken marginale myne sal óf moet sluit en werkers aflê, óf laer verhogings toestaan. Werkers betaal dus die prys vir die handves se direkte koste aan werkgewers,” het Du Plessis gesê.

Volgens Du Plessis het Solidariteit voorgestel dat:

  • Die konsephandves gewysig moet word om meer realistiese diensbillikheidteikens daar te stel;
  • Aspekte wat in konflik met ander wetgewing en konvensies is, reggestel word;
  • Alle nuwe vorme van verskuilde nuwe belasting geskrap word;
  • Die handves se hooffokus verander na opleiding en vaardigheidsontwikkeling; en
  • ’n Balans geskep word tussen bemagtiging van werkers en die behoud van ander vaardige werkers wat nie deur handves bevoordeel word nie. 

“Die mynbousektor se fokus moet nou op die implementering van die mynbou-phakisa se uitsette en die nasionale ontwikkelingsplan se mynbouriglyne gerig wees om sodoende die sektor te help groei en werk te skep tot voordeel van almal in Suid-Afrika,” het Du Plessis verduidelik.

 

Sibanye-afleggings: Solidariteit sal alles in sy vermoë doen om
afleggings af te weer

Deur Francois Redelinghuys

Die vakbond Solidariteit het vandeesweek gesê dat hy alles in sy vermoë sal doen om die moontlike afleggings by Sibanye af te weer. Dit volg ná berigte dat sowat 2 500 poste by die myn se Cook 4-aanleg in gedrang is.
                                                           
Solidariteit het in sy afleggingsverslag vroeër vanjaar aangedui dat nagenoeg 30 000 poste in die mynbedryf die afgelope jaar reeds in gedrang gekom het. In die lig daarvan sal Solidariteit alles in die stryd werp om te verhoed dat nóg poste in die bedryf geaffekteer word.

“Solidariteit het reeds ’n baie positiewe informele gesprek met Sibanye se bestuur gehad waartydens albei partye hulle verbind het tot ʼn proses om alle moontlike alternatiewe te ondersoek om geforseerde afleggings te verhoed,” het Gideon du Plessis, hoofsekretaris van Solidariteit gesê.

“Tydens ons gesprek met Sibanye-bestuur het dit ook onder ons aandag gekom dat daar baie vakante poste binne die Sibanye-groep is. Ons sal dus ons lede wat by Cooke 4 werksaam is aanmoedig om onmiddellik enige oorplasings na ʼn ander Sibanye-myn of -skag te aanvaar om só werksekerheid te verseker,” het Du Plessis gesê.

Du Plessis het verder gewaarsku dat enige arbeidsonrus wat moontlik uit die proses kan voortspruit net die situasie by Cooke 4 gaan vererger en dat daar met die oog op ’n langtermynfokus by Sibanye gehandel moet word. “Ons doen ʼn beroep op alle betrokke partye om konstruktief deel te neem aan die konsultasieproses. Die stand van arbeidsverhoudinge kan ’n daadwerklike impak hê op die toekoms van Suid-Afrika se kredietgradering.


Rassekwotas – Solidariteit v die Staat by die Verenigde Nasies

’n Jaar nadat Solidariteit ’n klag oor rassekwotas teen die Suid-Afrikaanse regering by die Verenigde Nasies gelê het, moet die vakbond op 8 Augustus voor die VN se komitee vir die uitwissing van alle vorme van rassediskriminasie (CERD – Committee on the Elimination of Racial Discrimination) verskyn. In dieselfde week moet die Suid-Afrikaanse regering voor dieselfde komitee verskyn. Dit is die eerste keer sedert 1994 dat die Suid-Afrikaanse regering by die Verenigde Nasies van rassediskriminasie aangekla word.

Volgens die Solidariteit-klag oortree die Suid-Afrikaanse regering die VN-konvensie wat alle vorme van rassediskriminasie verbied. Die klag fokus op die staat se gebruik van die nasionale rassedemografie as ’n kwotabeleid.

Daar word ook gefokus op die regering se onwilligheid om hofuitsprake, wat reeds gewys het dat die staat te ver gaan met rassekwotas, te implementeer.

Die klag neem die vorm van ʼn skaduverslag aan wat ’n reaksie is op die verslag wat die regering by die komitee ingedien het oor vorderingmet die uitwissing van rassediskriminasie.

Die konvensie maak voorsiening daarvoor dat burgerlike organisasies ’n regering kan verkla deur middel van ʼn skaduverslag wat voorgelê word in reaksie op die betrokke regering se eie verslag aan die komitee.

Die kern van die klag is dat die Suid-Afrikaanse regering se absolute fokus op rasseverteenwoordiging teen die bepalings van die konvensie indruis. Die staat se rassebeleid gaan verder as wat regstellende aksie internasionaal toegelaat word en voldoen nie meer aan die internasionale vereiste van regstellende aksie nie.

Die skaduverslag strek wyer as bloot Solidariteit en sy lede. Solidariteit fokus op ʼn saak wat alle Suid-Afrikaners raak en wat ’n brandpunt vir almal, ongeag ras, geword het. Suid-Afrikaners oor ʼn breë spektrum is moeg vir die swak polisiediens as gevolg van ʼn oordrewe fokus op ras, dink dit is uiters onbillik om die nasionale rassedemografie in die Wes-Kaap toe te pas, en dink dit is absurd om met ʼn aggressiewe kwotastelsel vaardighede by Eskom te verjaag te midde van ʼn kragkrisis. Suid-Afrikaners oor ’n breë spektrum is ook moeg vir kwotas in sport ten spyte van internasionale voorskrifte wat dit duidelik nie toelaat nie. Solidariteit verwag dus steun vanuit alle oorde in ons openbare konsultasieproses.

