Soldeer

Nr. 584 - 24/04/2014

H/v D F Malanstraat
& Eendrachtstraat
Kloofsig

Posbus 11760
Centurion
0046

Telefoonnommers:
012-644-4300
0861-25-24-23

Faksnommer:
(012) 664-6493

navrae@solidariteit.co.za

diens@solidariteit.co.za

Die volgende Soldeer sal eers weer op 8 Mei 2014 verskyn as gevolg van die twee vakansiedae volgende week.

HOOFSTORIE

SAPD moet kolonel wat korrupsie ontbloot skuif na soortgelyke pos en vergoed

Deur Nico Strydom

Regter Robert Lagrange het vandeesweek in die Johannesburgse arbeidshof uitspraak gelewer in die omstrede misdaadintelligensiesaak wat Solidariteit namens kol. Kobus Roos teen die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) gevoer het. Regter Lagrange het gelas dat Roos ontplooi moet word na ʼn soortgelyke pos in misdaadintelligensie as die pos wat hy voor die beskermde bekendmaking gevul het. Die hof het ook vergoeding van vier maande se salaris aan Roos toegeken.

Johan Kruger, woordvoerder van Solidariteit, sê die hof het verder beveel dat Roos voorkeur moet geniet wanneer hy aansoek vir ʼn pos of bevordering in misdaadintelligensie doen. “Ons is tevrede met die uitspraak hoewel geen vergoeding genoeg sal wees om Roos te vergoed vir alles wat hy die afgelope drie en ʼn half jaar moes deurmaak nie. Ons is wel bly dat Roos nou weer kan voortgaan met sy werk in misdaadintelligensie nadat hy na ʼn pos verskuif is waar hy ledig was. Roos is juis uit die pad geskuif omdat hy goed was in sy werk en korrupsie ontbloot het.”

Kruger sê die SAPD is beveel om Solidariteit se regskoste te betaal. Volgens Kruger is dit egter hartseer dat die SAPD belastingbetalers se geld verkwis het om net in die hof te kom erken dat daar onbillik teen Roos opgetree is. “Die saak is kwaadwillig tot op verhoor gedryf net om te kapituleer toe die hofstryd begin het. Dit is ʼn skokkende verkwisting van belastingbetalers se geld.”

Kol. Roos, wat al vir 26 jaar in diens van die SAPD is, werk tans in die inspeksie- en evalueringsafdeling van misdaadintelligensie. Die afdeling was nooit funksioneel nie en is tans geskrap. Roos is deur Richard Mdluli, geskorste hoof van die misdaadintelligensie-eenheid, na dié afdeling verskuif nadat hy in ʼn beskermde bekendmaking bewerings en bewyse van korrupsie in misdaadintelligensie blootgelê het. Roos het voorheen as hoof in die interne-ouditafdeling van misdaadintelligensie waargeneem en was onder meer verantwoordelik vir oudits van die sogenaamde rekening vir geheime dienste. Mdluli het Roos onder meer aangestel om dié rekening te ondersoek; die ondersoek later weer stopgesit en Roos daarna verskuif na die pos wat hy tans beklee.

 

NUUS
Solidariteit oorhandig 52 000 petisies aan minister Mbalula

Deur Nico Strydom

Die vakbond Solidariteit het vandeesweek 52 000 petisies, genoeg om al Loftus Versfeld se sitplekke te vul, aan die minister van sport, Fikile Mbalula, oorhandig tydens ʼn vergadering oor die omstrede nuwe kwotastelsel in sport. Solidariteit en die  burgerregte-organisasie AfriForum het in Pretoria met die minister vergader om  besware teen die nuwe kwotastelsel te bespreek en die vakbond het onderneem om enige kwota in sport in die howe te toets. Die minister moet daarvan kennis neem dat Solidariteit se sukseskoers teen kwotas in die howe heelwat beter is as dié van die staat.

Johan Kruger, woordvoerder van Solidariteit, sê dit was ʼn harde gesprek en dat die partye ooreengekom het om in die toekoms verdere samesprekings hieroor te voer. Kruger sê die vakbond het ook ʼn memorandum aan die minister oorhandig waarin verklaar word dat, benewens die feit dat kwotas in sport vir almal sleg is, dit ook onwettig is. “Kwotas kan uit ʼn regs- en morele oogpunt gesien, nie verdedig word nie en ʼn kwota benadeel die swart netbalspeler net soveel soos die wit speler. Dit skep ʼn generasie jong mense wat glo dat die stelsel vir hulle sal sorg. Kwotas skep ʼn nuwe vorm van slawerny – verslawing aan die stelsel.”

Kruger sê die aanbevelings in die loodsprogram wat deur die minister goedgekeur is, is op ʼn onwettige kwotastelsel gegrond. “Dit is onaanvaarbaar om onwettige praktyke as dreigemente te gebruik. Dit is ʼn vorm van afpersing. Dit sal die onderskeie unies en liggame dwing om onwettig op te tree. Die probleem is dat die minister se onlangse dreigemente ʼn klimaat skep waarin kwotas in die praktyk afgedwing word sonder dat dit in regulasies omskryf is.”

Kruger sê dat kwotas indruis teen alles wat deur sport verteenwoordig word. “Dit kan nie geduld word nie; nie vanuit ʼn morele of wetlike standpunt nie. Solidariteit fokus op die uitwerking wat kwotas op die werkgewer/werknemer-verhouding in die sportomgewing sal hê. In hierdie era van professionele sport ontstaan werknemer- en werkgewerkontrakte tussen unies en professionele sportlui. Talle ander werkgewer/werknemer-verhoudings ontwikkel ook in die sportomgewing, insluitende met diegene wat by sportadministrasie betrokke is, asook met skeidsregters.”

Volgens Kruger is die probleem dat die minister iets najaag wat nêrens ter wêreld al bereik is nie. “Oral ter wêreld presteer sekere groepe beter in sekere sportkodes. Dit geld vir verskillende lande, maar dit geld ook binne dieselfde land. In atletiek word naellope deur Jamaika oorheers; Afro-Amerikaners oorheers basketbal; en die Keniane oorheers die marathon. Die minister se grootse idee dat alle spanne die nasionale demografie moet weerspieël, is nog nooit in die mensdom se geskiedenis bereik nie.”

