Soldeer
|
Nr. 634 - 14/05/2015 |
HOOFSTORIE: |
Solidariteit ontvang steun vir klag by VN
Deur Inge Strydom
Suid-Afrikaners oor 'n wye spektrum, insluitend verskeie meningsvormers, het vandag tydens 'n konferensie in Pretoria hul steun betoon vir Solidariteit se klag teen die Suid-Afrikaanse regering oor regstelaksie by die Verenigde Nasies (VN). Daarby het die vakbond die eerste insette op sy verslag, wat in Augustus vanjaar by die VN ingedien word, ontvang.
Die meningsvormers wat aan die konferensie deelgeneem het en hul insette gelewer het, sluit in: Martin Brassey SC; Herman Mashaba en Sandile Zungu, bekende sakelui; Theuns Eloff, voorsitter van die F.W. de Klerk-stigting; Temba Nolutshungu, direkteur van die Vryemarkstigting; Cornelius Jansen van Rensburg, adjunk-uitvoerende hoof van AfriForum en Tony Leon, voormalige leier van die Demokratiese Alliansie (DA).
Die konferensie lui die begin in van 'n twee maande lange openbare proses om insette te kry van Suid-Afrikaners oor die hele ras- en politieke spektrum heen om sodoende 'n breë spektrum van Suid-Afrikaners se mening in die verslag te weergee.
Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, meen die konferensie en openbare insetproses is die eerste stap om debatvoering oor die omstrede kwessie van regstellende aksie in Suid-Afrika te bevorder.
“Ons is nie demokratiese onderdane wat die staat ten alle koste moet gehoorsaam nie, maar demokratiese burgers wat die waardes van ons demokrasie, soms ten spyte van die staat, moet beskerm. Ons vertrou dat vandag se konferensie en die publiek se insette ons konsepverslag positief sal beïnvloed,” het Hermann gesê.
Solidariteit het alle Suid-Afrikaners genooi om hul insette by www.solidariteit.co.za te gaan lewer.
Die vakbond se verslag aan die VN handel spesifiek oor die regering se oortreding van die VN-konvensie wat alle vorme van rassediskriminasie verbied. “Ons is van mening dat die Suid-Afrikaanse regering die internasionale wette, konvensies en praktyk oor regstellende aksie oortree. Die gevolg is benadeling, nie net van die nie-aangewese groep nie, maar van die breë Suid-Afrikaanse samelewing,” sê Hermann.
Hermann verduidelik die regering se beleid van rassekwotas kan nie as regstellende aksie gedefinieer word nie, maar eerder as ’n vorm van neo-rassisme wat nêrens in die wêreld aanvaarbaar is nie.
Van die belangrikste punte van Solidariteit se klag teen die regering se neo-rassisme is dat:
- Verskillende silo’s vir verskillende ras- en geslagsgroepe geskep word;
- Die regering ’n toekoms deur maatskaplike manipulasie wil skep;
- Rasseklassifikasie in Suid-Afrika weer geïnstitusionaliseer word;
- Rasverskille die basis vir besluitneming geword het;
- Nie op benadeling van die verlede gefokus word nie, maar slegs op ras;
- Daar nie ’n sonsondergangklousule is nie omdat die rassedemografie deurlopend verander;
- Daar nie 'n fokus op opleiding en ontwikkeling van mense is nie, maar slegs op wiskundige uitkomste; en dat
- Rassekwotas nagejaag word sonder inagneming van dienslewering.
Daarteenoor bepaal internasionale praktyke oor regstellende aksie dat:
- Geen silo’s geskep mag word nie, dat ook gekyk word na klas en dat ras net in uiterse gevalle gebruik moet word;
- Benadeling in sy geheel, en nie net met syfers nie, reggestel moet word;
- Gewaak moet word daarteen dat vorme van rasseklassifikasie nie geïnstitusionaliseer moet word nie;
- Daar met die oog daarop dat slegs meriete uiteindelik gebruik word, 'n sonsondergang moet wees wat nie verder strek as wat nodig is nie;
- 'n Verskeidenheid van faktore in ag geneem moet word, wat insluit billikheid, individuele meriete en operasionele vereistes;
- Gefokus word op opleiding en ontwikkeling van mense as die belangrikste metodes van regstelling; en dat
- Gefokus word op goeie dienslewering as 'n vorm van regstelling, veral vir armes.
Hieronder volg uittreksels uit enkele van die insette wat tydens die konferensie gelewer is:
Tony Leon, voormalige leier van die DA:
Op grond van my onlangse betrokkenheid as ’n senior Suid-Afrikaanse diplomatieke verteenwoordiger kan ek beslis bevestig dat hierdie regering bedag is op sy internasionale verpligtinge en dat die rol en sentraliteit van die VN, sy konvensies en komitees as arbiters in die geval van internasionale en plaaslike konflik vir die regering van opperbelang is. As ’n land wat ’n ondertekenaar van die konvensie is, is dit nie alleen reg nie maar hoort dit ook so te wees dat ons nasionale optrede ingevolge die konvensie onder die loep geneem word. Ek wens Solidariteit derhalwe daarmee geluk dat hy hierdie belangrike en noodsaaklike proses aanpak.
Temba Nolutshungu, direkteur van die Vryemarkstigting:
Die grootste politieke bedrog wat tot dusver ná apartheid gepleeg is, is die verordening van regstellendeaksie-beleid waarna op eufemistiese manier verwys word as swart ekonomiese bemagtiging. Dit is ’n bedrieëry want die voorstanders van die beleid moes bewus wees het van die empiriese bewyse dat ’n beleid van regstellende aksie, waar dit ook al in die wêreld nagestreef is, ten beste klaaglik misluk het, en op sy ergste teenproduktief was. Die beleide lewer nie die gewenste resultate op nie; hulle verryk die elite binne die teikengroep wat politieke verbintenisse het, en uiteindelik vervreem dit sekere bevolkingsektore.
Herman Mashaba, bekende sakeman:
Hierdie skaduverslag van Solidariteit aan die Verenigde Nasies se komitee vir die uitwissing van alle vorme van rassediskriminasie is meer as ’n allerbelangrike inisiatief. Rassediskriminasie het oor die afgelope 300 jaar van ons opgetekende geskiedenis die lewe van elke mens in Suid-Afrika geraak, en dit is ongelukkig vandag steeds die geval.