In die klag word die DKD, wat die nasionale rassedemografie in die Wes-Kaap wil toepas, die SAPD se regstelbeleid, die Renate Barnard-saak, die gebruik van die nasionale demografie op Eskom se tegniese posvlakke asook die Minister van Sport se verbod op internasionale sportbyeenkomste as gevolg van nie-nakoming van kwotas, as gevallestudies gebruik.

Solidariteit en AfriForum het in ’n gesamentlike deel oor kwotas in sport gewys dat die regering nie net die internasionale sportliggame se regulasies oortree nie, maar ook plaaslike wetgewing ignoreer. Volgens ’n meningspeiling van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseaangeleenthede steun 78% van Suid-Afrikaners dat meriete in sport moet geld, 74% van swart Suid-Afrikaners steun meriete in sport.

Die klag stel dit dat die regering se beleid van rassekwotas nie as regstellende aksie gedefinieer kan word nie, maar eerder as ’n vorm van neorassisme wat nêrens in die wêreld aanvaarbaar is nie.

Van die belangrikste punte van Solidariteit se klag teen die regering se neorassisme is die volgende:

  • Verskillende silo’s vir verskillende rasse- en geslagsgroepe word geskep.
  • Dit wil ’n toekoms deur maatskaplike manipulasie skep.
  • Rasseklassifikasie in Suid-Afrika word weer geïnstitusionaliseer.
  • Rasverskille het die basis vir besluitneming geword.
  • Daar word nie op benadeling van die verlede gefokus nie, maar slegs op ras.
  • Daar is nie ’n sonsondergangklousule nie omdat die rassedemografie deurlopende verander.
  • Daar is nie ʼn fokus op opleiding en ontwikkeling van mense nie, maar slegs op wiskundige uitkomste.
  • Rassekwotas word nagejaag sonder inagneming van dienslewering.

Daarteenoor bepaal internasionale praktyk oor regstellende aksie soos volg:

  • Geen silo’s mag geskep word nie; daar moet ook na klas gekyk word en ras mag net in uiterste gevalle gebruik word.
  • Benadeling in sy geheel moet reggestel word en nie net met syfers nie.
  • Daar moet gewaak word teen die institusionalisering van vorme van rasseklassifikasie.
  • Daar moet ʼn sonsondergangklousule wees wat nie verder strek as wat nodig is nie en met die oog daarop dat slegs meriete gebruik kan word.
  • ʼn Verskeidenheid van faktore moet in ag geneem word wat insluit billikheid en individuele meriete in operasionele vereistes.
  • Daar moet gefokus word op opleiding en ontwikkeling van mense as die belangrikste metodes van regstelling.
  • Daar moet gefokus word op goeie dienslewering as ʼn vorm van regstelling, veral vir armes.

Suid-Afrika se program van rasseverteenwoordigendheid voldoen dus nie aan die definisie van regstellende aksie nie.

Een van die vereiste van die VN aan Solidariteit om suksesvol te wees, is om plaaslike steun te bewys. Solidariteit wil wys dat honderde duisende mense rassekwotas verwerp.

SMS net die woord “reg” na 34802 en word so deel van die duisende wat rassekwotas verwerp.

 

SA Poskantoor bekom miljarde om te kan herleef 

Die SA Poskantoor (SAPO) het R3,7 miljard van plaaslike finansiële instellings bekom om die platsak staatsonderneming te ondersteun.

Volgens Engineering News het die minister van telekommunikasie en die posdiens, Siyabonga Cwele, gesê R1 miljard van dié bedrag is ʼn paar maande gelede ontvang nadat die organisasie die markte genader het om kapitaal met behulp van sy regeringswaarborg te bekom. Daarna het ʼn kontantinspuiting van R2 miljard gevolg, want onlangs ontvang is.

“Ek is bly die direksie en bestuur het daarin geslaag om die geld plaaslik te bekom. Die geld sal ons help om die SAPO om te keer en om die geld wat aan werkers en verskaffers verskuldig is, te betaal,” het Cwele Vrydag aan verslaggewers in Johannesburg gesê.

Benewens geld wat weens onbetaalde salarisse aan werkers verskuldig is, skuld die SAPO R900 miljoen aan verskaffers, het die direksie se voorsitter, Simosezwe Lushaba, gesê.

“Die beskikbaarheid van fondse beteken dat ons in staat sal wees om handel te dryf en ons omkeerstrategie deur te voer. Vanaf die einde van vandeesmaand sal ons in ʼn posisie wees om verskaffers te betaal. Ooreenkomste wat met arbeid gesluit is, dui ook op ʼn nuwe begin vir die SAPO,” het Lushaba gesê.


Mag jou werkgewer op jou selfoon “rondsnuffel”?
Deur Verlie Oosthuizen

Die onbevredigende kort antwoord op die vraag is: “Dit hang af”.

Dit hang daarvan af of die werkgewer vir jou ’n selfoon gegee het om jou werk te doen en dit die inhoud van daardie selfoon is waarna die werkgewer kyk. Ingevolge ons wetgewing, in die besonder die Wet op die Regulering van die Onderskepping van Kommunikasie (Wet 70 van 2002) word mense in die algemeen beskerm teen die monitering van hul privaat kommunikasie deur die staat of ander mense.

Soos met alle wetgewing, is daar egter uitsonderings. Een uitsondering is wanneer ’n persoon tot die monitering van sy data ingestem het. Dikwels gee ’n werkgewer vir ’n werknemer ’n skootrekenaar of ’n selfoon en in sy beleid sê die werkgewer dan dat die werknemer nie ’n verwagting van privaatheid kan hê as hy toerusting gebruik wat deur die werkgewer verskaf word nie.