 

Solidariteit Beweging doen beroep op sy lede om te stem

Deur Nico Strydom

Die Solidariteit Beweging het ʼn beroep op sy lede, ondersteuners en die breë gemeenskap gedoen om deel te neem aan die algemene verkiesing op 7 Mei 2014. Die Solidariteit Beweging bestaan onder meer uit drie lede-organisasies, naamlik die vakbond Solidariteit, die burgerregte-organisasie AfriForum, en die gemeenskapsorganisasie Helpende Hand. Die drie instellings se 230 000 lede en hul gesinne verteenwoordig sowat 500 000 kiesers.

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, sê die beroep om aan die verkiesing deel te neem, kom na ʼn vergadering met die Vryheidsfront Plus. “Die gesprek met die VF Plus vorm deel van ʼn reeks soortgelyke gesprekke met onder andere die DA en AgangSA. In die gesprek met die VF Plus het die Beweging onder andere sy kommer uitgespreek oor die radikalisering van die ANC, die invloed van regstellende aksie op Suid-Afrika asook die algemene stand van die beskerming van minderheidsregte in die land.”

Buys sê die Beweging het tydens sy vergaderings met die onderskeie politieke partye die verwagtinge van sy lede aan die partye oorgedra. “Vir die Beweging se lede is Christelike en gesinswaardes, asook Afrikaners se reg op blywende vryheid, veiligheid, voorspoed, veeltaligheid, die Afrikaanse taal en kulturele vryheid van groot belang. Ons lede streef ook na goeie regering, ʼn produktiewe en goed besoldigde arbeidsmag, ware gelykheid sonder ras as maatstaf, en ʼn gesonde werksverhouding met die regering.

Buys sê die Beweging het ook ʼn beroep op Suid-Afrikaners gedoen om nie net elke vyf jaar aan ʼn verkiesing deel te neem nie, maar deurentyd aktief by die burgerlike samelewing betrokke te wees. “Die demokrasie word nie net elke vyf jaar bepaal nie, maar deur hoe mense tussen verkiesings aan die burgerlike samelewing deelneem.”

 

Nuwe HUB vir Evraz

Deur Cilleste van der Walt

Evraz Highveld Steel and Vanadium het sy uitvoerende direkteur en FD, Jan Valenta, met onmiddellike gevolg as die nuwe HUB van die maatskappy aangestel nadat Michael Garcia uitgetree het.

Volgens Engineering News vervang Olga Luzik vir Valenta, wat in 2011 as FD en direkteur aangestel is.

Valenta, ’n geoktrooieerde rekenmeester met ’n meestersgraad in ekonomie van die Karelsuniversiteit in Praag, was voorheen die HFB by Evraz Vitkovice Steel, terwyl Luzik, wat sedert 2003 by die maatskappy werk, verskeie finansiële en bestuursposte in die Evraz-groep beklee het.


Beweging-nuus

 

SOLIDARITEIT

Solidariteit Sterre in die Gemeenskap-toekennings 2014

Die Solidariteit Sterre in die Gemeenskap-toekennings word jaarliks oorhandig aan persone wat ’n besondere bydrae tot hulle gemeenskap lewer. Lede van die publiek kry die geleentheid om die sterre in hulle gemeenskap vir hierdie toekennings te nomineer.

Die doel van die Sterre in die Gemeenskap-toekennings is om gewone lede van die publiek wat daagliks hulle landgenote se lewens op ’n positiewe wyse beïnvloed te bedank vir hulle harde werk en deursettingsvermoë in moeilike omstandighede. Die toekennings dien as ’n huldeblyk vir gewone mense wat soms die buitengewone bewerkstellig en vereer hulle insig, inspirasie en onbaatsugtige naastediens.

Nominasies vir die Solidariteit Sterre in die Gemeenskap-toekennings 2014 word nou ingewag.

Ken jy iemand wat in die afgelope jaar ’n besondere bydrae tot sy of haar gemeenskap gemaak het? Nomineer nou daardie persoon deur sy of haar naam en ’n motivering vir jou nominasie na ansievn@solidariteit.co.za te stuur.

 

Spesiale aanbieding slegs vir Solidariteit-lede!

Solidariteit het namens sy lede onderhandel om 30%-afslag op die teaterstuk Droomkind: Die storie van Josef in die Staatsteater in Pretoria te ontvang. Kaartjies kos gewoonlik R270 per persoon, maar Solidariteit-lede hoef slegs R190 per kaartjie te betaal. Maak gerus gebruik van hierdie besonderse geleentheid!

Let wel: die afslag is slegs op die volgende vertonings van toepassing:

- Vrydag 25 April om 19:30
- Saterdag 26 April om 15:00 en 19:30
- Sondag 27 April om 11:00 en 15:00

Om vir die afslag in aanmerking te kom, moet Solidariteit-lede die kodewoord “DROOM” gebruik wanneer die kaartjies gekoop word. Lede kan kaartjies deur Computicket bekom deur ʼn bespreking aanlyn, by ’n Checkers-toonbank, of telefonies by 0861 915 8000. Sodra u die hoeveelheid kaartjies wat u bespreek het, bevestig het, kan u die kodewoord “DROOM” intik of noem. Skakel gerus die volgende nommer vir bystand: 0861 915 8000.

Meer oor Droomkind: Die storie van Josef

Het jy die verhoogproduksies LIEFLING en ESTER geniet? Dan is DROOMKIND die nuwe Afrikaanse musiekspel vir jou! Vervaardig deur dieselfde talentvolle produksiespan, en getrou aan die lewe van die Bybelse Josef, speel DROOMKIND af op die klein dorpie Verneukpan in die Karoo, waar Jakob en sy seuns met skape boer. Hul lief en leed word met skerp humor vertel deur die dorp se twee skinderbekke, Oom Mattewis (Philip Moolman) en Tant Hessie (Edrien Erasmus). Met kontemporêre Afrikaanse liedjies verwerk deur Matthys Maree en keurige stelontwerp deur Renier Keyser.

