Soldeer

Nr. 574 - 13/02/2014

H/v D F Malanstraat
& Eendrachtstraat
Kloofsig

Posbus 11760
Centurion
0046

Telefoonnommers:
012-644-4300
0861-25-24-23

Faksnommer:
(012) 664-6493

navrae@solidariteit.co.za

diens@solidariteit.co.za

HOOFSTORIE

Hof beveel in Solidariteit se guns in SAAT-diskriminasiesaak

By Nico Strydom

Die arbeidshof in Johannesburg het vandeesweek beveel dat 'n Solidariteit-lid met onmiddellike effek in die pos van lugvaarttegnikus by South African Airways Technical (SAAT), die tegniese afdeling van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL), aangestel moet word en dat 'n ander lid vergoeding moet ontvang nadat die vakbond 'n saak van onbillike diskriminasie op grond van ras aanhangig gemaak het. Die hofbevel is uitgereik nadat 'n skikking tussen Solidariteit en SAAT bereik is. Vroeër die week reeds is 'n skikking vir nog 'n Solidariteit-lid bereik.

Dirk Groenewald, hoof van Solidariteit se Sentrum vir Billike Arbeidspraktyke, sê volgens die hofbevel moet Casper Hendrik Mulder met onmiddellike effek in die pos van lugvaarttegnikus, 'n pos waarin hy reeds waarneem, aangestel word. “Daar is ook verder beveel dat Marthinus Cornelius Coetzer, wat intussen die diens van SAAT verlaat het, vergoeding van meer as R159 000 moet ontvang. Dit volg nadat daar Maandag met die aanvang van die saak 'n skikking met Ettienne van der Berg bereik is waarvolgens hy terugwerkend tot April 2011 as lugvaarttegnikus aangestel sal word. Die hof het intussen ook beveel dat SAAT Maandag se regskoste ten volle moet betaal sowel as 'n derde van Solidariteit se regskoste vir Dinsdag en Woensdag.”

Groenewald sê die skikking met SAAT is 'n bewys daarvan dat poste nie gereserveer kan word nie. “Poste kan nie vakant gelaat word nie in omstandighede waar daar nie geskikte swart kandidate is nie, maar waar daar wel wit kandidate is wat aansoek doen en geskik is vir aanstelling. Dit is eenvoudig onbillike praktyk onder die vaandel van regstellende aksie. Daar is openlik aan die kandidate bevestig dat hoewel hulle bevoeg is om in die poste aangestel te word, 'n besluit geneem is om die poste te reserveer. Ons is van mening dat werkgewers, strydig met wetgewing, eenvoudig 'n wiskundige benadering tot regstellende aksie volg ongeag die impak daarvan op bekwame individue wat ooglopend geskik is vir aanstelling.”

Solidariteit het in 2011 ’n saak van onbillike diskriminasie op grond van ras namens die drie lede na die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) verwys. Die KVBA het die saak in 2012 na die arbeidshof verwys.

 

NUUS
Uitspraak voorbehou in omstrede misdaadintelligensiesaak

Deur Nico Strydom

Regter Robert le Grange het vandeesweek in die Johannesburgse arbeidshof uitspraak voorbehou in die omstrede misdaadintelligensiesaak wat Solidariteit namens kol. Kobus Roos teen die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) voer. Die saak is aanvanklik vir 10 dae op die rol geplaas, maar die SAPD het Maandag op omstrede wyse in die hof toegegee dat hy nie in 'n posisie is om die meriete van die saak te beveg nie.

Die SAPD het toegegee dat daar onbillik teen Roos opgetree is en dat hy daarop geregtig is om in 'n soortgelyke posisie geplaas te word as die pos wat hy voor die beskermde bekendmaking gevul het. Hy is uit hierdie posisie geskuif nadat hy omvattende korrupsie blootgelê het. Die SAPD het ook toegegee dat Solidariteit se regskoste deur die SAPD betaal moet word. Johan Kruger, woordvoerder van Solidariteit, sê die enigste aspek wat in dispuut gebly het, is die hoeveelheid vergoeding waarop Roos geregtig is. “Die partye het die hof oor hierdie punt toegespreek en Solidariteit se regspan het aangevoer dat die beroepsbenadeling, viktimisasie en skade aan Roos se reputasie die hof noop om die maksimum vergoeding in sy guns toe te staan. Die arbeidshof kan volgens wet die maksimum vergoeding van 12 maande se salaris aan Roos toeken. Solidariteit se regspan het aangevoer dat selfs die maksimum vergoeding wat toegestaan kan word, nie genoeg sal wees om Roos te vergoed vir alles wat hy die afgelope drie en 'n half jaar moes deurmaak nie.”

Volgens Kruger het die SAPD se regsverteenwoordiger aangevoer dat sy kliënt die saak op ’n verantwoordelike en prysenswaardige wyse hanteer het. “Dit is skokkend dat die SAPS dit waag om hierdie standpunt te huldig. Die teenoorgestelde is waar. Die saak is kwaadwillig tot op verhoor gedryf net om te kapituleer toe die hofstryd begin het. Dit is 'n skokkende vermorsing van belastingbetalers se geld.”

Regter le Grange het aangedui dat uitspraak tot einde Maart 2014 voorbehou is.

Kol. Roos, wat al vir 26 jaar in diens van die SAPD is, werk tans in die inspeksie- en evalueringsafdeling van misdaadintelligensie. Die afdeling was nooit funksioneel nie en is tans geskrap. Roos is deur Mdluli na dié afdeling geskuif nadat hy in 'n beskermde bekendmaking bewerings en bewyse van korrupsie in misdaadintelligensie blootgelê het. Roos het voorheen as hoof in die interne-ouditafdeling van misdaadintelligensie waargeneem en was onder meer verantwoordelik vir oudits op die sogenaamde rekening vir geheime dienste. Mdluli het Roos onder meer aangestel om dié rekening te ondersoek; die ondersoek later weer stopgesit en Roos daarna verskuif na die pos wat hy tans beklee.