Selfs al beperk dit ’n werknemer se reg op privaatheid, kan dit nie as onwettig beskou word as die toerusting uitsluitlik vir werkdoeleindes voorsien is nie. Indien die werkgewer egter jou persoonlike selfoon kraak wat jy nie vir werkdoeleindes gebruik nie en wat nie deur die werkgewer aan jou voorsien is nie, kan jy argumenteer dat hulle die wet oortree het en jou kommunikasie onwettig onderskep het.

Dit is egter dalk nie genoeg om jou werk te behou indien jy jou werkgewer teenoor andere afgekraak het nie want dit kan ’n aanduiding wees dat die werkverhouding verbrokkel het.

 

SOLIDARITEIT BEWEGING NUUS:

AKADEMIA

Sakaplankompetisie – hier is jou kans

Net ʼn vriendelike herinnering dat u nog tot 20 Julie inskryf vir die 2016 kompetisie – vind asseblief die verloop van die kompetisie, asook die vrae wat beantwoord moet word vir rondte 1 hieronder. Die kompetisie self bestaan uit twee afdelings en sewe fases.

Nuwe- en kleinsake afdeling:

Dit word gesien as enige nuwe sake-idee wat of nog nie geïmplementeer is nie, of ʼn KMO wat ten tye van die inskrywing in die kompetisie minder as 3 jaar reeds handel dryf of 'n netto wins voor eienaarsontrekking van minder as R500 000 per jaar het.

Bestaande- en mediumsake afdeling:

Hierdie afdeling sluit alle KMO’s in waarvan of die besigheid, of die entrepreneur, ten tye van inskrywing meer as 3 jaar reeds handel dryf of 'n netto wins voor eienaarsontrekking van meer as R500 000 per jaar het.

Vrae:

Vraelys 1 – Die entrepreneur

Beantwoord die volgende vrae so breedvoerig moontlik in die toegelate hoeveelheid woorde

1. Wie is jy en waar kom jy vandaan? (+- 250 woorde)

Hier wil ons jou as entrepreneur self leer ken en ook jou dryfkrag verstaan.
a. Agtergrond oor jouself
b. Waarmee is jy goed in jou lewe / sterkpunte – hoekom sê jy so?
c. Waarmee is jy nie goed nie / swakpunte – hoekom sê jy so?
d. Hoe bestuur jy hierdie genoemde swakpunte?
e. Waaroor is jy passievol in die lewe? (Wat gee jou vervulling?)

2. Hoe funksioneer jy in besigheid? (+- 250 woorde)

Hier wil ons graag jou dryfkrag vir jou bestaande of nuwe besigheid verstaan en hoe jy jouself gaan aanwend in die verskillende areas van besigheid nl. Jy en jou besigheid, risiko bestuur, finansies, verkope & bemarking & groei van jou besigheid, wetlike & regulatoriese aspekte, menslike hulpbronne en besigheidsbedrywighede (operations). Jy hoef dit nie in hierdie volgorde te bespreek nie.
a. Watter areas van besigheid hou jy van – hoekom sê jy so?
b. Watter areas van besigheid hou jy nie van nie, of is jy nie gemaklik mee nie?
c. Hoe beplan jy om dit te oorbrug?
d. Wat is jou persoonlike motivering hoekom jy hierdie besigheid wil begin of begin het?
e. Dink jy persoonlike ontwikkeling is belangrik vir ‘n entrepreneur?

Vraelys 2 – Die Sake-idee / Sake-onderneming

1. Wat is die wese en aard van die besigheid wat jy wil begin of wat jy reeds besit / bestuur? (+- 50 woorde)

a. Beskryf kortliks jou besigheid, of jou idee vir ‘n nuwe besigheid

2. Hoekom juis hierdie besigheid? (+-200 woorde)

Hier wil ons verstaan wat die geleentheid is?
a. Hoekom het jy hierdie besigheid en industrie gekies?
b. Hoekom jy glo die besigheid sal suksesvol wees?

3. In watse entiteit / besigheidsvorm gaan jy hierdie besigheid bedryf of bedryf jy dit tans? (+- 50 woorde)

4. Hoe gaan jy die produk of diens bemark aan jou mark / bemark jy dit reeds? (+-200 woorde)

Hier wil ons sien dat jy jou mark verstaan en wil verstaan hoekom jy dink jou bemarkingsplanne sal suksesvol wees.
a. Wie is jou mark / jou beplande mark?
b. Deur watter kanale bereik / gaan jy jou mark bereik?
c. Wat is die sentrale boodskap van jou produk / diens aan jou mark?

5. Hoe bedryf jy / gaan jy hierdie besigheid bedryf? (+-200 woorde)
Hier wil ons sien dat jy verstaan wat die bedrywighede en bestuur en groei van die besigheid behels en hoe jy dit reeds / gaan aanpak.

a. Hoe werk jou besigheidsproses
b. Watter menslike en ander hulpbronne benodig jy / gaan jy benodig?
c. Wat is die wetlike en regulatoriese vereistes, beperkinge en uitdagings van jou bedryf?
d. Hoe lyk jou organogram?
e. Watter uitbreidingsmoontlikhede bestaan daar vir jou onderneming / idee

6. Hoe maak jy geld / hoe gaan jy geld maak met hierdie besigheid? En hoeveel geld gaan en kan jy realisties maak met hierdie besigheid?
(+-100 woorde en basiese sigblad / “spreadsheet(s)”)

Hier wil ons sien en verstaan hoe jy geld genereer / wil genereer met die besigheid en die kontantvloei gaan bestuur.
a. Ons wil verstaan hoeveel geld jy sal kan maak met die besigheid gebaseer op jou navorsing van die mark se vraag na die produk,
b. Wat dit jou gaan kos om die besigheid suksesvol te bedryf en groei.