Cornelius Jansen van Rensburg, adjunk-uitvoerende hoof van AfriForum:
As elke sektor van die Suid-Afrikaanse ekonomie die land se rassedemografie moet weerspieël, sal dit die ekonomiese geleenthede wat tot die beskikking van die nuut-uitgeslote rassegroepe is vir alle praktiese doeleindes afkamp. Dit sal uiteindelik ’n monopolie ten opsigte van die aanbod van goedere en dienste skep.
|
SOLIDARITEIT NUUS: |
UJ tree op teen vermeende rassistiese dosent – Solidariteit
Deur Inge Strydom
Die Universiteit van Johannesburg (UJ) het vandag bevestig dat een van sy dosente wat vermeende rassistiese inskrywings op haar Twitter-profiel gemaak het, hangende 'n dissiplinêre ondersoek geskors is. So sê die vakbond Solidariteit wat vroeër in ’n skrywe aan die universiteit daarop aangedring het dat daar dissiplinêr opgetree moet word teen die dosent.
Volgens Johan Botha, bedryfshoof van die Professionele Bedryf by Solidariteit, maak die dosent al vir 'n geruime tyd snedige en afbrekende aanmerkings, spesifiek teenoor wit mense, op haar persoonlike Twitter-profiel.
“Die dosent se inskrywings openbaar 'n duidelike aanval op wit mense. Ons meen haar optrede druis in teen die deugsame kultuur en beginsels van die universiteit en blaas onnodige rassespanning aan. Sulke optrede moet in die kiem gesmoor word,” het Botha gesê.
Botha sê dat indien die universiteit na gelang van die dissiplinêre ondersoek nie na behore teen die dosent optree nie, Solidariteit verdere stappe teen haar en die universiteit sal oorweeg. “UJ handhaaf egter 'n streng beleid ten opsigte van rassistiese optrede onder sy personeel. Ons meen die dosent se uitlatings regverdig die universiteit se dringende en streng optrede,” het Botha gesê.
Botha verduidelik dat artikel 60 van die Wet op Gelyke Indiensneming voorsiening maak vir optrede teen 'n werkgewer wat nie die nodige dissiplinêre stappe teen 'n werknemer wat rassistiese gedrag openbaar, neem nie. “Dit is maar een van die moontlikhede wat ons sal oorweeg indien daar nie na behore teen die dosent opgetree word nie,” het Botha gesê.
|
Probleme met vergoedingsfonds se nuwe stelsel strek veel wyer as net “tandekryprobleme” – Solidariteit
Deur Inge Strydom
Die vakbond Solidariteit sê dat die probleme wat met die vergoedingsfonds se nuwe elektroniese eisebestuurstelsel ondervind word, veel wyer strek as “tandekryprobleme,” soos wat die minister van arbeid, Mildred Oliphant, onlangs daarna verwys het.
Minister Oliphant het in haar onlangse begrotingsrede gesê die “tandekryprobleme” behoort iets van die verlede te wees sodra diensverskaffers meer vertroud is met die stelsel. Die direkteur-generaal, Thobile Lamati, het boonop onlangs die versekering aan LP’s gegee dat die agterstand van 231 000 eise teen Junie uitgewis sal wees.
Paul Mardon, hoof van Solidariteit se afdeling vir beroepsgesondheid en -veiligheid, sê dit is onduidelik hoe hierdie eise teen Junie afgehandel kan wees aangesien die vergoedingsfonds gebuk gaan onder ’n totale gebrek aan dienslewering.
“Die indieningsproses vir eise het so moeisaam geword dat selfs die vergoedingsfonds se eie personeel oënskynlik probleme ondervind om dit te bedryf. Boonop is die diens wat deur die oproepsentrum gelewer word inkonsekwent en onbetroubaar,” het Mardon gesê.
Mardon verduidelik dat een van die grootste struikelblokke wat die nuwe stelsel inhou daarmee verband hou dat werknemers en vakbonde vir alle praktiese doeleindes uitgesluit word daarvan om dokumente aan die vergoedingsfonds voor te lê. Eisers word dus uitgesluit van betrokkenheid by hul eise.
“Werknemers sowel as vakbonde kon in die verlede dokumente indien. Dit het die spoedige afhandeling van eise bemoontlik. Nou is slegs werkgewers en mediese diensverskaffers op die stelsel geregistreer om dokumente in te dien.”
Mardon het bygevoeg dat die departement van arbeid óf uit voeling is met die realiteite rondom die vergoedingsfonds, óf eenvoudig die omvang van die probleem ontken. “Dit is ongelukkig ’n probleem wat nie bloot ontken of aan tandekryprobleme toegeskryf kan word nie. Ons doen weereens ’n beroep op die departement en die openbare vervolger om die omvang en gevolge van hierdie ongelukkige situasie dringend in oënskou te neem en om Solidariteit se pogings om hierdie probleem dringend te takel, te steun,” het Mardon gesê.
“Ons rig ’n uitnodiging aan ’n verteenwoordiger van die departement van arbeid om ’n besoek aan Solidariteit te bring om te sien hoe ons, as ’n vakbond met jare se ondervinding met die hantering van eise, met die nuwe stelsel sukkel,” het Mardon gesê.
|
Ongelykheid in inkomste - Vroue is die benadeeldes
Deur Helena Oosthuizen
Volgens Bloomberg is staatsbesteding sedert die wêreldwye finansiële krisis van 2008 ingekort om markte sodoende te probeer stabiliseer. Dit blyk egter dat vroue meer as mans hierdeur benadeel is, wat gevolglik tot groter inkomste-ongelykheid gelei het. VN Vroue, die Verenigde Nasies se organisasie vir die bemagtiging van vroue, voer aan dat breë beleidsrigtings die oorsaak is.
Volgens hul verslag, Vordering van die wêreld se vroue 2015: Die hervorming van ekonomieë, die realisering van regte, “kan makro-ekonomiese beleid geslagsgelykheid en maatskaplike geregtigheid bevorder”. Die verslag meld dat, vergeleke met 75% van mans, die helfte van vroue oor die wêreld heen deel vorm van die arbeidsmag. Boonop is 95% van vroue uit ontwikkelende lande in poste sonder arbeidswetgewingsbeskerming en 83% van vroulike huiswerkers word nie deur minimum lone beskerm nie.