Bron: www.statetheatre.co.za

 

Só verander Lewensverryking Seminare lewens
Ds. Deon van der Berg skryf:

Soos die mense aan die einde van die Enkelseminaar getuig het, het ek uit die meeste se getuienisse die kern van wat in hulle lewe gebeur het, probeer saamvat. Dis was verstommend hoe baie mense getuig het dat hulle al vir ’n paar jaar uitstel om te kom en nou, na die seminaar, is hulle so bitter spyt dat hulle dit al so lank uitstel. Hier is ’n klompie getuienisse van God-grootte wonderwerke wat ons gehoor het:

  • "Ek het nie gekom vir myself nie, maar iemand gebring en skielik het my lewe verander. Ek is 'n nuwe mens met 'n nuwe toekoms."
  • "Dis 'n voorreg om nou 'n pad saam met die Here te loop. Ek kon beleef hoe die Here self die seer en die onkruid uit my lewe kom trek. Prys die Here!"
  • "Toe ek hier gekom het, was ek soos 'n 5 000-stuk-legkaart", en met trane sê hy: "Vandag is ek heel!" Prys die Here!
  • "Ek is 'n enkelouer wat in 'n diep gat was, en my werk was alles en ek het my kinders afgeskeep. Vandag is ek 'n heel mens. Die Here het my uit die diep gat gehaal."
  • "Die duiwel het my beroof deur vrees en selfbewustheid. Ek is verlos daarvan. Alle eer aan die Here!"
  • "Ek is regtig vir die eerste keer in my lewe vry. Vir die eerste keer het ek die werking van die Heilige Gees in my lewe gevoel. Ek het myself leer liefkry. Vir die eerste keer het ek ook besef dat die Here regtig vir my aan die kruis gesterf het  alhoewel ek dit so maklik vir ander mense vertel het dat Hy dit vir hulle gedoen het. Vandag weet en glo ek dat Hy dit vir my ook gedoen het."
  • "Ek het gekom vir vergifnis en ek het dit gekry. Vandag is ek vry, vol vreugde en vrede. Ek het my plekkie in die son hier gevind."
  • "Ek het voor die tyd gebid en vir die Here toestemming gegee om in my kop 'n klomp skuiwe te maak. Ek het ontdek dat ek God tot leuenaar maak as ek Hom nie volkome vertrou nie. Hierdie seminaar was God se plan om dinge in my lewe bymekaar te bring."
  • "'n Vriend het vir my 'n e-pos gestuur om hiernatoe te kom. Ek het nuwe rigting in my lewe gekry!"


AfriForum

AfriForum vergader met sportminister oor kwotas

AfriForum het vandeesweek tydens ʼn vergadering met die minister van sport, Fikile Mbalula, ‘n memorandum aan die minister oorhandig, waarin AfriForum se beswaar teen die toepassing van rassekwotas uiteengesit word. Die minister is ook tydens die vergadering ingelig dat AfriForum beplan om amptelike klagtes teen die kwotastelsel by internasionale sportfederasies in te dien, aangesien die stelsel internasionale sportfederasies se verbod op rassediskriminasie oortree. Die vergadering het op uitnodiging van die minister plaasgevind in die ministerie se kantore in Pretoria.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, is ʼn robuuste gesprek tydens die vergadering tussen die partye gevoer, waarin AfriForum en Solidariteit sterk standpunt teen rassekwotas ingeneem het.

“Die partye kon nie tydens die vergadering tot ʼn vergelyk kom oor die wenslikheid van die kwotastelsel nie en daarom is AfriForum genoodsaak om sy veldtog teen kwotas volstoom voort te sit,” het Kriel gesê.

Kriel het daarop gewys dat sy organisasie sal voortgaan om konstruktiewe gesprekke met die minister en plaaslike sportfederasies oor kwotas te voer, maar dat internasionale sportfederasies terselfdertyd gevra sal word om standpunt teen kwotas in te neem, sodat druk uitgeoefen kan word om die diskriminerende kwotastelsel uit Suid-Afrikaanse sport te weer.

As deel van AfriForum se veldtog word die publiek gevra om hulle name by amptelike klagtes teen die kwotastelsel, wat AfriForum by die Internasionale Rugbyraad en ander internasionale sportfederasies aanhangig gaan maak, te voeg. Koerant- en radio-advertensies, asook die sosiale media soos Facebook, Twitter en SMS’e word gebruik om die publiek aan te moedig om hulle name per SMS na 45343 te stuur of ‘n petisie te onderteken by www.afriforum.co.za.

Volgens Kriel is die minister tydens die vergadering daarop gewys dat AfriForum ten gunste van sportontwikkeling is, sodat almal, ongeag ras, die geleentheid kan kry om aan sport deel te neem. ʼn Rassekwota-beleid dra volgens Kriel egter nie daartoe by om nuwe spelers te onwikkel nie en benadeel alle sportsterre.

“Talentvolle swart spelers word benadeel deur kwotas omdat die geldigheid van hulle opname in die spanne voortdurend onder verdenking is, terwyl kwotas ook talentvolle jong wit spelers van geleenthede ontneem,” het Kriel gesê.

 

Helpende Hand

Solidariteit Helpende Hand verskaf kos aan Solidariteit-lede wat swaarkry weens voortslepende mynstaking
Deur Marine Jacobs

Solidariteit Helpende Hand het hierdie week verdere uitreikaksies in Mooinooi en Rustenburg van stapel gestuur om kos aan Solidariteit-lede te verskaf. Dit kom nadat die organisasie die platinumgordel tot ʼn gedeeltelike rampgebied verklaar het vanweë die staking wat drie maande gelede by platinummyne begin het. Die rampgebied sluit onder meer die dorpe Rustenburg, Brits en Mooinooi in.

Solidariteit-lede het hierdie week die jongste inligting oor die stand van die staking en onderhandelinge ontvang, terwyl Helpende Hand sy aksieplan aangekondig het om aan lede optimale bystand te bied. Helpende Hand het 24 kg-kospakkies en ander vars produkte versprei en aan lede die geleentheid gebied om vertroulik toegang tot emosionele en skuldberading te kry.

“Inwoners van Rustenburg, Brits en Mooinooi is op hul knieë gedwing deur die finansiële gevolge van die voortslepende staking by myne in die platinumgordel,” sê dr. Danie Brink, uitvoerende direkteur van Helpende Hand. “Toonbeelde van die dringende nood is skole in die area wat hul bestaande voedingskemas drasties moes uitbrei, ’n hoërskoolseun wat tydens ’n rugbyoefening flou geval het nadat hy dae laas geëet het en ’n mynwerker wat selfmoord gepleeg het weens die finansiële druk.”

Solidariteit se lede staak nie, maar duisende gesinne ervaar nogtans ernstige finansiële nood aangesien beide werknemers en kontrakteurs sedert die begin van die staking min of geen inkomste verdien nie.