Die Trekpleister

Prysgeld waarin wenners hierdie jaar kan deel, beloop reeds ‘n bedrag van meer as R1.7miljoen in waarde, en sluit benewens ‘n kontantkomponent ander ondersteuningsfaktore soos mediablootstelling, mentorskap, hulp met belasting, hulp met regsaspekte asook hulp met bemarking en webblad-ontwikkeling in. Ons maak ook binnekort ‘n opwindende nuwe toevoeging tot die prys bekend, sodra die ooreenkoms gefinaliseer word!

Hoe skryf ek in?

Om in te skryf vir rondte 1 is maklik – al wat jy hoef te doen is die volgende:

  1. Kies die afdeling waarvoor u wil inskryf, te wete Nuwe of Bestaande Sake en registreer op die Akademia Sakeplankompetisie webblad by sakeplankompetisie.co.za (klik hier.)
  2. Betaal u R350 registrasiegeld per sakeplan wat u wil indien
  3. Vul die meegaande vraelys volledig in
  4. Laai die ingevulde vraelys in PDF formaat op voor of op 20 Julie 2016 op die volgende webblad: entrepreneurskool.co.za (klik hier.)

U intekenbesonderhede en wagwoord sal aan u gestuur word sodra ons die bewys van betaling van R350 vir u inskrywing ontvang. Hiervoor kan u of gebruik maak van die aanlyn betaalkanaal Payfast op die webblad, of u kan die R350 registrasie in die Akademia se bankrekening inbetaal.

Vind asseblief die bankrekeningbesonderhede van Akademia hieronder – Onthou ook asb. om die bewys van betaling aan my terug te stuur by sakeplan@akademia.ac.za.

Bank besonderhede
AKADEMIA
FNB (Eerste Nasionale Bank)
Rek No: 62333881143
Tipe: Spaarrekening
Tak: Centurion – 261550
Gebruik asseblief die volgende verwysing op u betaling:

NSA (Nuwe sake) of BSA (Bestaande Sake), u NAAM en VAN vir die Sakeplankompetisie

Baie belangrik – bevestiging van u bespreking / inskrywing sal slegs plaasvind as ons u bewys van betaling ontvang by sakeplan@akademia.ac.za!

Ons hoop om gou van u te hoor!

Groete

Chris du Plessis
Akademia Sakeplankompetisie Koördineerder
sakeplan@akademia.ac.za
0861 222 888

 

AFRIFORUM

Mynmaatskappye onttrek aansoek om uraan in Karoo te ontgin; AfriForum verwelkom aankondiging

AfriForum verwelkom die Australiese mynreus Tasman Pacific Minerals en die Suid-Afrikaanse myngroep Lukisa se aankondiging dat hulle hul gesamentlike aansoek vir ʼn lisensie om uraan op 570 000 ha plaasgrond in die Karoo te ontgin, teruggetrek het.

Die burgerregtewaghond het onlangs tot die stryd teen uraanontginning in die Karoo toegetree deur ʼn petisie van stapel te stuur.

“Die onttrekking van die maatskappye se aansoek is bewys dat indien alle geaffekteerde partye en drukgroepe hulle stemme laat hoor, daar wel gunstige uitkomste kan wees,” sê Thomas van Dalen, AfriForum se provinsiale koördineerder vir die Oos-Kaap.

Van Dalen sê verder dat die sogenaamde ekonomiese inspuiting wat die ontginning van uraan in die Karoo glo tot gevolg sou hê, altyd twyfelagtig was.

“Na raming sou daar nooit meer as 250 werksgeleenthede vir plaaslike inwoners geskep kon word nie. Die Karoo is boonop ʼn hoërisikogebied vir enige ontginningsaktiwiteite weens die tekort aan water en infrastruktuur. AfriForum is van mening dat die ontginning van uraan hier nie net nadelig vir die omgewing en inwoners sal wees nie, maar ook die ekonomie.”

Van Dalen sê voorts dat die onttrekking van die aansoek nuwe geleenthede bied vir gesprekke rondom volhoubare ontwikkelingsopsies in die Karoo.

Voeg jou stem by deur die petisie te teken.

 

SOLIDARITEIT HELPENDE HAND

Solidariteit Helpende Hand hou kos op droogtegeteisterde boere se tafels

Solidariteit Helpende Hand stel koopbewyse beskikbaar vir boere wat deur die droogte geraak word

Die ergste droogte in dekades het verreikende gevolge vir die land wat nog baie lank gevoel gaan word. Vir baie boere sal die eerste prioriteit wees om hul vee aan die lewe te hou. Om kos op die tafel te hou, word tweede gestel. Solidariteit Helpende Hand wil egter seker maak dat ons land se boere nie onnodig swaarkry nie. Daarom het die organisasie fondse beskikbaar gestel wat in die vorm van koopbewyse aan boere geskenk kan word.

Boere wat deur die droogte getref is, word aangemoedig om ’n aansoekvorm in te vul om sodoende hulp van die organisasie te verkry. Helpende Hand sal die boere vir die volgende drie maande met koopbewyse ondersteun.

Dr Danie Brink, uitvoerende hoof van Helpende Hand, het sy organisasie se hulp aan die droogtegeteisterde boere bevestig: “Helpende Hand is diep besorg oor die humanitêre krisis wat onder ons boere op die platteland ontstaan het. Ons bied graag ondersteuning in die vorm van koopbewyse wat vir voedselaankope aangewend gaan word na ’n behoeftebepaling.”