Phumzile Mlambo-Ngcuka, voormalige adjunkpresident van Suid-Afrika en tans die direkteur van die VN Vroue, sê dat “openbare hulpbronne nie reg aangewend word nie”. Veilige water en sanitasie asook goeie gesondheidsorg is van die noodsaaklikhede wat ontbreek. Vroue doen 64% van die klerklike werk in die wêreld en hulle beklee 55% van die verkoopsposte. Volgens die Internasionale Handelsorganisasie word ’n skamele 33% van die bestuursposte deur die skoner geslag beklee en 75% van hulle het al seksuele teistering in die werksplek ervaar. Daar is ook ’n tekort aan geskoolde vroulike arbeid aangesien slegs 17% van die ambagsposte en 37% van die landbouposte deur vroue gevul word.
Wêreldwyd verdien vroue 24% minder as mans en hulle kry nie sommer in die werkplek toegang tot voordele soos pensioen nie. Moeders beleef egter selfs 'n groter agterstand. In Suid-Asië verdien ma’s 35% minder as mans terwyl kinderlose vroue net 14% minder verdien. In Afrika suid van die Sahara verdien vroue met kinders 30% minder en in Frankryk en Swede verdien vroue 31% minder. Duitsland staan op 49% minder en Turkye staan bo-aan die lysie met 75%.
Probleemoplossingsvoorstelle wat in die verslag genoem word, sluit werkskepping in deur die daarstel van “ordentlike maatskaplike dienste en veiligheidsnette”. Die verslag staan daarby dat “sukses nie net aan ekonomiese groei gekoppel moet word nie, maar ook aan die handhawing van menseregte”. Volgens Shahra Ravazvi, hoofskrywer en -navorser, is die voorstelle wel implementeerbaar. “Baie lande, selfs lae-inkomste ontwikkelende lande, het reeds fasette daarvan in werking gestel. Die verandering is verreikend, maar wel doenbaar.”
Dr. Babatunde Osotimehin, uitvoerende direkteur van die Verenigde Nasies se Bevolkingsfonds, voeg by dat “nasies, gemeenskappe en families eers sal floreer wanneer vroue en tienermeisies gelyke regte en geleenthede het”. Daarom is dit van kardinale belang dat nasies die probleemoplossingsvoorstelle wat in die VN Vroue se verslag genoem word, moet probeer implementeer. Dit sal ekonomiese vooruitgang tot gevolg hê, wat enige land sal bevoordeel.
|
Wat het ons voor kerse gehad?
Slimmeters en intelligente netwerke bied nuwe lig vir die toekoms
Jare gelede het almal gelag wanneer die spotvraag hierbo oor die toestand in Zimbabwe gevra is. Met Eskom se eerste toepassing van fase 4-beurtkrag die afgelope week, het dit egter nou vir Suid-Afrika ook relevant geraak! Ons is noodgedwonge terug by kerse!
Intussen is daar tegnologiegedrewe tendense regoor die wêreld wat die tradisionele aard van meganutsmaatskappye soos Eskom uitgedien maak. Tesame met politieke inmenging is die vasklou aan die argaïese model vir nutsmaatskappye ’n trefseker resep vir mislukking. Leon Louw van die Vryemarkstigting wys in ’n onlangse artikel daarop dat die politici blykbaar die bisarre verwagting het dat die vervanging van spesialiste en bestuur in mislukte instansies deur nuwe spesialiste en nuwe bestuur om dieselfde gedoemde beleid uit te voer, uitkoms sal bied.
Eskom is ’n dinosourus in ’n moderne wêreld waar ander nutsmaatskappye beweeg is om te ontbondel, te privatiseer en voorsiening te maak vir ’n relatief vry energiemark.
Nuwe tendense in die energiewêreld sluit in die benutting van uiteenlopende en verspreide kragontwikkeling (van steenkool tot sonkrag, van kragsentrales tot huise) deur ’n energie-internet wat uit slimmeters, intelligente verspreidingsnetwerke en dinamiese elektrisiteitprysbepaling bestaan. Slimmeters verskaf feitlik intydse bidireksionele kommunikasie tussen die netwerk en elektrisiteitsgebruikers, waar dit in die verlede maar ’n eenrigtingaffêre een maal ’n maand was. In samehang hiermee kan intelligente netwerke elektriese las geografies en oor tyd meer eweredig versprei, ompaaie vind waar kragonderbrekings plaasvind en selfs dinge doen soos om huishoudings se geisers gedurende verbruikspieke af te skakel. Vir ’n blik op hierdie toekoms, loer gerus na hierdie video.
Alhoewel ons gelukkig sal wees indien ons binnekort enigeen van hierdie ontwikkelings op groot skaal beleef, is dit nie nodig om in die donker te sit terwyl ons op die staat wag nie. Dit is ook nie nodig om met kerse te volstaan nie. Daar is reeds heelwat tegnologie beskikbaar vir mense wat nou reeds verantwoordelikheid vir hul eie elektrisiteitsvoorsiening wil aanvaar. Ook vir die entrepreneur bied die huidige Suid-Afrikaanse werklikheid ’n gulde geleentheid om (met blink planne) te dien en terselfdertyd geld te maak. ’n Goeie plek om jou gedagtes hieroor aan die gang te sit, is by die Solidariteit KragDag wat op 26 en 27 Junie 2015 plaasvind.
|
Wen 'n vakansie van jou keuse ter waarde van R25 000 indien jou eggenoot by Solidariteit aansluit
'n Groot Solidariteit-kompetisie skop op 16 Februarie 2015 af. Solidariteit-lede sal die kans staan om 'n vakansie van hulle keuse ter waarde van R25 000 te wen.
Om vir hierdie prys in aanmerking te kom, moet jy jou persoonlike inligting sowel as jou eggenoot se persoonlike inligting op 'n amptelike kompetisievorm invul en jou eggenoot moet by die vakbond aansluit.
Wat is op die spel?
Die wenner van die kompetisie sal 'n Flight Centre-geskenkbewys ter waarde van R25 000 ontvang. Die geskenkbewys kan by enige Flight Centre landswyd ingeruil word vir 'n vakansie van die wenner se keuse.
Wie mag aan die kompetisie deelneem?
Slegs lede en vakbondverteenwoordigers van Solidariteit mag aan die kompetisie deelneem. Solidariteit-personeel en hul direkte familie is van die kompetisie uitgesluit.
Hoe neem mens aan die kompetisie deel?
Die kompetisie begin op Maandag 16 Februarie 2015 en sluit op Vrydag 19 Junie 2015.