Brink het tydens ʼn uitreikaksie by Mooinooi gesê dat Helpende Hand by uitstek dié organisasie is wat namens Solidariteit armoede in die breër gemeenskap aanspreek. “Somtyds is dit egter nodig om na ons eie mense te kyk en daardie tyd is nou. Die tyd het aangebreek dat ons ons fokus inwaarts keer om seker te maak ons staan alle Solidariteit-lede by en om seker te maak dat ons nou, soos ons naam aandui, voorwaar Solidariteit se Helpende Hand is.”

ʼn Rampfonds waartoe Helpende Hand reeds R100 000 bygedra het, is gestig om Solidariteit se lede by te staan. Vir meer inligting oor hoe om betrokke te raak, SMS “STAAKNIE” na 34388, of besoek www.staaknie.co.za.

Bydraes vir die rampfonds kan in die volgende rekening inbetaal word:
Solidariteit Helpende Hand
Absa Bank (Trustrekening)
Rekeningnommer: 9082262243
Takkode: 632005
Verwysing: Rustenburg Rampfonds

 

Kraal-Uitgewers

Waar geskiedenis lewe kry!

Kraal Uitgewers is 'n klein, maar gespesialiseerde uitgewersmaatskappy wat hoofsaaklik fokus op die publisering van gehalte-boeke oor die Suid-Afrikaanse geskiedenis sowel as publikasies wat die geskiedenis kan verander, regstel en sterk standpunt inneem oor, onder meer, politieke en maatskaplike kwessies in Suid-Afrika. Kraal Uitgewers publiseer slegs nie-fiksie.

Die begin van Kraal Uitgewers

Kraal Uitgewers is in 1999 gestig, kort nadat Suid-Afrika die 100-jarige herdenking van die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog gevier het.

Dit was die liefde en passie vir spesifiek die geskiedenis van die Anglo-Boereoorlog van Paul Alberts, een van Suid-Afrika se bekendste joernalistieke fotograwe, en kol. Frik Jacobs, voormalige direkteur van die Oorlogsmuseum in Bloemfontein, wat uiteindelik tot die stigting van hierdie unieke uitgewershuis gelei het.

Kraal Uitgewers vandag

Kraal Uitgewers het in 2010 deel van die Solidariteit Beweging geword. Die inskakeling van Kraal Uitgewers as deel van die Beweging speel 'n belangrike rol, aangesien Kraal as 'n uitgewershuis 'n kragtige instrument is om idees in die gemeenskap uit te bou.

Kraal Uitgewers sit sy funksie as uitgewer van geskiedkundige Africanawerke voort binne die Solidariteit Beweging, maar plaas nou ook 'n sterk fokus op aktuele werk wat binne die Afrikanergemeenskap waardevolle bydraes tot prominente debatte maak. Verskeie opspraakwekkende werke soos Basta! Ons voetspore is in Afrika (deur dr. Dirk Hermann), Treurgrond – 20 jaar van plaasaanvalle (deur dr. Dirk Hermann en genl. Chris van Zyl) en Ons was daar (deur genl. Jannie Geldenhuys) het reeds sedert Kraal Uitgewers se inskakeling by die Solidariteit Beweging die lig gesien.

 

RUBRIEKE

BEDRYFSBROKKIES

 

Sasol se 344,5 ton-wasreaktor kom in Sasolburg aan

Na vyf weke op die pad van Richardsbaai in KwaZulu-Natal af na Sasolburg in die Vrystaat het ’n wasreaktor van 344,5 ton by die petrochemiese reus Sasol se Fischer-Tropsch-wasuitbreidingsprojek aangekom.

Volgens Engineering News is die reaktor vervoer deur Pongola in KwaZulu-Natal en Piet Retief in suidoos-Mpumalanga, en ’n “kort seksie” van Gauteng voordat dit in Sasolburg aangekom het.

Die vrag, wat as ’n superabnormale vrag geklassifiseer is, het 499 ton geweeg nadat dit op ’n sleepwa gelaai is en was altesaam 78 m lank. Dit het teen ’n spoed van tussen 5 km/h en 10 km/h gery en is vergesel van steunbemanning, ’n ambulans en provinsiale en plaaslike verkeerspolisie.

Die fasiliteit sal na verwagting die produksie van harde wassoorte verdubbel en die produksie verhoog van medium wassoorte, wat hoofsaaklik deur die kersnywerheid in Suid-Afrika, vir die vervaardiging van aptekersparaffien, en vir ’n verskeidenheid van nywerheidsaanwendings soos kleefmiddels, bitumen vir padkonstruksie en drukkersink gebruik word.

“Ek wil graag die mense in gemeenskappe wat geraak is, bedank vir hul geduld na gelang hierdie belangrike stuk toerusting sy pad na ons fabriek in Sasolburg gevind het,” het Thomas Luedemann, Sasol-was se besturende direkteur verlede week in ’n verklaring gesê.


MY WERK

 

Wat verklap jou liggaamshouding van jou?
Deur Inge Strydom

Daar is al baie bewys dat ʼn mens se liggaamshouding baie meer kommunikeer as wat jy besef. Gevoude arms word byvoorbeeld oor die algemeen beskou as negatiewe kommunikasie, terwyl oogkontak tydens ʼn gesprek aandui dat jy belangstel in wat die ander persoon sê en hom of haar respekteer. Watter ander vorme van goeie liggaamshouding is daar wat jy spesifiek in die werkplek moet toepas?

In die artikel 12 Body language tips for career success wat op die webwerf www.forbes.com gepubliseer is, skryf Carol Kinsey Goman dat die regte liggaamshouding vir jou verskeie loopbaandeure kan oopmaak. Sy stel voor dat professionele lui onder meer op die volgende bedag moet wees:

  1. Staan regop, hou jou kop omhoog en trek jou skouers terug. “Dit sal onmiddellik trots en selfvertroue uitstraal,” verduidelik sy.
  2. Verlaag jou stemtoon. Mense met ʼn hoë stemtoon is geneig om minder geloofwaardig en gesaghebbend te klink.
  3. Dink aan vorige suksesse om jou te motiveer en jou selfvertroue ʼn hupstoot te gee.
  4. Behou goeie oogkontak. Behou tussen 50% en 60% van die tyd oogkontak. Wanneer jy ʼn kollega of besigheidskontak groet, behou lank genoeg oogkontak om die kleur van die persoon se oë raak te sien.
  5. Gebruik jou hande. Navorsing bewys dat die gebruik van jou hande terwyl jy praat die deel van jou brein stimuleer wat denke produseer. Dus, wanneer jy handgebare gebruik terwyl jy praat, kan dit jou denke ʼn hupstoot gee.