Brink het bevestig dat die hulp wat die organisasie bied, slegs ’n druppel in die emmer is. “Ons is bewus daarvan dat Agri SA gesê het kommersiële boere het nog R1 miljard nodig om te herstel van die droogte. Die Helpende Hand Studiefondssentrum het ook reeds verskeie boere se kinders bygestaan met studielenings vir die 2016-akademiese jaar.”

Boere moet asseblief helpendehand.co.za/droogte besoek om ‘n aansoekvorm te kry wat hulle moet invul en stuur na droogte@helpendehand.co.za of faks na 086 218 3216.

Volgens Carl Opperman, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap, gaan die droogte ’n rimpeluitwerking deur die totale ekonomie te hê – voedselpryse styg, voedselinflasie neem toe en landbouskuld groei by die dag.

Helpende Hand het ander instansies aangemoedig om bydraes te maak aangesien die krisis drastiese gevolge vir die land se voedselvoorraad inhou en later die sakke van verbruikers ook gaan raak.

Help ons land se boere in hulle tyd van nood. SMS “boer” na 38969 en skenk R10 vir die fonds of maak ’n direkte inbetaling in Helpende Hand se rekening.

Solidariteit Helpende Hand
Bank: FNB
Rekeningnommer: 62 331 445 503
Tak: Centurion (takkode: 250 655)
Verwysing: Boer


KRAAL UITGEWERS

Nou by Kraal Uitgewers: Waar bome groei

Wat gebeur wanneer ʼn eiewys wilgerboom, ʼn saggeaarde appelboom, ʼn liggeraakte doringboom en ʼn liefdevolle kremetart as’t ware in dieselfde tuin beland? In die pragtig geïllustreerde en eg Suid-Afrikaanse kinderverhaal Waar bome groei deur Ria Claassen (illustrasies deur Alzette Prins) kry hierdie bome lewe. Hul lewens is egter nie sonder uitdagings nie want terwyl die appelboom die boord en sy mense verkies, droom die wilgerboom van ʼn lewe aan die oewer van ʼn rivier met die wind wat deur sy takke waai. Die doringboom en kremetart wil ook hul sin kry, maar hoe gemaak om almal tevrede te stel? Die wyse uil beraam ʼn plan en span boonop die voëltjies van die veld in om te help. Waar bome groei is beskikbaar by Kraal Uitgewers.

Kontak die uitgewer by 012 644 4430 of stuur ʼn e-pos na kraal@kraaluitgewers.co.za om jou eksemplaar te bestel.

Prys: R110 (posgeld uitgesluit)


RUBRIEKE:

BEDRYFSBROKKIES

Werkplek-buigsaamheid maak sin en is baie voordelig
Deur Anja van den Berg

Suid-Afrikaanse maatskappye bly maar konserwatief as dit by telependel en afstandswerk kom. ’n Onlangse studie kan dalk topbesture aanspoor om hul beleide te heroorweeg.

Afstandwerk via die internet kan Suid-Afrika se ekonomie jaarliks ’n hupstoot van R17 miljard gee volgens ’n studie deur die maatskappy vir mobielewerkplek-oplossings Citrix en die Londense Centre for Economics and Business Research. Die studies het gefokus op die potensiële ekonomiese impak indien korporatiewe Suid-Afrika ’n “werk op enige plek”-kultuur sou kweek.

Net meer as 1 250 Suid-Afrikaners het deelgeneem aan die opname met kenniswerkers soos argitekte, sagteware-ingenieurs, prokureurs, dokters, rekenmeesters en akademikci as respondente.

Sleutelbevindings van die studie dui aan dat telependel en afstandwerk via die internet 0,4% by die bruto binnelandse produk kan voeg en pendelkoste met R39,5 miljard kan sny. Hierby kom nog dat werknemers jaarliks 320 miljoen uur aan pendel- en reistyd sal bespaar.

’n Groot klomp geskoolde en opgeleide indiwidue kan om verskeie redes nie by die korporatiewe omgewing en tradisionele kantooropset aansluit nie. Sommige is byvoorbeeld primêre versorgers van klein kindertjies terwyl ander weer saam met hul gades hervestig het en in afgeleë dele van die land woon.

“Die interessantse vir my was die fokus daarop dat werkbuigsaamheid werkgewers potensieel in staat stel om gebruik te maak van mense met vaardighede, mense wat tans nie ekonomies betrokke is nie omdat hulle nie in ’n formele werkplek kan werk nie,” sê Brendan McAravey, landbestuurder van Citrix South Africa.

Meer as 90% van hierdie respondente het gesê dat as hulle die middele het om op ’n afstand of buigsaam te werk, hulle graag weer by die ekonomie sou wou inskakel. Studies het voorts ook aangedui dat daar 574 000 deeltydse werkers in Suid-Afrika is wat sou verkies om op ’n afstand te werk. Deur hierdie werkers die geleentheid te gee, kan daar potensieel ’n bykomende R5,2 miljard in bruto toegevoegdewaarde-lewering vir die land se ekonomie geskep word.

Moneyweb berig dat korporate wat in Sandton gebaseer is, die pas vir buigsame werktoestande aangee. Dit blyk dat die meeste besighede in Afrika se rykste vierkant myl buigsame werktoestande vir personeel aangryp om produktiwiteit te optimaliseer – deels as gevolg van die groterwordende verkeersophoping in die gebied. Verkeersophoping in Johannesburg skyn al erger te word en die Tom Tom’s South African Traffic Index sonder Sandton in die besonder uit as ’n brandpunt vir ophoping.

McAravey is van mening dat plaaslike organisasies dit moet oorweeg om hul fokus van ure by die werk deurgebring na produktiewe uitsette te verskuif. “Korporate se teenkanting teen afstandwerk is ’n uitdaging wat Suid-Afrika moet oorkom. Tegnologie is nie nou meer ’n probleem nie, dis eintlik ’n kulturele kopskuif,” voeg hy by.