 

Vergoedingskommissaris moet by ooreenkomste hou, gelas hof

Deur Nico Strydom

Die vakbond Solidariteit het in die hooggeregshof in Pretoria ’n hofbevel teen die vergoedingskommissaris, die minister en die direkteur-generaal van arbeid bekom waarvolgens die vergoedingskommissaris belet word om eise te hersien nadat die kommissaris ’n aanbod gemaak het en dit deur die eiser aanvaar is. Die saak het voortgespruit uit die eis van ’n Solidariteit-lid, mev. Nelson, wat haar nek by drie verskillende geleenthede beseer het.

Adv. Hanlie van Vuuren, 'n litigant by Solidariteit se Afdeling vir Beroepsgesondheid en -veiligheid, sê die tweede van die drie beserings is deur die kommissaris afgewys, maar daarna deur ’n tribunal aanvaar. “Die derde besering wat ’n verergering van die tweede was, is op ’n latere datum ook deur die kommissaris afgewys. Solidarteit het namens mev. Nelson beswaar teen die afwysing aangeteken en die kommissaris daarop gewys dat die derde besering ‘n verergering van die tweede besering was. Die kommissaris het daarop ’n skriftelike aanbod gemaak dat die eis aanvaar sal word. Solidariteit het die aanbod namens mev. Nelson aanvaar.”

Van Vuuren sê die kommissaris het egter uit hierdie ooreenkoms teruggetree en nuwe redes aangevoer waarom dit nie uitgevoer kan word nie. “Die nuwe redes het ooreengestem met die redes wat aangevoer is waarom die tweede eis aanvanklik nie aanvaar is nie.  Verskeie skrywes en aanmanings aan die kommissaris het nie die gewensde gevolg gehad nie en Solidariteit het hom tot die hof gewend.”

Van Vuuren sê Solidariteit is verheug dat die vergoedingskommissaris nou belet is om uit hierdie tipe ooreenkomste te tree en dat mev. Nelson die nodige mediese behandeling en vergoeding kan ontvang.

 

Wetenskaplikes van VK en SA ruil kennis uit

Deur Cilleste van der Walt

Die Suid-Afrikaanse departement van wetenskap en tegnologie en die VK se departement van besigheidsinnovasie en vaardighede was hierdie week die gashere by ’n Suid Afrika-Verenigde Koninkryk-werkwinkel om navorsingsamewerking te versterk as deel van ’n bilaterale wetenskaplike seminaarskema van R3 miljoen tussen dié twee lande.

Die werkwinkel is van 10 tot 11 Februarie in Kaapstad gehou, waartydens 75 wetenskaplikes, navorsers en amptenare hul gedeelde, relevante en spesifieke areas van navorsingsbelang met die oog op toekomstige samewerking geïdentifiseer het, terwyl nuwe en opwindende befondsingsmeganismes ter ondersteuning van die befondsing van voortgesette navorsing ondersoek is.

Volgens Engineering News het die minister van wetenskap en tegnologie, Derek Hanekom, en sy eweknie van die VK, David Willets, ooreengekom oor die oorkoepelende bilaterale skema by 2013 se Suid-Afrika-Verenigde Koninkryk Bilaterale Forum.

By dieselfde vergadering en tydens ’n opvolgbesoek deur Hanekom aan die VK in Januarie vanjaar, het die twee ministers ooreengekom oor die verdieping van die lande se verhouding in wetenskap en tegnologie en oor die gedeelde prioriteitareas van astronomie en die ruimte, klimaatverandering, biowetenskappe en gesondheidsnavorsing.

 

Beweging-nuus

 

SOLIDARITEIT

Só skep ons, én jy, hoop!

Ons Suid-Afrikaners is geneig om gou negatief te raak oor die stand van sake in ons land – en tog is dit met reg. Misdaad, korrupsie, swak dienslewering, 'n swak onderwysstelsel en die onbillike toepassing van regstellende aksie is maar net 'n paar van die struikelblokke wat landsburgers daagliks moet oorkom.

Solidariteit se uitgangspunt is dat ons as landsburgers vernuwende en verrykende oplossings vir hierdie probleme moet vind. Dit kan slegs gedoen word as ons hoopvol en kreatief te werk gaan. Wanneer daar hoop is, kan 'n mens struikelblokke soveel makliker verander in geleenthede om te groei en te ontwikkel.

Solidariteit kondig met groot dankbaarheid aan dat hy in 2013 verskeie soorte hoop kon skep deur middel van sy lede se maandelikse lidmaatskapgeld. Dit sluit onder meer in:

  • Studiehulp: Solidariteit Helpende Hand het verlede jaar in totaal R12,3 miljoen aan rentevry lenings en beurse uitbetaal. Die goeie nuus is dat dit hierdie jaar verhoog word tot R16,6 miljoen rand, waarmee ons 948 jongmense kan help om hulle drome te bewaarheid. Meer as die helfte hiervan is ingesamel danksy elke lid se R5-bydrae tot die studiefondse, wat deel van jou ledegeld uitmaak. Die res is deur Helpende Hand en ons vennote ingesamel.
  • Sol-Tech: Ons tegniese kollege lei nou 1 000 vakleerlinge op en het onlangs by nuwe geboue ingetrek. Danksy ons lede se maandelikse bydrae van R10, wat ook by die ledegeld ingesluit is, kon ons die afgelope jare R30 miljoen rand daaraan bestee om Sol-Tech tot ’n spogkollege uit te bou. Daarmee saam het ons Akademia teen sowat R10 miljoen as die eerste fase van ’n eie universiteit begin, met sewe landwye opleidingsentrums. Ons eerste graadkursus is geregistreer en die klasse het so pas begin.
  • Regsake: Solidariteit het verlede jaar weer ’n 90%-sukseskoers behaal met die 1 450 sake waarmee ons namens ons lede besig is. Danksy julle lidmaatskap kon ons belangrike hofsake wen wat die regsgeskiedenis help skryf en wat regverdigheid vir almal wil verseker.
  • Vergoeding vir beroepsbeserings en -siektes: Ons kon verlede jaar daarin slaag om ’n allemintige R208,6 miljoen rand te beding vir lede wat beroepsbeserings en –siektes opgedoen het. Daarmee saam het ons, danksy julle ondersteuning, talle voorkomende projekte van stapel gestuur.
  • Begrafniskoste: Solidariteit se begrafnisskema is daar wanneer lede ons die nodigste het. Meer as R7 miljoen rand is in 2013 aan lede of hul afhanklikes uitbetaal.
  • Onderhandeling: Vakbondonderhandelaars het in 2013 in baie moeilike omstandighede daarin geslaag om in 65 onderhandelinge persentasieverhogings wat hoër as die inflasiekoers was, vir ons lede te beding. Hierdie prestasie is sonder stakings en onrus bereik.
  • Ledediens: Solidariteit se nasionale Dienssentrum het verlede jaar meer as 350 000 ledenavrae hanteer en ons lede van raad bedien oor werkverwante kwelvrae. Daarmee saam het meer as 14 100 lede ons landwye netwerk van 20 dienskantore besoek vir hulp en raad en 42 435 navrae is hanteer.
  • Ledekommunikasie: Ons tydskrif is nou met ’n oplaag van 110 000 een van die grotes in die land. Daar word maandeliks nog 480 000 nuusbriewe aan ondersteuners van ons Beweging uitgestuur.
  • Munisipaliteite: AfriForum het as deel van die Solidariteit Beweging gehelp om munisipale dienste in meer as 100 dorpe en stede te verbeter. Talle hofsake is ook gewen, wat alles help om van ons land ’n beter en regverdiger plek te maak.
  • Skolehulp: Danksy ons lede se steun kon Helpende Hand se Kosblikkieprojek verligting by 75 skole en 66 kleuterskole bring. Daarby skenk Helpende Hand jaarliks sowat 4 500 skooltassies met skryfbehoeftes aan behoeftige graad eens. In totaal word meer as 10 000 kinders se lewens deur hierdie twee mooi projekte geraak. Ons kon ook by 23 skole met die salarisse van 57 onderwysassistente help sodat ons kinders beter onderwys kon kry. Meer as 500 wiskundeonderwysers is in 2013 deur Helpende Hand se Skolesentrum opgelei, waarby sowat 75 000 kinders se wiskundeonderwys gaan baat. AfriForum het ook talle skole waar ons lede se kinders skoolgaan, suksesvol met regskoste teen staatsinmenging gehelp.

Solidariteit se ledegeld word op 1 Maart 2014 met R6 verhoog. Die verhoging sal beteken dat individuele lede se ledegeld aangepas word van R90 per maand tot R96 per maand, terwyl kollektiewe lede se ledegeld verhoog word van R88 tot R94 per maand.

Van elke Solidariteit-lid se ledegeldbydrae sal R10 en R4 onderskeidelik in die Solidariteit Groeifonds en die Solidariteit Opleidingsfonds gestort word. Deur duisende maandelikse bydraes van Solidariteit-lede en -ondersteuners word kleingeld groot geld en so kan onmisbare bydraes gemaak word om hoop en ’n toekoms vir ons mense te skep.


Doen aansoek vir die Sasol Group Services-vakleerlingskap

Die doelwit van die vakleerlingskap is om mense op te lei en te ontwikkel om gekwalifiseerde ambagsmanne ingevolge die vereistes van die Chemical Industries Education and Training Authorities (CHIETA) te word. 

Belangrike inligting

Vakleerlingskap: (Verwysingsno. 12369)    
Sluitingsdatum:  31 Maart 2014
Sake-eenheid:  Sasol Group Services 
Plek:        Secunda/Sasolburg, Suid-Afrika
Tipe werk:   Nie-permanente werknemer (“Non-Permanent Employee” - NPE)
Ervaringsvlak:  Geen

 

 

 

 

Om aansoek te doen, SMS die woord LEARNER na 33162 tussen 2 Januarie en 31 Maart 2014. Let asb. daarop dat alle korrespondensie slegs per SMS deur die selfoonstelsel sal plaasvind. Elke SMS kos R1,50.  

BELANGRIK: SLEGS SMS-AANSOEKE SAL OORWEEG WORD.

Nadat jy aansoek gedoen het, moet jy ook jou CV per e-pos of faks stuur aan:

Gawie Koch: gawie.koch@sasol.com or fax 011 522 7562
Nico venter: nico.venter@sasol.com or fax 011 522 3067 

Let asb. daarop dat jy slegs een dissipline uit die lys hieronder mag kies: 

prosesseringstegnikus (“process artisan”); elektriese vakman, passer, instrumentasietegnikus, sweiser, raamwerkmonteur (“rigger”); draaier; myner; elektromeganikus; dieselwerktuigkundige; ketelmaker.

Vereiste resultate

Die suksesvolle kandidate sal opgelei word in die kernvaardighede en toepaslike veiligheidstandaarde wat op die bepaalde ambag betrekking het, vir die instandhouding en bedryf van Sasol-aanlegte. 

Werkvereistes

Maak seker dat jy aan die volgende kwalifiserende vereistes voldoen voordat jy aansoek doen:

  • Graad 12- of N3-sertifikaat met Wiskunde SG (minimum E-simbool) (UITGESLUIT Wiskundige Geletterdheid, Addisionele Wiskunde, Funksionele Wiskunde, Handelswiskunde, Toegepaste Wiskunde);
  • Slaagpunt vir Engels / Engels vir die Sakewêreld (“Business English”);
  • Fisiese / Ingenieurswetenskap (geen ander wetenskapvak nie) (minimum E-simbool);
  • Vorige toepaslike ondervinding sal voordelig wees.

Jy moet vir die duur van jou opleiding:

  • voorgeskrewe ingenieurs- en tegnologietake uitvoer en voltooi;
  • gepaste ingenieurswese en tegnologie toepas ten einde die verlangde resultate te behaal;
  • die departemente sowel as die afdelingsbestuur aktief bystaan met die ontwikkeling en implementering van prosesse, riglyne en beste praktyk;
  • verseker dat die toepaslike praktykkodes en standaarde vir tekenwerk en ingenieurswese nagekom word;  
  • ná die vasgestelde praktiese opleidingstydperk 'n vaktoetssertifikaat behaal.