Lees meer, besoek: www.forbes.com

 

REGSVRAAG

Deur Johan Nell

Vraag:

Hoe privaat is privaat?

Antwoord:

Deesdae maak ons al hoe meer staat op ’n horde elektroniese toestelle, van selfone en skootrekenaars tot tablette ens., om ons werk te doen. As ’n werknemer is jy daarop geregtig om voorsien te word van die nodige toerusting om aan die eise van die mark en jou werkomgewing te voldoen. Om dié rede word baie werknemers voorsien van die maatskappy se selfone, skootrekenaars, tablette en ander elektroniese toestelle soos stoortoestelle vir die stoor van noodsaaklike inligting, dokumentasie en ander elektroniese inligting wat uit die aard van hul werk genoodsaak word.

Die vraag ontstaan wat jou regte en verpligtinge is wanneer jy hierdie toestelle gebruik. Die alomaanvaarde beginsel is dat indien dit aan die werkgewer behoort, alles daarop aan die werkgewer behoort en alle tersaaklike eiendom wat op die toestelle gestoor is, behoort aan die werkgewer. Jy is daarop geregtig om sulke toestelle vir die doeleindes van jou werk te gebruik. Alle e-posse, stemposse, boodskappe, internetgebruik, kommunikasie en lêers wat op hierdie toestelle gestoor word, word dus as deel van die maatskappy se besigheid en kliënterekords beskou. Sodanige kommunikasie word dus nie as privaat en persoonlik ten opsigte van enige individuele werknemer beskou nie. Die blaairekord van die toestel mag dus ook op enige gepaste tydstip besigtig, geoudit, geïnspekteer en besoek word indien die werkgewer dit nodig ag.

Die beginsel is dat maatskappygebaseerde e-pos die werkgewer se eiendom is en dienooreenkomstig gebruik mag word. Die vraag is egter: Wat is die posisie ten opsigte van webgebaseerde adresse soos Yahoo en Gmail? Voortspruitend hieruit is die beginsel rondom sosiale media en Facebook ook ’n aspek waarna gekyk moet word. Die beginsel is dat geen neerhalende opmerkings op Facebook gemaak of gepos mag word nie, maar mag die werkgewer toegang verkry tot jou Facebookrekening en jou webgebaseerde e-pos, wat albei wagwoordbeskerm is?  

As daar eerstens gekyk word na die eerste beginsel van Facebook, wat ’n sosiale netwerk is, gebruik jy ’n gebruikernaam en wagwoord. Die vriendbeginsel dui aan dat ’n persoon met wie jy op Facebook vriende is toegang tot jou Facebookbladsy mag hê. Daar is geargumenteer dat ’n werkgewer die reg het om hetsy voor of na aanstelling agtergrondkontroles te doen en met die werknemer vertroud te raak. Die beginsel van geforseerde vriende kom ter sprake wanneer werkgewers werknemers dwing om mense uit te nooi en hulle as vriende op Facebook te aanvaar, waarna hulle toegang tot die werknemer se Facebookblad sal hê.

Ingevolge die Wet op Billike Indiensneming (No. 55 van 1998) is daar ’n aantal gronde waarop ’n werkgewer in Suid-Afrika nie op onbillike wyse teen werknemers of aansoekers om werk mag diskrimineer nie. Hierdie gronde sluit in ras, geslag, swangerskap, seksuele oriëntering, MIV-status, politieke oortuiging, gewete, taal, geloof en soortgelyke gronde. Toegang tot die sosialenetwerk-rekening van ’n werknemer of aansoeker om werk kan tot gevolg hê dat ’n werkgewer toegang kry tot inligting van ’n werknemer of aansoeker waarby een van die gronde in artikel 6 ter sprake kom. Sodanige optrede kan dus neerkom op onbillike diskriminasie en ’n onbillike arbeidspraktyk.

As mens kyk na die internasionale reg waar die Suid-Afrikaanse reg oor hierdie aspek swyg, het Facebook in die Verenigde State VS-werkgewers streng berispe wat op werknemers se sosialenetwerk-wagwoorde aangedring het en gesê dat hierdie praktyk Facebook se gebruiksbepalings verbreek en potensieel onwettig is. As ’n gebruiker behoort jy nie gedwing te word om jou privaat inligting of kommunikasie met enigiemand te deel net om ’n werk te kry of jou werkgewer tevrede te stel nie. Dit is ’n onbillike arbeidspraktyk en is teen die bepalings en voorwaardes van Facebook se gebruiksbeleid.

In aansluiting hierby: Die Wet op Arbeidsverhoudinge beskerm ook aansoekers en werknemers. ’n Opdrag om privaat inligting bekend te maak, hou nie verband met die werksverhouding nie en is nie ’n wettige opdrag nie. Indien ’n werkgewer dus ’n werknemer probeer dwing om sulke inligting te deel en bekend te maak, word dit as ’n onbillike arbeidspraktyk beskou en kan ook beskou word as inbreuk op ’n werknemer se reg op privaatheid.

Slegs in gevalle waar daar ’n baie redelike vermoede bestaan dat ’n werknemer of aansoeker opmerkings gepos het wat betrekking op die werkverhouding tussen die voornemende werknemer of huidige werknemer en die werkgewer het, mag die werkgewer volle toegang eis tot privaat inligting wat die betrokke persoon op die sosiale media gepos het. Daar is absoluut geen ander gronde waarop ’n werkgewer dit kan eis nie en versuim of weiering om hom toegang daartoe te gee kan nie beskou word as insubordinasie en/of weiering om ’n opdrag uit te voer nie omdat sodanige opdrag blatant onreëlmatig en onbillik sou wees.

Die ander aspek is jou webgebaseerde e-pos. Die diensverskaffer kan deur middel van die blaaier vasgestel word deur jou maatskappytoestel te gebruik, maar die vraag is of die werkgewer jou privaat e-posse mag lees of nie. Die Suid-Afrikaanse reg is nie duidelik oor hierdie aspek nie. Ons moes na aspekte van die hooggeregshof van New Jersey gaan kyk as die volgende stap in die soeke na ’n antwoord waar die Suid-Afrikaanse reg en hofbeslissings swyg. In ooreenstemming met hierdie internasionale reg, wat ek glo binnekort deur ander lande nagevolg sal word, is daar bevind dat ’n werknemer ’n bepaalde reg op en verwagting van privaatheid het. In die geval van Stengrad vs Loving Care Agency Incorporated het die hooggeregshof van New Jersey beslis dat die werkgewer op die voormalige werknemer se privaatheid inbreuk gemaak het toe hy haar maatskappyskootrekenaar ondersoek het en deur haar eie privaat wagwoordbeskermde e-posrekening te gebruik  in die webblaaier historiese e-posse gevind het wat sy met haar persoonlike regsadviseur gewissel het.