Die werkomgewing verander voortdurend en, volgens Ayn Brown, sal werkskedules nie binne die afsienbare toekoms reggestel word nie. Brown, wat praat as Nedbank se uitvoerende menslikehulpbron-beampte vir organisasieontwikkeling, sê baie organisasies formaliseer nou buigsame werkopsies vir werknemers.

“Talentvolle individue is bereid om lang, moeilike ure te werk as dit nodig is, maar verwag in ruil daarvoor ’n mate van buigsaamheid om na hul eie persoonlike behoeftes om te sien,” verduidelik sy. “Maatskappye wat steeds traag is om buigsame werkskedules ter wille van werknemers se behoeftres in te stel, sal die vermoë verloor om kritieke vaardighede en talent te behou.”

 

MY WERK

Werk en studeer gelyktydig: Hoekom meer mense hierdie roete volg
Deur Francois Redelinghuys

Die onlangse betogingsaksies deur studente teen die voorgestelde verhoging van universiteitsgelde het my summier ook laat terugdink aan verskeie vriende en kennisse wat vanweë die hoë koste van universiteitstudies noodgedwonge moes werk terwyl hulle studeer het.

Navorsing deur NUS Services in die Verenigde Koninkryk toon dat al hoe meer mense gelyktydig werk en studeer om sodoende hul studies te kan befonds. Sowat 59% van die respondente in die studie het aandui dat hul tegelykertyd werk en studeer.

Met die huidige ekonomiese vooruitsigte begin al hoe meer mense hierdie opsie oorweeg, met 35% van die deelnemers aan die studie wat gelyktydig werk en studeer en wat aandui dat hulle hierdie roete moet volg om te verseker dat hulle nie oortollige skuld aangaan nie. Dit is egter nie die enigste motiverende faktor nie. Een van die groot redes waarom al hoe meer mense werk terwyl hulle studeer (53%) is om te verseker dat hul meer indiensneembaar is teen die tyd wat hul studies voltooi is.

Hierdie faktor kan ook aan moontlike ekonomiese omstandighede en hoë werkloosheidsyfers toegeskryf word. In Suid-Afrika sien ons ook ’n vlaag van òf werkendes wat studeer, òf studente wat werk. Die realiteit is verder dat al hoe meer universiteite en tersiêre instellings begin om hul kurrikulums so saam te stel dat dit vir studente moontlik is om ook te kan werk. Daar word voorspel dat die aantal studente in Suid-Afrika wat gelyktydig werk en studeer in die toekoms net gaan toeneem.

Hier volg drie wenke vir dié van julle wat dieselfde doen:

Prioritisering is belangrik
Prioritiseer jou lewe en skeduleer jou take. Sodoende sal jy nooit vasbrand met alles wat jy moet klaarkry nie.

Effektiewe tydsbestuur
Maak seker dat wanneer jy ’n skedule opstel, jy deeglik bewus is van hoeveel tyd jy vir watter taak benodig. Bestuur jou tyd effektief sodat jy ook rusperiodes vir jouself kan inruim.

Werk rustyd in
Dit is belangrik om rusperiodes vir jouself af te knyp. Die pas wat jy moet volhou, is ongelooflik vinnig en jy sal kort voor lank uitbrand. Rus effektief wanneer jy rus.

 

MY GESONDHEID

Hoeveel ure per dag bring jy op jou sitvlak deur?
Saamgestel deur Medihelp (Vir be-kostigbare voordele-opsies, SMS “solidariteit” na 32291.)

Die gemiddelde Suid-Afrikaanse kantoorwerker sit daagliks vir meer as 10 ure lank by die kantoor. Tuis word nog meer tyd op ’n bank voor die TV of ’n stoel voor die rekenaar deurgebring. Dit veroorsaak gesondheidsprobleme wat nie omgekeer kan word bloot deur ’n gemiddelde daaglikse oefensessie van 30-60 minute te volg nie.

Wat is die newe-effekte van te veel sit?

As jy te veel sit, kan jy die volgende newe-effekte ervaar:

Hartsiekte

Onaktiwiteit verlaag bloedsirkulasie en die tempo waarteen jou liggaam vet verbrand. Gevolglik pak vetsure in die are saam wat tot hartsiekte kan lei.

Diabetes

As jy lank stil sit, affekteer dit die manier waarop jou liggaam op insulien reageer. Die pankreas vervaardig meer insulien, wat die kanse verhoog dat jy diabetes kan kry.

Verteringsprobleme

As jy onaktief is nadat jy geëet het, word die kos saamgepers en vertraag dit die verteringsproses. Die volgende is simptome van ’n trae verteringstelsel:

•           Krampe
•           Opgeblasenheid
•           Hardlywigheid
•           Sooibrand
•           Disbiose

Postuurprobleme

As jy by ’n tafel sit, veral terwyl jy op ’n rekenaar werk, kan jou postuur jou nek-, skouer- en rugspiere ooreis. Dit kan kort- en langtermynskade aan jou liggaam veroorsaak.

Geesteskwessies

As jou liggaam vir te lank sedentêr is, verlangsaam jou breinfunksie. Die brein benodig gesonde bloedvloei en suurstof om beter te funksioneer.

Verswakte abdominale spiere

Wanneer jy staan, is jou abdominale spiere gespanne. As jy elke dag vir te lank aaneen sit, verswak jou abdominale spiere. Dit kan lei tot laerugpyn.

Heupprobleme

’n Sedentêre leefstyl veroorsaak dat die heupfleksors verkort, wat kan bydra tot rugpyn en die beweeglikheid van die heupe verminder. Dit kan veroorsaak dat bejaardes val en frakture opdoen.