Om vir die prys in aanmerking te kom, moet die amptelike kompetisievorm hier (https://solidariteit.co.za/eggenoot-kompetisievorm/) ingevul word. Die aanlyn vorm bestaan uit twee dele: ’n afdeling waar bestaande Solidariteit-lede hulle persoonlike besonderhede moet invul en ’n afdeling waar hulle eggenote se besonderhede ingevul moet word om hul aansluiting by Solidariteit te voltooi. Lede moet die hele vorm invul en hulle eggenote moet by die vakbond aansluit om vir die kompetisie te kwalifiseer. Indien 'n eggenoot se aansluiting nie gefinaliseer kan word nie (om welke rede ook al), sal die betrokke lid daarvan in kennis gestel word.
Alle lede wat albei afdelings van die kompetisievorm voltooi en wie se eggenote by die vakbond aansluit, kom in aanmerking vir die prys.
Die pryswenner se naam word op 23 Junie 2015 getrek. Die wenner sal op 23 Augustus 2015 in die Solidariteit Tydskrif bekendgemaak word.
Lees die bepalings en voorwaardes hier (https://solidariteit.co.za/eggenoot-bepalings-en-voorwaardes/).
|
SOLIDARITEIT BEWEGING NUUS: |
AKADEMIA |
Uitnodiging na die tweedag Akademia Sakebestuur-werkswinkel op 27 en 28 Mei
Akademia en vennote nooi u as bestaande of voornemende klein / medium sake-eienaar na 'n uitmuntende geleentheid van groei vir u en u besigheid. Kenners in hul velde kom fasiliteer die verskillende aspekte van entrepreneur wees in besigheid, asook die onderskeie terreine waaruit besigheid bestaan en waarin u besigheid homself bevind. Aspekte wat gedurende hierdie twee dae gedek word, sluit in:
Dag 1 |
Dag 2 |
1. Die karaktereienskappe van die entrepreneur self; |
1. Kontantvloeibestuur; |
2. idee en ideevorming; |
2. finansiering; |
3. bemarking en verkope; en |
3. belastingaspekte; |
4. risiko-identifisering en bestuur. |
4. regsaspekte rondom jou onderneming; en |
5. personeel – hoe om die regte mense te
identifiseer. |
Hierdie nie-winsgewende inisiatief om ons sakemanne en -vroue en hul besighede meer volhoubaar te maak, vind in die Akademia studiesentrums in Pretoria Moot, Centurion, Boksburg, Roodepoort, Vanderbijlpark, Somerset-Wes en Bellville plaas op 27 en 28 Mei 2015.
Koste vir albei dae se bywoning is slegs R900, en sluit u sitplek, alle kursusmateriaal, etes en verversings in.
Bespreek vandag nog jou sitplek by www.sakeplankompetisie.co.za.
Let wel, jy hoef nie aan die kompetisie deel te neem om die werkswinkel by te woon nie!
Ons sien daarna uit om u daar te ontmoet!
Vriendelike groete
Chris du Plessis
|
AFRIFORUM |
AfriForum positief oor sy blou- en groendruppelverslag
Die burgerregte-organisasie AfriForum is positief oor verwikkelinge ten opsigte van die bestuur van watergehalte in gebiede regoor Suid-Afrika waar hulle takke geleë is. Die AfriForum blou- en groendruppelveldtog het in Maart hierdie jaar die gehalte van drink- en rioolwater in 132 dorpe getoets.
“Dit is ongelooflik om te sien hoe georganiseerde gemeenskappe verantwoordelikheid neem en aandring op hulle regte en die gehalte moniteer van die water wat deur hulle munisipaliteite verskaf word. Daardie dorpe wat nie voorheen aan regulasies voldoen het nie, is deur AfriForum voor stok gekry en ons het oor die algemeen beduidende verbetering gesien,’ sê Julius Kleynhans, AfriForum se hoof van omgewingsake.
Bloudruppel
AfriForum het die gehalte van drinkwater in 132 dorpe getoets, en slegs vyf munisipaliteite het nie aan die gehaltestandaarde vir drinkwater voldoen nie. ‘Verlede jaar was 11 uit 107 drinkwaterstelsels nie op standaard nie,’ sê Kleynhans.
Die bloudruppelresultate dui aan dat vyf munisipaliteite nie aan watergehaltestandaarde voldoen nie, naamlik:
- Molteno – Inkwanca Plaaslike Munisipaliteit: e. coli.
- Stella – Naledi Plaaslike Munisipaliteit: oormaat nitrate. Die monster het 50 mg nitrate per 100 ml water getoon, wat volgens die South African Water Quality Guidelines Volume 1: Domestic Water Use, tweede uitgawe, 1996 methemoglobinemie by babas kan veroorsaak.
- Tarkastad – Tsolwana Plaaslike Munisipaliteit: e. coli.
- Coligny – Ditsobotla Plaaslike Munisipaliteit: e. coli (vir die tweede agtereenvolgende jaar).
- Vryheid - Abaqulusi Plaaslike Munisipaliteit: e. coli.
* Volgens SANS: 214 nasionale standaarde mag daar geen e. coli in drinkwater wees nie.
Die gemeenskappe is deur AfriForum in kennis gestel om nie die water te drink nie en die munisipaliteite het kennis ontvang om die gehalte van hulle water reg te stel. Opvolgmonsters het aangedui dat die water skoon is.
Groendruppel
AfriForum het ook 58 rioolwaterstelsels in hul takke getoets, waarvan 26 nie aan gehaltestandaarde voldoen het nie. “Verskeie munisipaliteite het hulle deure vir ons gesluit en AfriForum hierdie jaar toegang geweier om die gehalte van hulle afvalwater te toets. Dit is verstaanbaar as die verskriklike stand van afvalwaterbestuur in die algemeen in die land in ag geneem word. Ons het egter beduidende verbetering in toegangsbeheer tot hierdie terreine gesien, en 15 rioolstelsels het dramaties verbeter en op die toetsdatums aan gehaltestandaarde voldoen,” sê Kleynhans.
“Die resultate beklemtoon dat die 26 afvalwaterbehandelingsaanlegte wat nie voldoen het nie ’n bedreiging vir menslike gesondheid, voedselsekerheid en die omgewing inhou,” voeg Kleynhans by. Suid-Afrika se nasionale watergehaltestandaarde maak vir 1 000 eenhede e. coli per 100 ml water in behandelde rioolvuil voorsiening.