Die hof het bevind dat Loving Care se beleid met betrekking tot die web onduidelik is oor hierdie spesifieke omstandighede en geskilpunt omdat dit nie die gebruik van persoonlike webgebaseerde e-posrekenings en rekenings waartoe daar deur maatskappytoerusting of maatskappytoestelle toegang verkry word, aanspreek nie. Dit spreek glad nie persoonlike rekenings aan nie en waarsku ook nie werknemers dat inhoud wat deur persoonlike rekenings gestuur word forensies deur die maatskappy herwin kan word nie. 

Dit was dus duidelik dat Stengrad ’n verwagting van privaatheid het met betrekking tot e-posse wat via haar webgebaseerde e-posadres gestuur word. .

Dit beteken egter nie dat werkgewers nie die gebruik van werkplekrekenaars mag moniteer en reguleer nie. Maatskappye kan beleide met betrekking tot rekenaargebruik aanneem om die bates, reputasie en produktiwiteit van ’n besigheid te beskerm en seker te maak dat wettige korporatiewe beleid uitgevoer word. ’n Werkgewer mag sodanige beleid afdwing en mag werknemers dissiplineer as daar gevind word dat hulle hierdie werkplekreëls verbreek. Die werkgewer moet dus seker maak dat sy beleid betreffende die gebruik van hierdie elektroniese toestelle en die gevolge daarvan baie duidelik is en moet uiters duidelik wees deur te verklaar dat geen lêers waartoe deur ’n maatskappytoestel toegang verkry word as persoonlik of privaat beskou moet word nie en dat daar deurgaans geen verwagting van privaatheid is nie.

Die beginsel is dus dat werknemers te alle tye met maatskappybeleid vertroud moet wees en nie maatskappytoerusting vir persoonlike doeleindes moet gebruik nie.

 

EKONOMIESE NUUS

 

Mag werkers nie welaf wees nie?
Deur Paul Joubert

In November 2011 het Cosatu in die Wes-Kaap te kenne gegee dat hulle die Kaapstadse administrasie na die gelykheidshof sou sleep oor wat hulle as diskriminasie teen arm werkers beskou.

In ʼn ietwat bisarre argument word die stad van diskriminasie teen armes beskuldig omdat die stad geld bestee om toerismeprojekte te ondersteun, maar nie om advertensies te plaas wat plaaslike verbruikers aanmoedig om plaaslik vervaardigde goedere te koop nie. Die veronderstelling is dat, deur plaaslike produkte te koop, meer plaaslike werksgeleenthede in vervaardiging behoue sal bly.

Blykbaar is verhoogde toerisme net tot voordeel van die “ryk base” en “middelklas werkers”, en is daar klaarblyklik geen “regte werkers” (m.a.w. laagbetaalde arbeiders) wat in die toerismebedryf werk nie. Terselfdertyd is daar blykbaar geen “ryk base” of “middelklas werkers” in die vervaardigingsektor nie – wat ʼn mens laat wonder teen wie Cosatu dan protesteer wanneer daar oor die vervaardigingsektor uitsprake gemaak word...

Afgesien van die erg wankelrige logika agter enige proteksionistiese veldtog om verbruikers aan te spoor om plaaslike produkte te koop (dalk ʼn onderwerp vir ʼn toekomstige artikel), is daar ʼn dieperliggende probleem in Cosatu se argument:

Cosatu impliseer eintlik dat indien iemand se lewenstandaard hoër as ʼn sekere vlak styg en die persoon “ryk” of selfs net “middelklas” word, so ʼn persoon nie meer terselfdertyd ʼn “werker” kan wees nie. In so ʼn denkraamwerk is iemand wat meer waarde deur toepassing van kennis of innovasie toevoeg outomaties ʼn “skurk”, terwyl diegene wat minder waarde toevoeg outomaties verdienstelike mense is.

Daar word dan eintlik aan werkers (en aan Kaapstad) gesê dat mense dit nie moet durf waag om inisiatief aan die dag te lê en werk te begin doen wat meer waarde toevoeg en dus lewenstandaarde verhoog nie. Mense moet nie die kans gegun word om hulself op te werk tot die “middelklas” of selfs die vlak van “die rykes” nie, want dan is hulle outomaties bose uitbuiters.

So ʼn houding lei tot stagnasie en agteruitgang. Natuurlik is daar dikwels vir ʼn vakbond ruimte om werklike onreg te beveg, maar dit is nie ʼn onreg as iemand beloon word vir die inisiatief om hard te werk en te innoveer nie.
Gister (18 Januarie 2012) is daar beslis dat die hof nie die saak sal aanhoor nie.

 

INTERNASIONALE NUUS

Deur Inge Strydom

Tiener van VSA oorleef lewensgevaarlike vlug

’n Tiener van die VSA was Maandag gelukkig om ’n snerpend koue vlug met min suurstof van Kalifornië na Hawaii in ’n straler se wielholte te oorleef, het die owerhede gesê. Die Federal Bureau of Investigation het die verstekeling geïdentifiseer as ’n 16-jarige man wat by die San Jose-lughawe oor die heining geklim het. Hy het toe ongemerk weggekruip in die wielholte van ’n vliegtuig van die Hawaise lugdiens wat op pad na Maui was, het FBI-woordvoerder Tom Simon aan AFP gesê. Die jong man, wat van die huis af weggeloop het, het ysige temperature en suurstofgebrek deurstaan tydens die vlug van vyf en ’n half uur wat ’n hoogte van 38 000 voet bereik het, het hy gesê. Die tiener het wonderbaarlik oorleef. “Daar is gesien toe hy die vliegtuig in Maui verlaat, die FBI het hom ondervra en aan die kinderbeskermingsdiens oorhandig,” het Simon gesê, en bygevoeg dat die jongeling nie in Hawaii van ’n misdaad aangekla word nie.