Spatare

Deur te lank te sit, verswak die sirkulasie in die bene. Dit lei weer tot geswelde enkels, spatare en die selfs ernstiger toestand bloedklonte.

Hoe kan jy die newe-effekte van te veel sit teenwerk?

•           Sorg dat jy regop sit terwyl jy by jou tafel werk
•           Staan ten minste een keer per uur op
•           Staan op en stap na jou kollegas se tafels pleks van om vir hulle e-pos te stuur
•           Parkeer verder weg van die kantoor
•           Gaan stap tydens middagete
•           Oefen elke dag vir 30-60 minute
•           Sit vir ’n paar uur elke dag op ’n oefenbal by jou tafel

Sluit by Medihelp se eie welstandsprogram aan
Medihelp Mediese Skema is altyd op soek na maniere om die lewens en gesondheid van ons lede te verbeter – daarom is ons baie trots op ons eie gesondheids- en welstandsprogram HealthPrint.

HealthPrint is ’n gratis aanlyn program eksklusief vir Medihelp-lede, waarmee jy jou gesondheidstatus kan monitor en toegang tot jou eisegeskiedenis en voordele kry terwyl jy die waarde geniet wat HealthPrint se vennote bied. Lees meer oor HealthPrint op die webblad.

 

EKONOMIESE NUUS

Daar is reeds ʼn resessie in Suid-Afrika
Deur Paul Joubert
Herhaling

Daar word gedurig in die Suid-Afrikaanse media berig oor die bedreiging van ʼn ekonomiese resessie, en hoe dit hopelik vermy kan word. Die ongelukkige waarheid is egter dat die Suid-Afrikaanse ekonomie reeds minstens ʼn jaar lank in resessie is – weliswaar nie ʼn skielike resessie nie, maar dit maak dinge nie beter nie.

Wanneer die media oor ʼn “resessie” berig, word daar eintlik bedoel “twee agtereenvolgende kwartale van inkrimping in die bruto binnelandse produk (BBP)”. Indien dit tegnies klink, is dit goed so, want dit is ʼn hoogs tegniese definisie en is van weinig waarde behalwe in handboeke. Enige ekonoom wat sy sout werd is, steur hom nie aan daardie definisie van “resessie” nie. Die ware definisie van ʼn resessie is as nuutgeskepte welvaart oor ʼn lang tydperk minder is as voorheen.

In Suid-Afrika was die jongste inflasie-aangepaste BBP-groeisyfer, vir die eerste kwartaal van 2016, teen ʼn jaarkoers gelyk aan negatief 1,2%. In die kwartaal voor dit was die syfer positief 0,4%, voor dit was dit positief 0,3% en voor dit negatief 2,0%. Daar was dus nie twee opeenvolgende kwartale van inkrimping nie. Die groot inkrimpings van 2% en 1,2% is onderbreek deur klein stygings van 0,3% en 0,4%.

Enigiemand kan egter, sonder om eers ingewikkelde wiskunde hoef te doen, sien dat die posisie in die eerste kwartaal van 2016 beduidend swakker is as die posisie aan die begin van 2015. Net omdat die twee kwartale van inkrimping onderbreek is deur twee kwartale van uiters lae groei, beteken dit nie dinge is nou beter as wat dit was nie. Die bygaande grafiek toon hoedat daar agteruitgang kan wees sonder dat daar ooit “tegnies” ʼn resessie plaasvind, asook hoe daar ten spyte van “tegniese resessies” vooruitgang kan wees. Dit wys hoe absurd dit is om te bly vasklou aan ʼn handboekdefinisie van ʼn resessie eerder as om na die werklikheid te kyk.

Die Suid-Afrikaanse ekonomie is reeds meer as ʼn jaar lank in ʼn resessie, en eintlik nog langer indien BBP per capita beskou word eerder as slegs die gesamentlike syfer – en nog langer indien die BBP in ʼn internasionale geldeenheid soos die dollar of euro gemeet word.

 

MY SPORT

Het die Leeus ’n kans verspeel?
Deur Francois Redelinghuys

Johan Ackermann het vandeesweek voor sekerlik een van die moeilikste keuses te staan gekom oor die finale wedstryd in die poelronde van die Superrugby-reeks. Stuur ’n volsterkte span Argentinië toe om te wen en om só bo-aan die finale puntelys te eindig met ’n uitspeelwedstryd teen die Haaie (wat die Leeus onlangs goed geklop het) maar loop die risiko om dan uitgeskakel te word omdat die span moeg gereis is. Of, stuur ’n B-span Argentinië toe en loop die risiko om te verloor, wat sal beteken dat om bo-aan die puntelys te eindig iets van die verlede is. Dit sal dan ’n uitspeelwedstryd teen heel waarskynlik die Hurricanes beteken wat op hul beurt 50 punte teen die Leeus aangeteken het.

Dit is inderdaad ’n tameletjie.

Johan Ackermann, iemand wat volgens my baie op sy instink staatmaak, het egter die tweede opsie gekies. Die Leeus pak laat Saterdagaand die Argentynse Jaguares met ’n sogenaamde B-span. Dit beteken dat al die Leeus se Bokstaatmakers, naamlik Faf de Klerk, Jaco Kriel, Elton Jantjies en Ruan Combrinck nie die lang tog na Argentinië gaan meemaak nie.

Dit sal natuurlik die kersie op die koek wees as hierdie sogenaamde B-span daarin slaag om die Jaguares te tem. Dit sal beteken dat die Leeus bo-aan die puntelys sal eindig en alle verdere wedstryde op Ellispark, oftewel Emirates Airline Park, selfs die superrugby-eindstryd sal speel.