Munisipaliteite wat nie voldoen het nie, is die volgende:
Tak |
Munisipaliteit |
Provinsie |
Groendruppel AfriForum 2013 |
Groendruppel AfriForum 2014 |
Groendruppel AfriForum 2015 |
Barkley-Oos |
Senqu Munisipaliteit |
Oos-Kaap |
|
|
2000 |
Belfast |
Emakhazeni PM |
Mpumalanga |
19 000 |
690 000 |
5 200 |
Bethel |
Goven Mbeki PM |
Mpumalanga |
|
|
450 000 |
Centurion |
Tshwane Metro |
Gauteng |
|
|
10 000 |
Christiana |
Lekwa-Taamane PM |
Noordwes |
|
|
3 500 |
Dullstroom |
Emakhazeni PM |
Mpumalanga |
|
|
2 000 |
Elliot |
Sakhisizwe PM |
Oos-Kaap |
36 000 |
Afgekeur |
4 000 |
Ermelo |
Msukaligwa PM |
Mpumalanga |
Groendruppel |
310 000 |
590 000 |
Kimberley |
Sol Plaatje PM |
Noord-Kaap |
|
|
1500 |
Klerksdorp |
City of Matlosana |
Noordwes |
|
>40 000 |
>1000 |
Kroonstad |
Moqhaka PM |
Vrystaat |
Skoon |
Afgekeur |
> 1 000 000 |
Langkloof (Joubertina) |
Kou-Kamma PM |
Oos-Kaap |
Groendruppel |
11 500 |
12 000 |
Lichtenburg |
Ditsobotla PM |
Noordwes |
> 120 000 |
59 000 |
4 000 |
Lydenburg |
Thaba Chweu PM |
Mpumalanga |
1 000 000 |
|
73 400 |
Newcastle |
Newcastle PM |
KwaZulu-Natal |
|
|
10 000 |
Oudtshoorn |
Oudtshoorn PM |
Wes-Kaap |
|
Skoon |
> 1000 000 |
Petrus Steyn |
Nketoana PM |
Vrystaat |
|
14 000 |
> 1000 000 |
Reitz |
Nketoana PM |
Vrystaat |
|
|
2 500 |
Rustenburg |
Reustenburg PM |
Noordwes |
|
|
>1000 |
Silverton |
Tshwane Metro |
Gauteng |
|
2 400 |
11 000 |
Springs |
Ekurhuleni Metro |
Gauteng |
|
2 400 |
2 400 |
Standerton |
Lekwa PM |
Mpumalanga |
|
|
100 000 |
Stella |
Naledi PM |
Noordwes |
|
|
10 000 |
Theunissen |
Masilonyana PM |
Vrystaat |
|
|
25 000 |
Vredendal |
Matzikama PM |
Wes-Kaap |
Skoon |
Skoon |
8 000 |
Winburg |
Masilonyana PM |
Vrystaat |
2 000 |
Skoon |
10 000 |
Die uitkoms van die 2015-opname sal gebruik word om dieselfde infrastruktuur en nog meer in die toekoms te moniteer.
AfriForum sal homself regoor Suid-Afrika posisioneer om al die relevante hulpbronne te gebruik om te verseker dat probleme dadelik opgelos word om hierdie kosbare hulpbron te beskerm. Briewe oor nie-voldoening word tans op munisipaliteite beteken.
AfriForum is steeds bekommerd oor die stand van watergehalte regoor die land. “Volgens die Departement van Water en Sanitasie se blou- en groendruppelverslag vir 2013 is 1 009 drinkwaterstelsels geëvalueer, en slegs ongeveer 263 het aan standaarde vir bloudruppelstatus voldoen. Die groendruppelverslag het aangedui dat slegs 60 uit 824 afvalwaterstelsels groendruppelstatus ontvang het,” sê Kleynhans.
“Dit is noodsaaklik dat ons voortdurend die gehalte van ons drink- en rioolwater moet moniteer. Ons moet hierdie kritieke hulpbron beskerm en seker maak dat wat in 2014 in Bloemhof gebeur het, nie weer voorkom nie,” sê Kleynhans.
|
SOLIDARITEIT HELPENDE HAND |
GESOEK: Die lekkerste koeksister in Suid-Afrika
Elke dorp het daardie één bakker. Elkeen van ons beweer dat hy al die stroperigste, krakerigste en lekkerste een geëet het. Binnekort sal al dié twyfel en bespiegeling iets van die verlede wees, want Solidariteit Helpende Hand het die soektog na Suid-Afrika se lekkerste koeksister afgeskop.
Dié organisasie, met sy meer as 120 takke, het vandeesweek die kompetisie genaamd Stoofstories: Dié Koeksister Kompetisie, van stapel gestuur en nooi nou die bobaasbakkers van regoor die land uit om vir dié kompetisie in te skryf.
Volgens Anél du Preez, projekbestuurder van Helpende Hand, is die doel van hierdie projek om nie net die lekkerste koeksister te bekroon nie, maar om ook die wenresep as deel van ’n werkskeppingsprojek te benut waarby die bakker en behoeftiges sal baat.
“Koeksisters vorm ’n belangrike deel van ons Suid-Afrikaanse kultuur en is as’t ware met ons harte vervleg. As mens dink aan eg Suid-Afrikaanse kookkuns is koeksisters beslis een van die eerste dinge waaraan jy dink. Watter beter manier om dan die tradisie te vier as met hierdie kompetisie? Daarom soek ons nou na die koeksister wat jou tong verras en die tong laat klap van lekkerte,” verduidelik Du Preez.
Stoofstories is ook op soek na die stories agter die koeksister en verhale, staaltjies en selfs gerugte oor koeksisters word ingewag. “Daar is talle stories oor koeksisters – die manier waarop die geheime resep behoue gebly het, hoe die resep die Groot Trek oorleef het, of hoe die resep ontdek is – en dié stories moet vertel word,” sê Du Preez.
Inskrywings vir die kompetisie sluit op 31 Mei waarna steeksuitdunrondtes regoor Suid-Afrika gehou sal word. Die finaal sal in September in Pretoria aangebied word. Vir meer inligting oor die kompetisie, reëls en om in te skryf, besoek www.stoofstories.co.za.
|
KRAAL UITGEWERS |
Help die Solidariteit Beweging se Kraal Uitgewers met marknavorsing en dalk wen jy 'n prys!
