Soldeer Nr. 546 - 4/07/2013 |
---|
H/v D F Malanstraat & Eendrachtstraat Kloofsig |
Posbus 11760 |
Telefoonnommers: |
Faksnommer: |
---|
HOOFSTORIE | ||||||||||||||||
Solidariteit stel spesialiseenheid bekend teen staat se mislukte regstellendeaksiemodel |
||||||||||||||||
Deur Nico Strydom Die vakbond Solidariteit het vandeesweek sy Sentrum vir Billike Arbeidspraktyke bekendgestel in reaksie op die staat se huidige regstellendeaksiemodel wat misluk het. Die sentrum het tydens sy bekendstelling ʼn vyfpuntplan aangekondig wat onder meer behels om in die volgende jaar die ideologie van rasseverteenwoordiging in die konstitusionele hof te toets. Dirk Groenewald, hoof van Solidariteit se Sentrum vir Billike Arbeidspraktyke, sê die vyfpuntplan is bekend gemaak na afloop van ʼn tweedaagse bosberaad in Centurion waartydens top- senior regslui en akademici die probleme van die staat se huidige regstellendeaksiemodel onder die loep geneem het en idees en oplossings vir ʼn alternatiewe model voorgehou het. “Deelnemers aan die bosberaad is dit eens dat regstellende aksie in sy huidige vorm beëindig moet word.” Die sentrum se vyfpuntplan behels dat sekere kernbeginsels deur middel van litigasie getoets moet word. Dit sluit in:
Groenewald sê Solidariteit het die sentrum gestig met die doel om te verseker dat regstellende aksie ooreenkomstig met die grondwetlike doel en oogmerk daarvan uitgeoefen word.
|
||||||||||||||||
NUUS | ||||||||||||||||
Ooreenkoms oor mynbou ʼn stap in die regte rigting – Solidariteit | ||||||||||||||||
Deur Nico Strydom Die vakbond Solidariteit het vandeesweek die ondertekening van ’n konsepooreenkoms om arbeidsverhoudinge in die mynbedryf te stabiliseer, as ʼn stap in die regte rigting beskryf ondanks Amcu se weiering om die ooreenkoms te onderteken. Solidariteit was een van die belanghebbendes in die mynboubedryf wat vandeesweek by die Uniegebou in Pretoria die dokument onderteken het. Amcu wil verskeie voorwaardes aan die ooreenkoms heg en verder daaroor besin voor hulle dit onderteken. Gideon du Plessis, hoofsekretaris van Solidariteit, sê belanghebbendes in die mynboubedryf verbind hul deur die ondertekening van die ooreenkoms tot daadwerklike ingryping in die sosio-ekonomiese omstandighede van myngemeenskappe, die daarstelling van ʼn stabiele arbeidsverhoudinge-omgewing en die herstel van die oppergesag van die reg. “Die erkenning deur alle partye dat die meerderheidsbeginsel in arbeidsverhoudinge hersien moet word en dat die grondwetlike reg van vakbondlede se vryheid van assosiasie herstel moet word, is ʼn beduiende deurbraak in die ooreenkoms. Hierdie gebeurtenis is ʼn waterskeidingsoomblik wat sal aanleiding gee tot die demokratisering van die nuwe arbeidsverhoudingebedeling, wat wedywering tussen vakbonde sal neutraliseer.” Du Plessis sê ingevolge die ooreenkoms verbind die regering hulle onder meer tot die verbetering van hul rol om wetlike en regulatoriese voldoening tydens stakings en protesaksies af te dwing om sodoende die beskerming van lewe en eiendom te verseker en die regte van Suid-Afrikaanse burgers te bevorder. “Werkgewers, daarenteen, verbind hulle tot kragdadige optrede teen diegene wat buite die riglyne van die wet en maatskappybeleid optree. Dit sal ook aan werknemers beskerming teen enige vorm van geweld en intimidasie deur medewerkers bied. Daarby verbind vakbonde hulle daartoe om hul volle samewerking te gee ten einde konflik in die werkplek te bestuur en die inhoud van die ooreenkoms aan hul lede te kommunikeer en te verduidelik.” Volgens Du Plessis is die sleutel tot die sukses van die ooreenkoms die inkoop en verbintenis van alle betrokke vakbondlede tot die meganismes wat ingestel word om arbeidsvrede te verseker. “Enige party wat ná die ondertekening van die ooreenkoms nie voldoen aan die verpligtinge wat die ooreenkoms aan hulle opdra nie, sal deur die betrokke belanghebbendes tot verantwoording geroep moet word. Die ooreenkoms is nie ʼn waarborg dat die onstabiele arbeidsverhoudinge in die mynbedryf onmiddellik tot ʼn einde sal kom nie, maar bied ʼn duidelike riglyn en raamwerk om arbeidsvrede te bewerkstellig.”