“Byna ’n miljoen” Siriese vlugtelinge in Turkye

Die getal Siriese vlugtelinge in Turkye staan op “byna een miljoen,” het eerste minister Recep Tayyip Erdogan Dinsdag gesê en onderneem om aan te hou om dié wat van die oorlog vlug te aanvaar. “Moet ons ons broers vra om nie te kom nie en in Sirië dood te gaan?”, het Erdogan gesê toe hy sy party se wetgewers in die parlement toegespreek het. Die drie jaar lange konflik in Sirië het miljoene mense na naburige lande en nog verder laat vlug. Turkye, ’n sterk teenstander van die regime in Damaskus, is een van die lande wat saam met Libanon en Jordanië die ergste van die vlugtelingkrisis moet verduur. Die Verenigde Nasies het vroeër hierdie maand gesê dat meer as ’n miljoen Siriërs amptelik as vlugtelinge in Libanon geregistreer het en dat die getalle elke dag groei.

Rome vier sy 2 767ste verjaarsdag

Gladiators, perderuiters en vroue met blomme in hul hare het Maandag die geskiedenis laat herleef by Rome se Circus Maximus, waar duisende mense byeengekom het om die Ewige Stad se 2 767ste verjaarsdag te vier. Die geleentheid, waarby sowat 1 600 akteurs betrokke was en vanjaar op ’n sonnige Paasmaandag geval het, is ’n groot aantrekkingskrag veral vir toeriste wat deur antieke Rome bekoor word. Vir hierdie geleentheid, wat deur die Geskiedenisgroep van Rome gereël is, het gladiators geveg en vroue in historiese drag het al langs ’n paraderoete deur sentrale Rome in die strate gedans. Volgens legende was Rome se eerste koning Romulus, wat die stad op 21 April 753 v.C. gestig het na ’n dodelike dispuut met sy broer Remus.

 

MY GESONDHEID

 

Die ABC van niere
Geskryf deur Medihelp (Vir sakpas mediese dekking SMS “Solidariteit” na 32291)

Jou liggaam se fantastiese filters

Die niere is jou liggaam se suiweringsaanleg om afvalstowwe uit jou bloed verwyder. Wat kan jy doen om jou niere gesond te hou? En hoe weet jy as iets verkeerd loop? Aangepas uit ’n artikel wat in élan, Medihelp se gesondheidstydskrif, gepubliseer is. Joernalis: Jaco Jacobs

Die niere is twee boontjievormige organe wat in die agterste gedeelte van die buikholte geleë is, weerskante van die ruggraat. Bloed vloei deur die nierslagare na die niere en verlaat dit weer deur die nierare. Binne-in elke nier is ’n netwerk van filters (nefrone) wat die bloed filtreer en urine vervaardig.

Wat doen jou niere?

Jou niere se belangrikste funksie is om van afvalstowwe ontslae te raak. Die metaboliese prosesse in jou liggaam, waartydens voedsel in energie omgeskakel word, vervaardig afvalstowwe soos ureum en uriensuur wat in die bloed versamel. Die niere filtreer hierdie afvalstowwe uit die bloed en skakel dit om in urine, wat deur die nierkelke opgevang word en in die nierbekken versamel. Hiervandaan word dit deur middel van die ureters na die blaas vervoer en uitgeskei.

Ander funksies van jou niere sluit in:

  • die regulering van die liggaam se pH-vlakke, deur die heropname van bikarbonaat uit die urine en die vrystelling van waterstof in die urine,
  • die regulering van bloeddruk, wat afhang van die hoeveelheid natriumchloried (sout) wat uit die bloed opgeneem word,
  • die afskeiding van hormone soos renien (wat bloeddruk verhoog) en eritropoiëtien wat die vorming van rooibloedselle in die beenmurg stimuleer), en
  • die opname van vitamien D (wat kalsiumopname beïnvloed).

Algemene niersiektes

Chroniese niersiekte, nierstene, nierbeserings, nierinfeksie, siste en kanker is van die algemeenste siektetoestande wat met die niere verband hou.
Volgens Health24.com is chroniese niersiekte in Suid-Afrika aan die toeneem, en dit kom drie tot vier keer meer algemeen in Afrika as in ontwikkelde lande voor.
Dié lewensgevaarlike siektetoestand is onomkeerbaar, maar indien dit betyds gediagnoseer word, kan die gepaardgaande gevare, soos hartprobleme, vroegtydig behandel word. Dit is daarom baie belangrik dat diegene wat as hoërisikogevalle beskou word, gereeld mediese toetse ondergaan. Mense met ’n verhoogde risiko vir niersiektes sluit persone met hoë bloeddruk en diabetes in, asook mense met ’n familiegeskiedenis van nierverwante siektes.
Gevorderde gevalle van chroniese niersiekte vereis niervervangingsterapie in die vorm van hemodialise of ’n nieroorplanting. Tydens dialise word ’n meganiese toestel gebruik om afvalstowwe soos kreatinien, ureum en oortollige water uit die bloed te verwyder. Mediese navorsers wêreldwyd probeer tans tegnologie ontwikkel wat dit hopelik in die toekoms moontlik sal maak om kunsmatige niere of meganiese toestelle te ontwikkel wat pasiënte as inplantings kan ontvang.

Moontlike tekens van niersiekte

Selfs in die geval van ernstige niersiektes kan ’n pasiënt soms geen simptome ondervind nie. Die Suid-Afrikaanse Nierstigting raai mense egter aan om ’n dokter te spreek indien hulle enige van die volgende simptome ondervind:

  • Hoë bloeddruk en aanhoudende kopseer
  • Kortasemigheid
  • Geswolle ledemate
  • Swakheid
  • Gebrekkige eetlus
  • Slapeloosheid
  • Liggaamspyn
  • Gebrekkige denkprosesse

Nierstene

Enigiemand wat al ooit met nierstene gesukkel het, sal getuig hoe pynlik dié toestand kan wees.

Nierstene is die algemeenste urienwegprobleem waarmee dokters te kampe het. Dit ontstaan wanneer die konsentrasie van chemiese stowwe in die urine te hoog is en ’n kristalmassa vorm wat in die nier kan agterbly of tot in die urienweg kan beweeg.
Kleiner nierstene kan soms in die urine uitgeskei word sonder dat ’n mens daarvan bewus is, maar groter nierstene kan lei tot pynlike urinering, bloed in die urine of ’n skerp pyn in die lae rug.