Karaktereienskappe

Bevoegdhede (vaardighede, kennis en persoonlikheidsprofiel):
Goeie kommunikasievaardighede; moet pro-aktief wees en inisiatief toon; moet in 'n span kan saamwerk maar ook onafhanklik kan werk; selfgemotiveerd wees; buigsaam, realisties en Engels goed magtig wees.  

 

Akademia

Akademia Entrepreneurseminaar Pretoria

Dink jy entrepreneuries, en wil jy jou kans op sukses verbeter? Is jy bereid om raad van die bekendste name in besigheid te aanvaar? Moet dan nie die Akademia Entrepreneurseminaar op 11 Maart in die Atterbury-teater misloop nie. Kom neem interaktief deel aan gesprekke met bekendes soos Louis van der Watt van die Atterbury Groep, Heiko Weidehase van die Efficient Groep, Business Partners Ltd, Sarel du Plessis (voormalige Media24-bemarkingsguru) en Gerhard en Isabel Roos van Isa Carstens om jou vrae te beantwoord!
Koste per persoon beloop slegs R250 vir 'n voldagseminaar, en die program begin om 8:00. Bespreek vandag nog jou sitplek op www.akademia.ac.za om teleurstelling te voorkom! Ons sien jou daar!

Akademia Entrepreneurseminaar Wes-Kaap

Dink jy entrepreneuries, en wil jy jou kans op sukses verbeter? Is jy bereid om raad van die bekendste name in besigheid te aanvaar? Moet dan nie die Akademia Entrepreneurseminaar op 12 Maart in die CR Louw Ouditorium in Sanlam se Hoofkantoor, Bellville, misloop nie. Kom neem interaktief deel aan gesprekke met bekendes soos Ben Deysel, president van die AI, Jannie Rossouw van Sanlam, Business Partners Ltd, Mauritz Bekker van die Entrepreneur School en Gerhard en Isabel Roos van Isa Carstens om jou vrae te beantwoord!
Koste per persoon beloop slegs R250 vir 'n voldagseminaar, en die program begin om 8:00. Bespreek vandag nog jou sitplek op www.akademia.ac.za om teleurstelling te voorkom! Ons sien jou daar!

 

AfriForum

AfriForum bekommerd oor waterbestuur in Suid-Afrika

Die burgerregte-organisasie AfriForum is bekommerd oor die swak bestuur van water in Suid-Afrika ná die uitslae van sy nasionale watermoniteringsveldtog van 2013, bekend as die Blou- en Groendruppelveldtog. Verskeie AfriForum-takke dwarsoor die land het deelgeneem.

Volgens Julius Kleynhans, hoof van omgewingsake by AfriForum, kon die probleme met drinkwater vinnig reggestel word, maar rioolwater het beduidende gesondheidsrisiko’s vir gemeenskappe dwarsoor Suid-Afrika ingehou.

“Nalatigheid by beplanning, bestuur en die instandhouding van infrastruktuur lei tot grootskaalse besoedeling van ons waterbronne. Dit kan beduidende risiko’s vir mense en die gemeenskap se gesondheid inhou,” het Kleynhans gesê.

“Die projek het die gehalte van drinkwater en behandelde water dwarsoor die land getoets om nakoming van nasionale standaarde te verseker. Die monsters is deur onafhanklike SANAS-geakkrediteerde laboratoriums getoets en die uitslae is geanaliseer,” het Kleynhans gesê.

Bloudruppel

Die Bloudruppel-uitslae het 3 munisipaliteite uitgewys waar drinkwater nie aan nasionale standaarde voldoen het nie. Dit was die volgende:

1. Groblersdal – Sekhukhune Plaaslike Munisipaliteit – met E.coli in die water. Die munisipaliteit is in kennis gestel en die probleem is binne 24 uur reggestel.
2. Hertzogville – Tokologo Plaaslike Munisipaliteit – Die monsters het 14 mg nitrate per 100 ml water bevat, wat methemoglobinemie in babas kan veroorsaak. Dit volgens die Suid-Afrikaanse Riglyne vir Watergehalte volume 1: Huishoudelike watergebruik, tweede uitgawe, 1996 (SARWG)
3. Elliot – Sakhiziwe Plaaslike Munisipaliteit – met E.coli in die water. Die munisipaliteit is in kennis gestel en die probleem is binne 24 uur reggestel.

Groendruppel

Hierdie uitslae het groot kommer gewek oor verantwoordelike watergebruik en die instandhouding van dienste deur die regering.

“Tot dusver het 22 watersuiweringsaanlegte in ons projek aan die minimum standaarde vir rioolwater voldoen. 24 het nie, wat 'n bedreiging vir die omgewing en diegene wat die water gebruik, inhou,” het Kleynhans bygevoeg.

Suid-Afrika se nasionale standaarde vir watergehalte maak voorsiening vir 1000 eenhede E. coli per 100 ml water in behandelde riool. Munisipaliteite wat nie hieraan voldoen nie, sluit in:

Dorp                                  Munisipaliteit                                   E. coli-telling per 100 ml