Om seker te maak dat Kraal Uitgewers steeds meer boeke uitgee wat nommerpas in die lede van die Solidariteit Beweging se smaak val, loods Kraal 'n opname wat ons sal help om meer oor ons lesers se belangstellings en leesgewoontes uit te vind. Ondersteun ons asseblief en vul die vraelys aanlyn in. Dit behoort nie langer as vyf minute in beslag te neem nie. Drie deelnemers sal boonop elk 'n geskenkbewys ter waarde van R500 ontvang – onderskeidelik van Kraal Uitgewers, Kliekclick en kalahari.com. Klik hier (https://www.surveymonkey.com/r/V29L75C) om deel te neem en wie weet, dalk is jy een van die gelukkige wenners!
|
RUBRIEKE: |
BEDRYFSBROKKIES |
Aquarius Platinum se myne laat die rekords spat
Deur Helena Oosthuizen
Kroondal en Mimosa, twee van Aquarius Platinum se myne, se kwartaallikse prestasie is noemenswaardig, met Aquarius se aandeelprys wat met 1,22% gestyg het tot R1,66.
Kroondal, wat naby Rustenburg in Noordwes geleë is, het onder Aquarius en Anglo American Platinum 105 000 fynonse goud geproduseer – sy negende kwartaallikse rekord – en dít terwyl Mimosa, onder bestuur van beide Aquarius en Impala Platinum, daarbenewens 57 391 fynonse geproduseer het. Dit is ’n volle 11% meer as gedurende die eerste kwartaal van verlede jaar en die aanduidings is dat dit Mimosa se hoogste kwartaallikse produksie tot dusver is.
Dit kom ten spyte daarvan dat Aquarius se inkomste met 2% tot $50 miljoen gedaal het omdat die gemiddelde dollarwaarde van die platinumprys wat hulle vir hul produksie ontvang met soveel as 9% gedaal het. Jean Nel, Aquarius se uitvoerende hoof, voer aan dat die kostestygings egter heelwat minder was as inflasie. Die verhoogde produksie, tesame met versigtige kostebestuur, het Aquarius se kontantvloei ’n hupstoot gegee. Aquarius is dus daarop gefokus om konsekwent operasionele verbeterings aan te wend en uitnemendheid en bedryfsdoeltreffendheid te verhoog in ’n poging om winste nog verder te verbeter.
Volgens hul jongste verslag is Aquarius en die ander twee groot Zimbabwiese platinumprodusente in gesprek met die regering oor die 15%-tantième wat sedert Januarie op die uitvoer van onverwerkte platinum van toepassing is. Hulle is ook druk besig met die opknapping van veiligheidsmaatreëls nadat mnr. Pedro Tafulane Nhabinde op 11 Oktober 2014 tragies dood is. Hulle is steeds daartoe verbind om die veiligheidsmaatreëls in 2015 op te knap.
|
MY WERK |
E-pos-etiket in die werkplek
Deur Francois Redelinghuys
Met die vinnige vooruitgang van die internet en die mate waarin besighede daarvan afhanklik geraak het om hul daaglikse funksies te verrig, stuur en ontvang werkgewers daagliks honderde e-posse om hul werk te kan doen. Dié ontwikkeling van e-pos tesame met elektroniese vooruitgang het die werkplek totaal verander. Dit is gevolglik belangrik om seker te maak dat jy die gepaste etiket gebruik wanneer jy in jou professionele hoedanigheid deur middel van e-pos kommunikeer.
Hier volg vyf wenke om in gedagte te hou wanneer jy per e-pos kommunikeer:
1. Beskrywende opskrif
Die opskrif in ’n e-pos bepaal dikwels of jou boodskap gelees gaan word of nie. Maak seker dat jy jou e-pos ’n kort maar beskrywende opskrif gee sodat die ontvanger presies kan weet waaroor dit gaan. Goeie voorbeelde van ’n beskrywende opskrif sluit in: “Afspraakdatum geskuif” of “Voorstelle vir die voorlegging”.
2. Dink voordat jy “terugvoer aan almal” gebruik
In alle e-pos-korrespondensie is dit moontlik om aan almal wat die vorige e-pos ontvang het, terugvoer te gee deur van die “Reply All”-opsie gebruik te maak. Maak egter seker dat jy wel aan almal wat by die korrespondensie ingesluit is, terugvoer wil gee anders kan dit dalk hoogs vernederend uitdraai.
3. Wees versigtig met humor
Alhoewel humor dikwels goed gebruik kan word om ’n situasie te ontlont, moet ’n mens versigtig wees om humor in ’n e-pos te gebruik. Sonder die regte konteks en/of gesigsuitdrukkings kan die ontvanger jou humor baie maklik verkeerd verstaan.
4. Maak korrek gebruik van “To”, “Cc” en “Bcc”
Indien jy ’n e-pos direk aan ’n spesifieke persoon wil stuur, maak gebruik van die To-opsie. Waak egter daarteen om te veel mense in hierdie veld in te sluit. Indien jy slegs iemand wil bewus maak van ’n saak maar die e-pos word nie direk aan hom of haar gerig nie, moet mens eerder van die Cc-veld gebruik maak mits jy weet dat daardie persoon nie ’n probleem daarmee sal hê as ander mense sy of haar adres sien nie. Dit is egter van kardinale belang om van die Bcc-veld gebruik te maak indien nie al die ontvangers van die boodskap mekaar ken nie en hulle nie noodwendig hul e-pos-adresse aan ander mense wil bekendmaak nie.
5. Gebruik die korrekte aanspreekvorme en kom tot die punt
In ’n professionele wêreld is dit noodsaaklik dat jy die ontvanger van jou boodskap op die korrekte wyse aanspreek. Wees formeel in jou optrede en moenie sommer dadelik met jou boodskap begin nie. Maak ook seker dat jou boodskap op die man af is. Te lang e-posse word nie gelees nie en word in die meeste gevalle as ’n mors van tyd gesien.
|
MY GESONDHEID |
Verkoue of griep? Ken die verskil
Saamgestel deur Medihelp (Vir bekostigbare voordele-opsies, SMS “solidariteit” na 32291.)
Baie mense gebruik die woorde “griep” en “verkoue” uitruilbaar asof hulle na dieselfde ding verwys wanneer hulle simptome soos hoes, spierpyn, koors of verstopping ondervind.
Dit is egter belangrik om te weet dat hulle nie dieselfde is nie – verkoue is 'n matiger asemhalingsiekte wat gewoonlik slegs 'n paar dae duur, terwyl griep (influensa) 'n ernstiger toestand is wat gesondheidsprobleme soos longontsteking wat hospitalisasie vereis, tot gevolg kan hê.