|
||||||||||||||||
Regstellende aksie in die staatsdiens moet afgeskaf word – Solidariteit | ||||||||||||||||
Deur Nico Strydom Die vakbond Solidariteit het vandeesweek gesê regstellende aksie in die staatsdiens moet afgeskaf word. Dit kom nadat Lindiwe Sisulu, minister van staatsdiens en administrasie, in reaksie op ’n parlementêre vraag gesê het dat die staatsdiens in sy geheel getransformeer is en die land se demografiese samestelling weerspieël. Dirk Groenewald, hoof van Solidariteit se Sentrum vir Billike Arbeidspraktyke, sê dit beteken dat die grondwetlike doelwit van “breë” verteenwoordiging in die staatsdiens ingevolge artikel 195(1)(i) sowel as die doelwit van “billike” verteenwoordiging, soos vervat in artikel 2(b) van die Wet op Gelyke Indiensneming, behaal is. “Suid Afrika, as party tot die internasionale konvensie oor die beëindiging van alle vorme van rassediskriminasie, is nou verplig om regstellende aksie in die staatsdiens af te skaf. Artikel 2(2) van die konvensie se bepalings oor regstellende optrede stel dit duidelik dat spesiale maatreëls ingestel kan word ten einde te verseker dat sekere rasse- of etniese groepe voldoende bevorder word en dat dit nie as rassediskriminasie geag sal word nie. Dié maatreëls mag egter nie tot die handhawing van afsonderlike regte vir verskillende rassegroepe lei nie en mag nie voortgesit word nadat die oogmerke waarvoor dit geneem is, bereik is nie.” Groenewald sê die doelwit van “breë” verteenwoordiging is bereik en indien regstellende aksie in die staatsdiens nie afgeskaf word nie, sal dit die handhawing van afsonderlike regte vir verskillende rasgroepe tot gevolg hê. “Die meeste van die staatsdepartemente is reeds verteenwoordigend, indien nie oorverteenwoordigend nie, maar afsonderlike regte geld vir verskillende rassegroepe weens die staat se absolute beheptheid met die nasionale rassedemografie. Solidariteit se regstellendeaksiesaak teen die departement van korrektiewe dienste is ʼn goeie voorbeeld hiervan.” Volgens Groenewald het die regering ’n verpligting ingevolge die Grondwet, die Wet op Gelyke Indiensneming en die internasionale konvensie oor die beëindiging van alle vorme van rassediskriminasie om regstellende aksie in die staatsdiens af te skaf. Solidariteit se Sentrum vir Billike Arbeidspraktyke hou Dinsdag en Woensdag ’n bosberaad waartydens die huidige regstellendeaksiemodel van die regering, die alternatiewe daartoe en die moontlike regsroetes wat gevolg kan word om toe te sien dat die relevante grondwetlike beperkinge toegepas word, bespreek gaan word.
|
||||||||||||||||
Transnet gaan meer aan uitbreidingsprogram bestee | ||||||||||||||||
Deur Cilleste van der Walt Ondanks die ekonomiese insinking is Transnet van plan om sy enorme infrastrutuur-uitbreidingsprogram met nog 10% tot R330 miljard te vergroot, en dit sal nou oor sewe jaar pleks van ses strek. Transnet beoog om in die huidige boekjaar nog R27,3 miljard aan sy kapitaalprogram te bestee. In die jaar tot einde Maart – die eerste jaar van die program – is R27,5 miljard bestee, het Brian Molefe, uitvoerende hoof, gesê tydens die uitreiking van die vervoerreus se resultate vir die jaar. Transnet finansier sy eie balansstaat sonder die hulp van die staat en in dié boekjaar het sy totale skuld met 25,7% tot R73 miljard gestyg. Hy sal in die volgende twee jaar nog R30 miljard moet leen. Lenings het die skuldverhouding in die jaar van 41,9% tot 44,6% laat styg en dit gaan selfs toeneem, maar sal onder 50% bly, het Molefe gesê. Hy oorweeg dit om in China te leen. “Ons het al tevore gesê dat ons lenings in markte sal aangaan wat toeganklik is wanneer marktoestande verander. China is ’n mark wat ons kan ontgin. “Ons dink nou selfs daaraan om ’n internasionale effek uit te reik wat in rand gedenomineer word – die eerste keer dat so iets gedoen sal word. “Daar is ’n kans dat dit sal misluk, maar dink net hoe goed dit sal wees as ons daarin slaag,” het hy gesê.