Secunda                  Govan Mbeki Plaaslike Munisipaliteit                  > 1 000 000
Zeerust                   Ramotshere Moiloa Plaaslike Munisipaliteit        > 1 000 000
Brandfort                Masilonyana Plaaslike Munisipaliteit                    > 1 000 000
Warmbad                Bela-Bela Plaaslike Munisipaliteit                          > 1 000 000
Lydenburg               Thaba Chweu Plaaslike Munisipaliteit                  > 1 000 000
Naboomspruit          Mookgophong Plaaslike Munisipaliteit                 > 1 000 000
Thabazimbi               Thabazimbi Plaaslike Munisipaliteit                     > 920 000
Hartbeespoort          Madibeng Plaaslike Munisipaliteit                        > 160 000
Bothaville                   Nala Plaaslike Munisipaliteit                                 > 120 000
Lichtenburg               Ditsobotla Plaaslike Munisipaliteit                        > 120 000
Phalaborwa                Ba-Phalaborwa Plaaslike Munisipaliteit              > 110 000
Vryburg                     Naledi Plaaslike Munisipaliteit                               > 87 000
Rooiwal                      Stad Tshwane Metro                                               > 77 000
Louis Trichardt         Makhado Plaaslike Munisipaliteit                         > 40 000
Elliot                            Sakhisizwe Plaaslike Munisipaliteit                      > 36 000
Jeffreysbaai               Kouga Plaaslike Munisipaliteit                                > 34 000
Nylstroom                 Modimolle Plaaslike Munisipaliteit                          > 29 000
Belfast                        Emakhazeni Plaaslike Munisipaliteit                      > 19 000
Marble Hall              Sekhukhune Distriksmunisipaliteit                           > 17 000
Margate                    Hibiskus-kus Plaaslike Munisipaliteit                       > 10 000
Klerksdorp               Stad Matlosana Plaaslike Munisipaliteit                    > 3 500
Winburg                    Masilonyana Plaaslike Munisipaliteit                         > 2000
Kimberley                Sol Plaatje Plaaslike Munisipaliteit                             > 1600
Potgietersrus           Mogalakwena Plaaslike Munisipaliteit                        > 1200

Die uitslag van die 2013-verslag sal gebruik word om dieselfde infrastruktuur in 2014 te meet.

AfriForum sal dwarsoor Suid-Afrika met al die hulpbronne tot sy beskikking optree om te verseker dat probleme onmiddellik opgelos word ten einde hierdie kosbare hulpbron te bewaar.

SMS die naam van jou dorp na 32277 om AfriForum te ondersteun in hierdie inisiatief om die volhoubare gebruik en beskerming van ons waterbronne te verseker. (R1/SMS)

 

Helpende Hand

Entrepreneurskompetisie skop weer af
Deur Karin Venter

Vandag se jongmense kom voor baie struikelblokke op die pad na die toekoms te staan. Hulle wêreld lyk baie anders as die prentjie van die verlede. Helpende Hand verstaan die realiteit waarmee ons jongmense te doen het. Ons wil daartoe bydra dat hulle nie slagoffers word nie maar as oorwinnaars in die arbeidsmark staan. As kinders van jongs af entrepreneuriese vaardighede aanleer, sal hulle die gereedskap hê om die toekoms meer suksesvol aan te pak.

Deur Helpende Hand se unieke entrepreneurskompetisie wil ons elke leerling die geleentheid bied om 'n entrepreneursingesteldheid te ontwikkel, hul vaardighede op te skerp en meer oor die besigheidswêreld te leer.
Die opwindende videogedrewe begeleiding gaan die volgende vrae beantwoord:
•           Hoe kies ek 'n besigheidsidee?
•           Wat het ek alles nodig om met 'n besigheid te begin?
•           Hoe stel ek 'n besigheidsplan op?
•           Hoe kan ek my produk of diens bemark?

Helpende Hand begelei deelnemers om na afloop van elke video 'n gedeelte van 'n besigheidsplan te ontwikkel sodat hul wen idee met die prysgeld kan wegstap. Skole kry ook gelykstaande wengeld om aan te wend vir Entrepreneursontwikkeling in die skool.
Pryse ter waarde van R60 000 vir wenners en hul skole!

Wat is die pryse?
•           Eerste prys: R15 000 vir wenner en hul skool
•           Tweede prys: R8 000 vir deelnemer en hul skool
•           Derde prys: R5 000 vir deelnemer en hul skool
•           Die wenner verskyn ook op KykNet Ontbytsake!

Die kompetisie bestaan uit drie fases waar finaliste deurdring na 'n volgende rondte en sodoende toegang kry tot die materiaal vir die volgende fase. Deelname aan Fase 1 is egter oop vir enige Afrikaansmagtige leerling wat registreer.

Onderwysers kan ook die materiaal in die klaskamer gebruik en 'n groep leerlinge laat inskryf.
Graad 6- tot 12-leerlinge kan aan die kompetisie deelneem en registrasie open op 19 Februarie 2014. Deelnemers kan by www.loopbaan.co.za registreer. Die sluitingsdatum vir die inhandiging van besigheidsidees is 2 Mei 2014 en deelname is gratis.

Hoe neem jy deel?
1. Besoek http://entrepreneurs.helpendehand.co.za/
2. Kyk die video vir agtergrond
3. Registreer gratis!
4. Lees die bepalings en voorwaardes
5. Dateer jou inligting volledig op
6. Kyk die 6 begeleidingsvideo’s
7. Gebruik die gegewe templaat om jou besigheidsidee saam te stel
8. Stuur jou besigheidsidee aan ons voor 2 Mei 2014
Besluit vandag nog om beheer oor jou toekoms te neem en jouself te bemagtig met kennis. Vir volledige inligting kontak Karin Venter by 012-6444390 of karin@helpendehand.co.za

 

Kraal-Uitgewers

Waar geskiedenis lewe kry!

Kraal Uitgewers is ’n klein, maar gespesialiseerde uitgewersmaatskappy wat hoofsaaklik fokus op die publisering van gehalte-boeke oor die Suid-Afrikaanse geskiedenis sowel as publikasies wat die geskiedenis kan verander, regstel en sterk standpunt inneem oor, onder meer, politieke en maatskaplike kwessies in Suid-Afrika. Kraal Uitgewers publiseer slegs nie-fiksie.

Die begin van Kraal Uitgewers

Kraal Uitgewers is in 1999 gestig, kort nadat Suid-Afrika die 100-jarige herdenking van die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog gevier het.

Dit was die liefde en passie vir spesifiek die geskiedenis van die Anglo-Boereoorlog van Paul Alberts, een van Suid-Afrika se bekendste joernalistieke fotograwe, en kol. Frik Jacobs, voormalige direkteur van die Oorlogsmuseum in Bloemfontein, wat uiteindelik tot die stigting van hierdie unieke uitgewershuis gelei het.