Die behandeling van nierstene hang van die grootte, ligging en samestelling daarvan af. Sommige nierstene word met ultrasoniese klankgolwe in kleiner stukkies opgebreek wat dan in die urine uitgeskei kan word. Ander word deur ’n uretroskopie opgebreek, waar ’n dun buis onder verdowing in die ureter geplaas word om die niersteen te verwyder of met ’n laserstraal op te breek. In sommige gevalle moet ’n uroloog ’n nefrolitotomie uitvoer. Tydens dié prosedure word ’n klein snytjie onder verdowing in die pasiënt se rug gemaak om die niersteen met behulp van ’n nefroskoop te verwyder.
In die algemeen is dit ’n goeie idee om elke dag genoeg water te drink om nierstene te voorkom, maar afhangend van die samestelling en oorsaak van die nierstene, sal jou dokter moontlik spesifieke dieetaanpassings voorstel of medikasie voorskryf.

Hou jou niere gesond

Die Amerikaanse Nasionale Niersiekte-opvoedingsprogram (NKDEP) verskaf die volgende riglyne om jou niere gesond te hou:

  • Maak seker jy handhaaf ’n konstante bloeddruk op die doelwitvlak wat jou dokter gestel het. Sodoende kan jy nierversaking vertraag of voorkom.
  • Beheer jou bloedglukosevlak indien jy diabetes het.
  • Verseker dat jou cholesterolvlak binne die teikenvlak bly.
  • Maak seker jy gebruik medisyne presies soos jou dokter dit voorgeskryf het. (Sekere bloeddrukmedisyne kan help om jou niere te beskerm.)
  • Eet minder sout. Probeer minder as 1 500 mg natrium per dag inkry.
  • Eet kos wat gesond is vir jou hart, soos groente, vrugte, volgraankos en laevetsuiwelprodukte.
  • Beperk jou alkoholinname en moenie rook nie.
  • Oefen gereeld.
  • Verloor gewig indien jy oorgewig is.

Het jy geweet?

  • Jou linkernier is effens groter as jou regternier.
  • Die eerste nieroorplanting is in 1950 in die staat Illinois in Amerika gedoen. Die pasiënt was die 44 jarige Ruth Tucker, wie se liggaam die skenkernier 10 maande na die oorplanting verwerp het omdat daar nog geen immuunonderdrukkers was nie. Die oorgeplante nier het egter Tucker se ander nier kans gegee om te herstel en sy het nog vyf jaar lank geleef.
  • Wêreld Nierdag word jaarliks op die tweede Donderdag in Maart gevier om bewusmaking oor niergesondheid te skep.
  • ’n Nier is ongeveer tien sentimeter lank en ses sentimeter breed. Dit is ongeveer so groot soos ’n vuis.
  • Die gemiddelde wagtydperk vir ’n skenker nier is ses tot twaalf jaar.
  • Ongeveer 90% van alle oorgeplante niere funksioneer suksesvol ’n jaar na die oorplanting.
  • Elke nier het ongeveer een miljoen nefrone om bloed te filtreer.
  • Jou niere filtreer ongeveer 140 liter bloed elke dag.

Want die lewe gebeur – vir die goeie en slegte tye kry ‘n privaat mediese fonds vanaf R918 pm.  Vir meer inligting oor Medihelp se voordele opsies, SMS “Solidariteit” na 32291.

 

HET JY GEWEET?

 

Afrika met 54 state is die vasteland met die meeste state.

Bron: Pharos se Feitegids. 'n Kernensiklopedie.

 

SPREEKWOORD

 

Vleis teen die draad sny. Vleis in die lengterigting van die vesels sny.

Bron: Pharos se spreekwoordeboek en waar hulle vandaan kom.

 

AANHALING

 

Ek smeek U, Heer, om hulp dat ek behou, die wonderskat my toebedeel as kind: Dat ek, in wat ek op U wêreld vind, weerkaatsing van U godlik skoon aanskou.

- C. Louis Leipoldt
- " 'n Kersnaggebed ", Skoonheidstroos, 1932

 

RIDDER EN RAMPOKKER

Deur Inge Strydom

Ridder

Vandeesweek se ridder is die Adopt Moreletaspruit-forum wat homself daarvoor beywer om die Moreletaspruit in die Pretoria-Oos-omgewing te bewaar. “Min mense besef hoe belangrik dit is om die spruit skoon te hou, veral as ’n mens in ag neem dat die spruit direk in die Roodeplaatdam invloei en mense in die noordelike dele van Pretoria hul water uit dié dam kry,” sê Anneli Kuhn, voorsitter van die Forum. Die Forum het in samewerking met ander belangegroepe, waar onder die Tshwane-metro, die departement van waterwese, die waternavorsingkommissie en die Universiteit van Pretoria, onlangs verskillende dele van dié spruit besoek.

Rampokker

Vandeesweek se rampokker is die motoris wat die afgelope Paasnaweek die dood van vyf mense, waar onder dié van ’n kind, op die N1 buite Ventersburg veroorsaak het. Die drywer het ’n kop-aan-kopbotsing veroorsaak toe hy teen ’n hoë spoed ’n ander voertuig verbygesteek het. Volgens Saki Mohono, woordvoerder van die Vrystaatse vervoerdepartement, wil dit voorkom asof die drywer ongeduldig was omdat die pad in daardie omgewing as gevolg van padwerke tot twee bane vernou is. Al vyf die slagoffers is op die toneel dood.

 

ATTERBURY TEATER

 

Hoogtepunte by die Atterbury Teater

Vertoning/ geleentheid

Datum

Tyd

Prys

Die Heuwels Fantasties

24 April

20:00

R140 / R160

Vreesloos vroulik (Fearless Feminine) Werkswinkel deur voormalige Mej. SA Melinda Bam & Anja van Zyl
Besprekings: 072 344 5804 / www.womentality.co.za

 

1 Mei

 

9:00

 

R380

Kaartjies is by enige Computicket-kantoor beskikbaar of skakel 083 915 8000 om ʼn bespreking te doen. Atterbury Teater is geleë op die hoek van Lynnwoodweg en Daventrystraat in Lynnwood. Skakel die teater by 012 471 1700 of stuur ʼn e-pos na info@atterburytheatre.co.za.

 

Sluit só aan by die Solidariteit Atletiekklub

Word vandag nog deel van die Solidariteit Atletiekklub. Skakel klubvoorsitter Hendrik van der Westhuizen by 082 851 8451 vir meer inligting of stuur 'n e-pos na atletiek@solidariteit.co.za.

[CONTENT]