Algemene verkouesimptome
Die gewone verkoue kan begin met 'n seer keel wat net 'n dag of twee duur. Ander simptome sluit in:
- 'n loperige of toe neus
- verstopping
- 'n seer keel
- nies
- matige tot hoë koors
- hoes
- hoofpyn of lyfpyn
- matige moegheid
Verkouesimptome kan tot 'n week duur en gedurende die eerste drie dae loop ander mense die gevaar om die virus by jou aan te steek – dit is dus beter om werk te vermy gedurende hierdie tyd en eerder warm in die bed te bly. As verkouesimptome na 'n week nog nie verdwyn het nie, het jy dalk 'n bakteriële infeksie en sal jy jou dokter moet raadpleeg vir behandeling met antibiotika.
Griep (influensa)-simptome
Griepsimptome is gewoonlik ernstiger as die simptome van die gewone verkoue en kan baie vinnig begin.
Griepsimptome sluit in:
- 'n droë, pynlike hoes
- matige tot hoë koors
- 'n seer keel
- kouekoors
- ernstige spierpyn
- hoofpyn
- 'n toe en loperige neus
- uiterste uitputting en moegheid
Sommige mense ondervind vomering en diarree, maar dit is meer algemeen by kinders.
Die meeste griepsimptome sal na twee tot vyf dae geleidelik verbeter, hoewel jy steeds nog vir 'n week of twee moeg en swak kan voel. Griep kan omsit in longontsteking, veral by kinders en bejaardes, dus moet jy jou dokter onmiddellik raadpleeg indien jy kortasem raak of herhaaldelik koors kry.
Hoe om verkoue en griep te vermy
Verkoue- en griepvirusse dring jou liggaam binne deur die slymvliese in die neus, mond en oë. Elke keer as jy aan een van hulle raak, loop jy die gevaar om jouself of andere aan te steek. Dit is dus baie belangrik om kiemvry te bly deur jou hande te was of hulle met antibakteriële snesies af te vee om infeksie te voorkom.
Benewens goeie higiëne kan jy ook griep voorkom deur jou teen seisoensgriep te laat inspuit. Raadpleeg jou mediese praktisyn hieroor.
Sluit by Medihelp aan en smoor daardie nare griep- en verkoue-infeksies in die kiem
Kry die gerustheid van 'n privaat mediesefonds-opsie. SMS “solidariteit” na 32291 vir meer inligting oor Medihelp se voordeleopsies.
Bronne: http://www.healthline.com/
http://www.webmd.com/
|
EKONOMIESE NUUS |
'n Jaar se swak rand – hoe doen vervaardiging?
Deur Paul Joubert
Nie te lank gelede nie was talle ander vakbonde, asook talle stemme uit die geledere van werkgewers in die vervaardigingsektor in Suid-Afrika dit eens dat die wisselkoers van die rand teenoor die Amerikaanse dollar naastenby R10,50 moet wees. Dit sou die Suid-Afrikaanse vervaardigingsektor laat floreer het. Die rand het aan die begin van Junie 2013 deur die R10-vlak en ses maande gelede deur die R10,50-vlak teenoor die dollar gebreek. Hoe het die vervaardigingsektor in Suid-Afrika in hierdie tydperk, wat konsuis 'n bloeitydperk sou gewees het, gevaar?
Die antwoord is dat vervaardigingsproduksie in Suid-Afrika die afgelope jaar stagneer het. Statistieke Suid-Afrika se seisoenaangepaste indeks van vervaardigingsproduksie was in April 2013 op 110 punte en in April 2014 op 108,3 punte. Eintlik het dit al sedert die begin van 2012 feitlik stagneer, toe die indeks op ongeveer 107 gestaan het. Vanaf die begin van 2012 tot April 2014 het die rand egter met omtrent 40% teenoor die dollar verswak, en vanaf April 2013 tot April 2014 met ongeveer 16%. Indien daar slegs tot Februarie 2014 gemeet word, is dit onderskeidelik sowat 45% en 21%. Ten spyte hiervan was daar geen merkwaardige oplewing in die Suid-Afrikaanse vervaardigingsektor nie.
Hierdie toedrag van sake behoort nie verbasend te wees nie. Daar was nog geen tyd in Suid-Afrika se onlangse geskiedenis wat 'n beduidende verswakking in die wisselkoers van die rand met 'n algemene, sterk oplewing in die vervaardigingsektor gepaardgegaan het nie. Trouens, die groot opswaai in vervaardigingsproduksie vanaf 2004 tot 2008 het gebeur in 'n tyd wat die rand eers versterk het, en toe slegs matig tot vorige vlakke verswak het.
Prakties is daar ook 'n eenvoudige rede waarom die idee dat 'n swak rand algemene voordeel vir die vervaardigingsektor bring, nie korrek is nie. Talle insette wat in vervaardiging gebruik word, word ingevoer. Dit sluit kapitaalgoedere, grondstowwe en intermediêre goedere in. Indien die rand verswak, word hierdie insette duurder en vreet in die moontlike groter winsmarge in. 'n Vervaardigingsfirma verkoop dalk in die eerste maand of twee van 'n swak rand meer goedere teen beter pryse, maar dan moet nuwe voorrade of masjiene, wat skielik beduidend duurder geword het, aangekoop word en daar gaan die wins.
Om vir 'n swakker rand te wens as 'n algemene oplossing vir die probleme in Suid-Afrikaanse vervaardiging, is soos om te wens vir meer alkohol om jou wingerd-hoofpyn te genees – dit voel dalk vir 'n kort rukkie beter, maar later kom die hoofpyn dubbeld terug en op die ou end gee jou lewer die gees.
Die artikel is oorspronklik in Junie 2014 gepubliseer
|
INTERNASIONALE NUUS |
Deur Francois Redelinghuys
Australiese tiener in hof na beweerde bom-komplot
’n Sewentienjarige Australiese tiener is einde verlede week gearresteer nadat polisie op sy huis in die noorde van Melbourne toegeslaan het. Die polisie het laat blyk dat die tiener se arrestasie 'n beweerde bom-komplot om drie tuisontwikkelde bomme in dié stad te laat ontplof, tot 'n einde gebring het.
Die tiener, wat aangekla word van die voorbereiding en bedoeling om ’n terroriste-aanval te loods, sal op 26 Mei weer in die hof verskyn. Die arrestasie volg nadat die verdagte blykbaar sy skoolloopbaan gestaak het en ook sy radikale siening op die sosiale mediaplatform, Facebook, gepubliseer het.