Kraal Uitgewers vandag

Kraal Uitgewers het in 2010 deel van die Solidariteit Beweging geword. Die inskakeling van Kraal Uitgewers as deel van die Beweging speel ’n belangrike rol, aangesien Kraal as ’n uitgewershuis ’n kragtige instrument is om idees in die gemeenskap uit te bou.

Kraal Uitgewers sit sy funksie as uitgewer van geskiedkundige Africanawerke voort binne die Solidariteit Beweging, maar plaas nou ook ’n sterk fokus op aktuele werk wat binne die Afrikanergemeenskap waardevolle bydraes tot prominente debatte maak. Verskeie opspraakwekkende werke soos Basta! Ons voetspore is in Afrika (deur dr. Dirk Hermann), Treurgrond – 20 jaar van plaasaanvalle (deur dr. Dirk Hermann en genl. Chris van Zyl) en Ons was daar (deur genl. Jannie Geldenhuys) het reeds sedert Kraal Uitgewers se inskakeling by die Solidariteit Beweging die lig gesien.

 

RUBRIEKE

BEDRYFSBROKKIES

 

Weeklange sluiting van RBSE eindig
Deur Cilleste van der Walt

Suid-Afrika se Richardsbaai-steenkooleindpunt sal op 8 Februarie produksie hervat nadat ’n kragonderbreking die wêreld se grootste steenkooluitvoereindpunt genoodsaak het om vir ’n week te sluit, het die maatskappy se woordvoerder Alan Waller verlede week gesê.

 Eindpuntwerksaamhede is op 31 Januarie tot stilstand gebring en Waller sê die sluiting, die langste in die bestaan daarvan, het ongeveer R250 miljoen per dag aan verlore inkomste gekos.


MY WERK

 

Gebruik jou etensuur optimaal
Deur Inge Strydom

Ons almal ken daardie dae: Jou telefoon hou net nooit op met lui nie, die e-posse stroom in en jou dagboek is vol geskryf van al die afsprake en vergaderings. Tussen dit alles deur moet jy jou werk gedoen kry. Teen 14:00 tref dit jou dat jy nog nie eens middagete geëet het nie en jy moes nog daardie doktersafspraak maak. Jy besluit om eerder maar net aan te hou werk.

Kenners waarsku dat dit meer skade as goed doen om regdeur jou etensuur te werk. Kate Leslie, menslikehulpbronbestuurder van Johannesburg, dui aan dat mense wat gereeld hul etensuur benut om te ontspan of hul aandag op iets anders as werk te fokus, baie meer effektief is en meer gedoen kry as diegene wat nie so maak nie. Leslie meen dat 'n mens jou etensuur boonop kan aanwend om jou lewe makliker te maak deur dinge te doen waarby jy nie andersins sou uitkom nie. Dit sluit in:

  • Maak van die internet gebruik om rekeninge en spoedkaartjies te betaal of aanlyn inkopies te doen.
  • Indien jou tyd dit toelaat en jy nie te ver van 'n inkopiesentrum af werk nie, kan jy aan die vier mure van jou kantoor ontsnap deur byvoorbeeld 'n verjaardagpresent vir jou vriendin te gaan koop, jou rok by die droogskoonmaker te gaan haal of sommer net “vensterinkopies” te doen. Om bloot rond te loop en jou gedagtes van jou werk af te sonder, sal wondere vir jou gemoed en produktiwiteit doen.
  • Jacqueline Smith skryf in haar artikel 14 Things you should do in your lunch break everyday wat op www.forbes.com gepubliseer is, dat verskeie kenners dit eens is dat 'n mens jou etensuur nie by jou lessenaar moet deurbring nie. “Dit is ongesond vir jou liggaam en verstand om vir lang tydperke aaneen te bly sit,” verduidelik sy. Sy stel onder meer voor dat 'n mens die tyd gebruik om te eet, vars lug te kry, algemene take te verrig waarvoor jy nie altyd tyd kry nie, te netwerk of om iets te doen wat jou energie 'n hupstoot sal gee, soos om gimnasium toe te gaan of om om die blok te stap.

 

REGSVRAAG

 

Kleedkamergeriewe by die werk
Deur Johan Böning

Vraag:

Is daar enige bepaling dat werkgewers storte en kleedkamers aan werknemers moet voorsien?

Antwoord:

Die Wet op Beroepsgesondheid en Veiligheid (No. 85 van 1993) bevat sekere regulasies in hierdie verband en die verskaffing van kleedkamers en storte aan werknemers word spesifiek vervat in die regulasie oor fasiliteite.

Die wet bepaal dat indien werknemers 'n stort moet gebruik of van klere moet verwissel, die werkgewer 'n afsonderlike kleedkamer vir elke geslag moet verskaf.

Volgens die fasiliteitsregulasie [regulasie (4)(2)(a)] mag daar nie 'n deur of ander opening in die kleedkamer wees wat regstreeks na ’n ander vertrek of vertrekke lei waar die blootstelling aan gevaarlike stowwe gelyk aan of hoër as die veiligheidsvlak vir daardie stowwe is nie.

Deel (b) van die fasiliteitsregulasie verwys daarna dat die werkgewer voldoende sitplekke of .

Deel (c) bepaal dat geen materiaal, gereedskap of ander goedere wat nie deel van die kleedkamer vorm nie, in kleedkamers geberg mag word nie.

Deel (d) bepaal dat indien daar vensters is, ondeursigtige glas gebruik moet word.

Dele (e) en (f) verwys daarna dat, om privaatheid te verseker, elke ingang van elke kleedkamer afgeskort moet word en dat duidelik en sigbaar aangedui moet word watter geslag die betrokke kleedkamer gebruik.

Deel (g) verwys na die daarstelling van 'n fasiliteit vir werknemers om hul nat klere droog te maak as hul klere tydens hul werkdag nat word.