|
||||||||||||||||
Beweging-nuus | ||||||||||||||||
Akademia Akademia Sakeplankompetisie Het jy ʼn idee wat jy graag in ʼn besigheid wil omskep, maar die uitdaging lyk net vir jou te groot? Het jy dalk reeds ʼn besigheid en jy wil hom graag uitbrei, maar die kennis van hoe om dit te doen en hoe om finansiering daarvoor te kry, is vir jou ʼn uitdaging? Dan bied die Akademia Sakeplankompetisie vir jou ʼn antwoord. Skryf jou nuwe sake-idee of idee vir die uitbreiding van jou bestaande sakeonderneming in vir hierdie kompetisie, leer hoe om dit te omskryf in ʼn goed gestruktureerde sakeplan en staan boonop die kans om ʼn prys ter waarde van R135 000 te wen! Vir meer inligting, klik op die banier hierbo, e-pos ons by sakeplan@akademia.ac.za of SMS die woord “sakeplan”, jou naam en van na 34933. Akademia – waar werkendes in Afrikaans studeer!
AfriForum AfriForum gee Weerwet wind van voor “Dit lyk asof die regering nou die weer ook wil nasionaliseer,” het Julius Kleynhans, hoof van omgewingsake by AfriForum gesê. Ingevolge artikel 30(A) van die Wysigingswetsontwerp is dit ʼn oortreding om ʼn waarskuwing oor uiterste weersomstandighede of lugbesoedeling sonder die nodige skriftelike toestemming van die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) uit te reik. ʼn Vonnis van tot R10 miljoen of 10 jaar gevangenisstraf kan vir so ʼn oortreding opgelê word. “Indien dié wetgewing toegepas word, kan dit ernstige gevolge inhou. Wanneer daar na kumulatiewe omgewingsrampe gekyk word, hetsy dit ʼn tornado of ʼn gifgaspyp is wat bars, is die tydsberekening van ontruiming noodsaaklik om die impak te beperk en te bestuur en sodoende ʼn ramp te voorkom.” AfriForum is van mening dat die meeste mense in 2012 in Hoedspruit se oorstromings gered is deur die gemeenskap se kommunikasie. “Die meeste van ons land se rampe hou met die weer verband. Dit sal ’n tragedie wees as burgers die reg ontsê word om hul gemeenskappe te waarsku.” “Dit is egter belangrik dat die publiek weerwaarskuwings van ’n betroubare bron kry en dat valse of misleidende waarskuwings nie gemaak word wat tot paniek of beserings kan lei nie. Die wet moet aangepas word sodat daar slegs opgetree kan word teen diegene wat misleidende waarskuwings maak,” sê Kleynhans. “Omgewingsmoniteringsprogramme en -bestuurstelsels sal nie doeltreffend wees indien hierdie wetsontwerp goedgekeur word nie. Wat as die Weerdienste nie hul telefoon antwoord nie of jy nie ʼn faks ontvang nie?” “Die gevolg van hierdie klousule is dat die SAWD nie aanspreeklik gehou kan word as dit nie sy werk behoorlik doen nie. Gevolglik kan diegene wat verantwoordelik is vir ʼn mensgemaakte omgewingsramp nie daarvoor aanspreeklik gehou word nie. Dit geld ook vir gevalle waar verliese weens die Weerdiens se versuim sou plaasvind,” volgens Kleynhans. AfriForum het verlede jaar kommentaar oor die voorgestelde Wysigingswetsontwerp van die SAWD aan die portefeuljekomitee vir water- en omgewingsake voorgelê. Die burgerregte-organisasie is gekant teen die wetsontwerp, omdat dit ʼn hoë risiko vir die samelewing inhou en landsburgers se vryheid van spraak sal inperk. Sluit aan by AfriForum om hierdie en ander kwessies in ons gemeenskappe aan te pak. SMS jou dorp se naam na 31336. 50c/SMS.