Vyf tieners is ook verlede maand deur die Melbourne-polisie in hegtenis geneem, nadat hulle ook saamgesweer het om beweerde terroriste-aanvalle te loods. Australiese owerhede is uiters besorg oor weerlose tieners wat vir die uitvoer van aanvalle deur die Islamitiese staat (ISIS) gewerf word.
Chileense president vra kabinet om te bedank
Die eerste vrouepresident van Chili, Michelle Bachelet, is vandeesweek in omstredenheid gedompel nadat sy blykbaar al die ministers in haar kabinet gevra het om uit hul poste te bedank. Bachelet het gemeld dat sy glo dat verandering nodig is, en dat sy binne die komende dae ’n nuwe kabinet sal aanwys.
Bachelet het in ’n onderhoud gemeld dat sy “binne die volgende 72 uur” sal besluit wie van die huidige ministers behou sal word en wie nie. Onlangse gebeure het die eens gewilde president se gewildheidspersentasie onder haar landsburgers tot ’n rekord laagtepunt van 31% laat daal.
Twee Amerikaanse polisielede doodgeskiet
Twee polisielede is die naweek in Mississippi doodgeskiet nadat hulle ’n verdagte voertuig van die pad afgetrek het. Albei die mans is na die voorval in ’n plaaslike hospitaal opgeneem waar albei aan hul beserings beswyk het. Die voorval volg kort na die dood van ene konstabel Brian Moore wat ook noodlottig gewond is nadat hy ’n moontlike verdagte ondervra het.
Spanning in die VSA loop egter hoog met die publiek wat ongelukkig is oor die polisie se gebruik van geweld nadat ’n 24-jarige vroeër die maand in polisieaanhouding gesterf het.
|
RIDDER EN RAMPOKKER |
Deur Francois Redelinghuys
Ridder
Vandeesweek se ridder is die afgetrede professor Hermanus Wessels wat vanjaar, op die ouderdom van 85, sy 18de graad verwerf het. Wessels, wat lank by die Universiteit van die Vrystaat werksaam was, het reeds in 1990 amptelik afgetree maar het steeds aangehou om lesings aan te bied.
Wessels kan werklik beskryf word as iemand wat sy lewe lank geleer het met onderskeidelik doktorsgrade in Latyn en politieke wetenskap, sowel as meestersgrade in strafreg, Grieks, Hebreeus, kerkgeskiedenis, Bybelkunde en Oosterse studies.
Rampokker
Hierdie week se rampokker is die KFC-wegneemrestourant in Braamfontein. Beeldmateriaal wys hoe personeel ’n hoender wat op die grond beland het, afspuit op die vuil teerpad van die afleweringsruimte.
Die beeldmateriaal is glo vanuit ’n woonstelblok geneem toe inwoners gesien het hoe werknemers die hoender op die grond met ’n tuinslang afspuit. KFC se reaksie was dat die werknemers egter reeds die hoender sou weggooi, maar dat hulle net die meel wat reeds op die hoender was, wou afspuit, glo om te voorkom dat die bestuur sien dat meel gemors is.
|
REGSVRAAG |
Is dit billik om slegs een werknemer wat deel was van 'n fisiese bakleiery of aanranding te ontslaan?
Deur Rizelle Botha
Bovermelde vraag kan aan die hand van 'n onlangse saak, South African Transport and Allied Workers Union obo Dyatji/Imperial Cargo Solutions – (2015) 24 NBCRFLI 8.12.1, beantwoord word.
Die kommissaris het bevind dat 'n werkgewer nie inkonsekwent sal optree as hy slegs een werknemer wat aan 'n fisiese bakleiery deelgeneem het, ontslaan indien daardie persoon die aggressor was nie.
Die werkgewer het behoorlike verklarings van albei werknemers sowel as getuies afgeneem. Daarby het die werkgewer 'n behoorlike dissiplinêre verhoor gehou en vasgestel dat die persoon wat aangekla is, wel sy groepleier sonder enige rede aangerand het en dat sy groepleier hom slegs teen die aanval verdedig het. Die bedoeling om die groepleier aan te rand, kon ook bewys word en die aangeklaagde is derhalwe ontslaan. Om die situasie te vererger, het die aanranding op 'n kliënt se perseel plaasgevind en dus die werkgewer se reputasie skade berokken.
Die kommissaris het bevind die ontslag van die een werknemer was billik.
Dit sal gevolglik billik wees om slegs een werknemer wat deel was van 'n fisiese bakleiery te ontslaan indien die werkgewer kan bewys dat daardie werknemer die aggressor was.
|
HET JY GEWEET? |
In 1932 op die Olimpiese Spele in Los Angeles is Sarie Marais verkeerdelik as Suid-Afrika se amptelike volkslied gespeel
Bron: Pharos se Feitegids. 'n Kernensiklopedie.
|
SPREEKWOORD |
‘n Mens moet nie die dag voor die aand prys nie. ‘n Mens moet eers tot laataand wag voordat jy oordeel oor die gebeure van die dag uitspreek.
Bron: Pharos se spreekwoordeboek en waar hulle vandaan kom.
|
AANHALING |
Ons volk se moontlikhede is miskien talryker as wat ons meen. En 'n literatuur kan nooit vooraf teoreties in kafees of kroeë, voorkamers, kollegesale of redaksiekantore gemaak word nie.
– N.P. van Wyk Louw
|
ATTERBURY TEATER: |
Hoogtepunte by die Atterbury Teater
Vertoning/ geleentheid |
Datum |
Tyd |
Prys |
Jack Parow: Town man show |
14 Mei |
20:00 |
R 120.00 |
Kaleidoskoop |
15 Mei |
20:00 |
R 140.00 |
CH2-Soos in die ou dae |
17 Mei |
16:00 |
R 150.00 |
Kaartjies is by enige Computicket-kantoor beskikbaar of skakel 083 915 8000 om 'n bespreking te doen. Atterbury Teater is geleë op die hoek van Lynnwoodweg en Daventrystraat in Lynnwood. Skakel die teater by 012 471 1700 of stuur 'n e-pos na info@atterburytheatre.co.za.
|
ATLETIEKKLUB |
Sluit só aan by die Solidariteit Atletiekklub
Word vandag nog deel van die Solidariteit Atletiekklub. Skakel klubvoorsitter Hendrik van der Westhuizen by 082 851 8451 vir meer inligting of stuur 'n e-pos na atletiek@solidariteit.co.za.
|
|