Ingevolge deel (h) moet verseker word dat elke kleedkamer die regte ventilasie (natuurlik of kunsmatig) het soos in die Nasionale Bouregulasies gestipuleer word.

Deel (i) bepaal dat werkgewers moet verseker dat werknemers aan wie kleedkamers verskaf moet word (soos hierbo genoem), nie op 'n ander plek mag verklee as in die kleedkamers nie.

Onderworpe aan die vereistes vir eetkamers, soos voorsien in regulasie 5, mag ’n werkgewer die kleedkamer ook beskikbaar stel vir gebruik as eetkamer, mits dit aan die volgende vereistes voldoen:
• Daar moet 'n afskorting van ten minste twee meter hoog wees tussen die kleedkamer en die plek waar maaltye geëet word; en
• daar mag geen regstreekse deurgang tussen die kleedkamer en die toiletgeriewe wees nie.

Indien werkgewers nie aan die regulasies vir geriewe voldoen nie, kan die werknemer dit aan die veiligheidsverteenwoordiger, veiligheidskomitee of werkgewer rapporteer. Indien die tekortkomings nie reggestel word nie, kan 'n klagte by die inspektoraat van die departement van arbeid gelê word.


EKONOMIESE NUUS

 

Kospryse: Januarie 2008 tot Desember 2013
Deur Paul Joubert

Kospryse in Suid-Afrika het in die algemeen van Desember 2012 tot Desember 2013 met slegs 3,5% gestyg. Hierdie stelling word waarskynlik deur die meeste lesers met groot ongeloof begroet. Die meeste verbruikers sal aanvoer dat kospryse met minstens 10% in die loop van 2013 gestyg het, en dat dieselfde ook oor kospryse in 2012, 2011 of enige jaar voor dit gesê kan word. In die afgelope vyf jaar het kospryse in Suid-Afrika egter nie teen 'n egalige tempo aanhou styg nie. Wat eerder gebeur het, is dat tydperke van skerp stygings wat met tydperke van stabiliteit afgewissel word, voorgekom het.

Tydperke van stygings gevolg deur stabiliteit kom natuurlik steeds op 'n netto styging neer. Kospryse het in geen tydperk gedurende die afgelope vyf jaar noemenswaardig gedaal nie. Indien die amptelike kosmandjie van Statistieke Suid-Afrika (Stats SA) – wat geen buitengewone luukshede insluit nie – gebruik word, was die kumulatiewe styging in kospryse vanaf Januarie 2008 tot Desember 2013 byna 47% gewees, As iemand met ander woorde aan die begin van 2008 'n winkelmandjie vol kosprodukte vir R100 kon koop, sal dieselfde mandjie nou sowat R147 kos.

Indien die amptelike mandjie van Stats SA nie gebruik word nie, maar eerder net die eenvoudige gemiddelde van die prysstygings van al die beskikbare kosprodukte, was die toename sowat 51% gewees wat nie veel meer as Stats SA se 47% is nie. Indien enigiets wat moontlik as 'n luuksheid geag kan word, uitgehaal word en die eenvoudige gemiddelde dán bereken word, het kospryse steeds met sowat 51% gestyg.

Alle kosprodukte se pryse styg natuurlik nie teen dieselfde tempo nie. Iemand wat baie van aartappelskyfies hou, moes byvoorbeeld in Desember 2013 sowat 62% meer daarvoor opdok as in Januarie 2008, aangesien die gemiddelde prys van 'n 125 g pak skyfies van ongeveer R6,71 tot R10,85 toegeneem het. Iemand wat verkies om eerder vars aartappels te eet, was beter daaraan toe aangesien die prys met slegs 22% oor die vyf jaar toegeneem het, van ongeveer R8,12 tot R9,94 per kilogram.

Die tydperke van skerp stygings en daaropvolgende stabiliteit in kospryse kan op die meegaande grafiek gesien word. Deur die loop van 2008 het kospryse met byna 16% gestyg, maar in die daaropvolgende twee jaar het dit byna stabiel gebly, en slegs met 2,3% toegeneem. In 2011 het pryse egter weer skerp gestyg, met 'n toename van byna 13% gedurende die jaar. 'n Kort periode van stabiliteit het tot Augustus 2012 gevolg, waarna pryse binne slegs vyf maande met 7% gestyg het. Van Januarie tot Augustus 2013 was daar weer stabiliteit, maar in die laaste vier maande van 2013 het pryse weer met sowat 2,4% gestyg.

Op die oomblik is die groot vraag of die skerp styging in kospryse sedert Augustus 2013 deur die loop van 2014 voortgesit gaan word en of daar eers weer 'n tydperk van stabiliteit sal wees. Onlangse skerp stygings in Suid-Afrikaanse mieliepryse voorspel egter niks goeds nie aangesien dit 'n belangrike inset in talle kosprodukte is. Beide 2008 en 2011 se skerp stygings in algemene kospryse is deur stygings in grootmaat-mieliepryse voorafgegaan.

 

INTERNASIONALE NUUS

Deur Inge Strydom

Australiese motorvervaardigingsbedryf op sy knieë

Toyota het Maandag gesê dat hy teen die einde van 2017 gaan ophou motors vervaardig in Australië, wat ’n nekslag vir motorvervaardiging in dié land gaan wees. Australiese motormaatskappye sê hoë produksiekoste en taai mededinging het tot gevolg gehad dat die bedryf finansieel nie meer lewensvatbaar is nie. Toyota se aankondiging beteken die verlies van ongeveer 2 500 poste en kom net twee maande nadat General Motors Co. aangekondig het dat hy produksie in Australië teen 2017 gaan beëindig. Ford Motor Co. het in Mei aangekondig dat hy in 2016 produksie in dié land gaan beëindig. Toyota Motor Corp. het in ’n verklaring gesê dat sy besluit op ’n kombinasie van faktore gebaseer is, waaronder die sterk Australiese dollar, die hoë vervaardigingskoste en mededinging.