Helpende Hand Help Helpende Hand om kleuters kos en lessies te gee Digby 6 700 kleuters se lewens word in 2013 op die een of ander manier deur Helpende Hand se Kosblikkieprojek verbeter. Die projek het in 2009 begin en het elke jaar gegroei en verbeter. Dit het gegroei van partytjies by ʼn paar kleuterskole waar die kinders met ʼn kosblik vol lekkergoed bederf is, tot ʼn holistiese projek waardeur kleuters, versorgers en ouers se lewens opgehef word. Die projek behels ʼn voedingskema wat in samewerking met POWERfoods bedryf word. Vanjaar neem 66 kleuterskole met ʼn totaal van 5 146 kleuters aan die voedingskema deel. Hoewel kleuterskole nie van die voedselhulp hoef gebruik te maak nie omdat hulle reeds ander voedselskenkings ontvang, het al die kleuterskole in die Wes-Kaap, Gauteng-Noord, Oos-Kaap, Suid-Kaap en Mpumalanga wel gevra vir voedselhulp. “Die eerste bestelling by POWERfoods is vir 5 250 kg se kos,” sê Lindie Strydom, die projekorganiseerder. “Dit is ongeveer 1 kg per kind, wat dan verdeel kan word in 20 etes van 50 g elk per kind. Dit werk uit op ongeveer R1,99 per kind. “Om vir 5 146 kleuters vir ʼn dag kos te gee teen R2 elk per dag beloop R10 000 per dag.” Ses rentevrye studielenings is hierdie jaar deel van die Kosblikkieprojek se belegging in kleuters en hul versorgers se lewens. “Die versorgers is baiekeer self behoeftig en tog so gretig om meer te leer en persoonlik te ontwikkel,” sê Strydom. “Ek glo dat om mense in die vervulling van hulle roeping te ondersteun, beteken soveel meer as net die insameling van kennis of om ʼn vaardigheid te bekom. Dit is ʼn innerlike vervulling en lewensvreugde wat saam met die leer van taal, wiskunde en hoe om ʼn potlood of skêr vas te hou, op kleuters geprojekteer word. Die impak wat ʼn onderwyser op ʼn kind se lewe het, moet nooit onderskat word nie.” Die Kosblikkieprojek sal vanjaar 6 227 kleuters se lewens raak, wat dit ʼn groeisyfer van 107% vergeleke met 2012 gee.
Kraal-Uitgewers Boek vier Vrouemonument se 100-jarige bestaan Hierdie treffende boek bied die leser ʼn intense blik op die smartryke lyding van vroue en kinders in die Britse konsentrasiekampe gedurende die Anglo-Boereoorlog. Met meer as 200 foto’s, waarvan nagenoeg 80% nog nooit voorheen gepubliseer is nie, is Onthou! ʼn uitsonderlike versamelstuk. Die boekbestaan uit drie prominente dele. In die proloog word die ontstaan van die Britte se verskroeideaardebeleid, wat, onder meer, die oprigting van konsentrasiekampe ingesluit het, sowel as die rol van die Pro-Boere-beweging in Brittanje ondersoek. Dit word opgevolg deur 20 hoofstukke waarin, onder meer, die geannoteerde verhale van meer as 30 vroue wat self die kampe beleef het, vertel word. Die derde deel van die boek bevat ʼn insiggewende geskiedenis van die Nasionale Vrouemonument in Bloemfontein wat vanjaar reeds 100 jaar oud is. Die monument ter herinnering aan die nagenoeg 27 000 Boere-vroue en -kinders wat in die konsentrasiekampe oorlede is, is in Desember 1913 onthul. Plaas jou bestelling só:
|
||||||||||||||||
RUBRIEKE | ||||||||||||||||
BEDRYFSBROKKIES |
||||||||||||||||
Mynbou by arbeidsverhoudinge-kruispad Die ironie is dat die onrus in die sektor nie die gevolg van konflik tussen werkgewers en werknemers is nie, maar hoofsaaklik die gevolg van wedywering en spanning tussen vakbonde en binne vakbondfederasies is. Du Plessis sê hierdie jaar sal bepaal of arbeidsverhoudinge die “hoofpad” of die “grondpad” in die toekoms neem. Hy meen dat ten einde eersgenoemde te bereik, vakbonde na “brood-en-botter-kwessies” moet terugkeer, maar tans word daar verwag dat sosio-ekonomiese, gemeenskaps-, dienslewerings- en politieke probleme alles rondom die onderhandelingstafel opgelos behoort te word. Om te verseker dat arbeidsverhoudinge die hoofpad neem, word werkplek-spesifieke ooreenkomste benodig. In hierdie ooreenkomste moet werkgewers hulself tot billike arbeidspraktyke, oop kommunikasie, spoedige hantering van griewe, erkenning van vryheid van assosiasie, gereelde verlof vir trekarbeiders en beskerming van werknemers gedurende arbeidsonrus verbind. Wat werknemers betref, moet hulle hulself tot die aanvaarding van ʼn dissiplinêre kode, wat in die besonder geweld, intimidasie en deelname aan onwettige stakings omvat, verbind.