Die Bulle het so twee naweke gelede voor dieselfde keuse te staan gekom met Bulbreier Nollis Marais wat ook besluit het om sy sogenaamde eerstespanspelers ’n ruskans te gun. Dit het egter nie so goed vir die Bulle uitgewerk nie en dié besluit het die Bulle se tog om die uitspeelwedstryde te haal vir alle praktiese doeleindes beëindig.

Iets wat wel vanjaar in die Leeu-groep duidelik waarneembaar is, is die spangees en hegte bande wat binne die sogenaamde Leeu-familie bestaan. Al die spelers in die Leeu-oefengroep blyk gereed te wees om op enige gegewe tydstip hul plek in die span in te neem en om dit boonop op heldhaftige wyse te doen.

Kom ons hoop, vir die beswil van Suid-Afrikaanse rugby, dat die Leeus Saterdag wen. Dit sal die Leeu-sprokiestorie soveel mooier maak.

Een ding waaroor ek bly is, is die feit dat ek nie ’n Haai-speler is wat Saterdag tot die middernagtelike ure moet wag om te hoor of ek Nieu-Seeland toe moet gaan of nie.

 

RIDDER EN RAMPOKKER

Deur Francois Redelinghuys

Ridder

Vandeesweek se ridders is drie Suid-Afrikaners wat onlangs besluit het om te voet van Pretoria na Kaapstad te reis as deel van ’n fondsinsamelingsprojek vir Home of Hope. Jason Knoetze, Miguel Thomaz en Yorke Scott het dit goed gedink om op die manier fondse vir hierdie liefdadigheidsorganisasie in te samel en het hul eie projek, Running for Hope, vir die einste doel gestig. Die drie het op 15 Junie vanuit Pretoria weggespring en het reeds meer as 900 kilometer afgelê. Daar word bereken dat hulle voor die einde van die maand in Kaapstad sal aankom. Intussen het hul fondsinsamelingsprojek al meer as R15 000 ingewin.

Rampokker

Vandeesweek se rampokkers is twee rowers wat onlangs paramedici aangehou het terwyl hulle besig was om die slagoffer van ’n messteekwond te behandel. Die rowers het wapens op die ses paramedici gerig en hulle van hul besittings, insluitend selfone en beursies, beroof. Hulle het ook ’n sak vol medisyne en die ambulans se tweerigtingradio gebuit. Die voorval het in Jeppestown plaasgevind toe die paramedici die messteekslagoffer omstreeks 4:00 die oggend bygestaan het.

 

REGSVRAAG

Jou etenstyd
Deur Leandri Streit

Vraag

Wat sê die reg oor jou etenstyd?

Antwoord

Werknemers is soms onseker oor hul regte en verpligtinge wat hul etensuur betref.

In hierdie opsig hanteer die Wet op Basiese Diensvoorwaardes die aangeleentheid volgens ʼn inkomstedrempel; tans is dit R205 433,30 per jaar of ongeveer R17 120,00 per maand. Indien jy meer as dit verdien, is hierdie wetsbepalings nie op jou van toepassing nie en jou etensure word deur jou dienskontrak en/of gebruike en ooreenkomste in die werksplek bepaal.

Indien jy egter minder as die drempelbedrag verdien, stipuleer die wet ʼn basiese minimum van ʼn uur lange etenstyd nadat jy vyf uur aanmekaar gewerk het. Jy en jou werkgewer kan egter ooreenkom oor ʼn korter etenstyd, maar dit mag nooit minder as 30 minute wees nie.

Jou etensuur is jóú tyd en jy word ook nie daarvoor vergoed nie. Die werkgewer kan jou egter vra om in jou etenstyd te werk mits dit dringende werk is wat niemand anders kan doen nie. Indien jou werkgewer gereeld van jou verwag om in jou etenstyd te werk of om vir werk beskikbaar te wees, moet hy jou vir jou tyd vergoed. As jy egter sélf besluit om deur jou etensuur te werk, kan jy nie vergoeding daarvoor eis nie.

Kontak ons gerus by 0861 25 24 23 of stuur ʼn e-pos na diens@solidariteit.co.za as jy enige navraag oor jou regte en verpligtinge as werknemer het.

 

HET JY GEWEET?

Robert Hunter was in 2002 die eerste Suid-Afrikaner wat die Tour de France voltooi het. Hy het die 97ste plek behaal.

Bron: Pharos se feitegids.

 

SPREEKWOORD

ʼn Noot soos ʼn voorslagriempie rek. ʼn Musieknoot baie lank aanhou.

Bron: Pharos se spreekwoordeboek en waar hulle vandaan kom.

 

AANHALING

Ware geluk is om jou intellek vrylik te kan gebruik. - Aristotle

 

ATTERBURY TEATER:

Hoogtepunte by die Atterbury Teater

Vertoning/ geleentheid

Datum

Tyd

Prys

Thumbelina O.A.K. Kinderteater
Bespreek by:
bookings@oakyt.co.za

16 – 22 Julie

-

R100 / R120
Blokbespreking 20+: R90 pp

Kaartjies is by enige Computicket-kantoor beskikbaar of skakel 083 915 8000 om ʼn bespreking te doen. Atterbury Teater is geleë op die hoek van Lynnwoodweg en Daventrystraat in Lynnwood. Skakel die teater by 012 471 1700 of stuur ʼn e-pos na info@atterburytheatre.co.za.

 

ATLETIEKKLUB

Sluit só aan by die Solidariteit Atletiekklub

Word vandag nog deel van die Solidariteit Atletiekklub. Skakel klubvoorsitter Hendrik van der Westhuizen by 082 851 8451 vir meer inligting of stuur 'n e-pos na atletiek@solidariteit.co.za.

 

Teken uit / Teken in