Franse joernaliste woedend oor planne met Liberation-nuusblad

Joernaliste by Frankryk se derdegrootste nasionale nuusblad, Liberation, reageer woedend op ’n verrassende plan van die eienaars om die sukkelende dagblad om te keer deur dit in ’n “sosiale netwerk” te omskep. Die eienaars wil ook die multimiljoen-euro-gebou wat tans in sentraal-Parys deur die nuuskantoor gehuur word, omskep in ’n voldag kulturele sentrum met ’n kafee, TV-ateljee en sake-area om beginbesighede te help. Verontwaardigde Liberation-joernaliste het hul teenkanting teen die plan gelug op die voorblad van die naweekuitgawe, met die voorbladhoofopskrif “Ons is ’n nuusblad, nie ’n restourant nie, nie ’n sosiale netwerk nie, nie ’n kulturele ruimte nie, nie ’n TV-ateljee nie, nie 'n kroeg nie, nie ’n broeikas vir beginnerbesighede nie.” Die personeel het Sondag gestem teen ’n herhaling van ’n 24-uur-staking wat hulle Donderdag gehou het toe hulle uitgevind het wat die eienaars in gedagte het. In plaas daarvan het hulle gesweer om die “onwettige” projek in hul koerant self te beveg.

Nuwe Japannese babadoek met draadlose sensor bekendgestel

’n Weggooibare organiese sensor wat in ’n babadoek vasgesit kan word en ’n versorger dradeloos kan laat weet dat dit omgeruil moet word, is Maandag deur Japannese navorsers bekendgestel. Die buigsame geïntegreerde kring wat op ’n enkele plastiekfilm gedruk is, stuur inligting, ontvang sy krag dradeloos en kan potensieel vir ’n paar jen (1 jen kos ongeveer 11 Suid-Afrikaanse sent) vervaardig word, het die ontwikkelaars aan AFP gesê. Die stelsel, wat gebruik maak van organiese materiaal en met inkstraaltegnologie gedruk kan word, is ontwikkel deur ’n span onder leiding van proff. Takayasu Sakurai en Takao Someya van die Universiteit van Tokio. Benewens aanwending in babadoeke kan dit ook gebruik word in doeke vir volwassenes, wat topverkopers is in ’n vinnig ouerwordende Japan. Gewone doeke verander van kleur om aan te dui dat hulle nat is, maar ’n versorger moet nog steeds die draer se klere uittrek om dit te kan sien. “Met elektroniese sensors kan jy dit vasstel deur bloot naby aan die draer te kom – sonder om hom of haar uit te trek,” sê Someya.

Bron: Sapa

 

HET JY GEWEET?

 

In 1867 word die eerste diamant in Hopetown ontdek en deur dr. Guy Atherstone (1814-1898) in Grahamstad geïdentifiseer.

Bron: Pharos se Feitegids. 'n Kernensiklopedie.

 

SPREEKWOORD

 

As jy vir die galg gebore is, sal jy nie deur 'n koeël sterf nie. 'n Mens kan niks doen aan wat vir jou bestem is nie.

Bron: Pharos se spreekwoordeboek en waar hulle vandaan kom.

 

AANHALING

 

...die digter is die man wat in die donker waters van die chaos duik om skoon en blink dinge daaruit te haal.

- Marthinus Versfeld

 

RIDDER EN RAMPOKKER

Deur Inge Strydom

Ridder

Vandeesweek se ridders is die Nederlandse en Sweedse poskodeloterye wat onlangs R232,2 miljoen aan die Vredesparkstigting vir die bekamping van renosterstropery geskenk het. Edna Molewa, minister van waterwese en omgewingsake, het verlede Woensdag die oorsese lande vir hul vrygewigheid bedank. Die skenking, wat die grootste enkele skenking deur die privaat sektor vir die bekamping van renosterstropery is, sal deur die Vredesparkstigting, die regering, SANParke en Ezemvelo KZN aangewend word. Beeld berig dat Nederland R217 mil­joen en Swede R15,2 miljoen geskenk het.
 
Rampokker

Die departement van basiese onderwys is vandeesweek se rampokker aangesien hulle telkens die ondersteuningspersoneel in die koshuise van skole vir gestremde kinders verminder. Melanie Buys, die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) se bestuurder in Gauteng, dui aan dat die skole se beheerliggame nie kan bekostig om die koste te dra om die ondersteuningspersoneel in diens te hou nie. Daar is boonop nie vroegtydig aan hierdie skole kennis gegee dat hulle voortaan met minder personeel sal moet regkom nie. Sommige van die skole sal vanaf 1 April met tot 18 personeellede minder moet klaarkom. Hoewel Fedsas versoek het dat die departement die situasie moet oplos, het hulle gereageer deur aan te voer dat die personeel by die skole in verhouding tot die getal kinders in die skool aangepas word. Intussen sal die skole voortaan noodgedwonge kinders moet wegwys.

 

ATTERBURY TEATER

 

Hoogtepunte by die Atterbury Teater

Vertoning/ geleentheid

Datum

Tyd

Prys

Valentynsdag met Koos van der Merwe: "Koos, Cohen, Dylan & Liefde" (met 'n glas vonkelwyn)

14 Februarie

20:00

R160 / R180

Tobie Cronjé: "Ballade van 'n Banggat"

15 Februarie

20:00

R120

Stef Bos en Koos Kombuis: “BosKombuis”

21-22 Februarie

20:00

R150 / R170

Kaartjies is by enige Computicket-kantoor beskikbaar of skakel 083 915 8000 om 'n bespreking te doen. Atterbury Teater is geleë op die hoek van Lynnwoodweg en Daventrystraat in Lynnwood. Skakel die teater by 012 471 1700 of stuur 'n e-pos na info@atterburytheatre.co.za.

 

Sluit só aan by die Solidariteit Atletiekklub

Word vandag nog deel van die Solidariteit Atletiekklub. Skakel klubvoorsitter Hendrik van der Westhuizen by 082 851 8451 vir meer inligting of stuur 'n e-pos na atletiek@solidariteit.co.za.

[CONTENT]