|
||||||||||||||||
MY WERK |
||||||||||||||||
Wanneer moet jy ry en wanneer moet jy bly? Ons almal voel soms oorweldig deur ons werkstres en wanneer jy en jou bestuurder of kollegas boonop met mekaar haaks is, kry jy sommer lus om die hasepad te kies. Sommige werknemers mag dalk ook meen hul loopbaanvooruitsigte is nie waffers nie en daarom oorweeg hulle ander loopbaanmoontlikhede. Wanneer is dit wel ʼn goeie idee om jou huidige werk te verlaat en wanneer nie? Inge Strydom het gaan uitvind. Volgens Dan Schawbel, loopbaankenner, speel werksgeleenthede en werkloosheid ʼn groot rol wanneer mense dit oorweeg of hulle in hul huidige pos moet aanbly en of hulle groener weivelde moet gaan soek. Volgens Statistiek Suid-Afrika se kwartaallikse opname van die arbeidsmag het die hoeveelheid ontmoedigde werksoekers tussen die vierde kwartaal van 2012 en die eerste kwartaal van 2013 van 73 000 tot 2,3 miljoen toegeneem. Schawbel noem die volgende redes waarom ʼn mens jou werk kan/moet verlaat:
Voorts identifiseer hy die volgende redes waarom jy by jou werk moet/kan aanbly:
|
||||||||||||||||
REGSVRAAG |
||||||||||||||||
Vergoeding vir mediese uitgawes wat uit beroepsbeserings of -siektes spruit Vraag Antwoord Die wet bepaal ook dat die mediese praktisyn binne 14 dae na die eerste konsultasie die eerste mediese verslag moet uitreik en vorderingsverslae periodiek daarna. Die werknemer of sy/haar afhanklikes is geregtig op afskrifte van hierdie verslae indien so versoek. Wat baie belangrik is, is dat die wet in artikel 74(4) bepaal dat geen vergoeding betaalbaar is vir die voltooiing en indiening van die verslae deur die mediese praktisyn nie. Indien die kommissaris aanspreeklikheid aanvaar het vir die eis, mag die mediese koste nie van die werknemer verhaal word nie (artikel 76(3)). Indien ’n diensverskaffer van die beseerde werknemer verwag om persoonlik aanspreeklikheid te neem vir die betaling van mediese rekeninge waarvoor die Vergoedingskommissaris verantwoordelik is, moet die werknemer daardie diensverskaffer op die bepalings van die wet wys. Die geldigheid van sulke kontrakte kan bevraagteken word.
|
||||||||||||||||
EKONOMIESE NUUS | ||||||||||||||||
Druk op goud en platinum Die jongste insinking in pryse plaas groot druk op die edelmetaalmyners in Suid-Afrika. Beide goud- en platinummyners word in ʼn knyptang van stygende insetkoste en dalende pryse vir hul produkte vasgeklem. Oor die kort termyn lyk die situasie die ergste vir goud, waarvan die prys in randterme vanaf Januarie tot die nuutste pryse in Julie al sowat 15,5% gedaal het. In teenstelling hiermee het die prys van platinum in die eerste ses maande van die jaar met slegs sowat 6% gedaal. Indien die twee metale se randpryse egter oor ʼn langer termyn beskou word, kan gesien word dat goud eintlik heelwat beter as platinum gevaar het. Vanaf ʼn laagtepunt van sowat R6 400 per ons in Augustus 2008, het die prys van ʼn ons goud, selfs met die meer as 15%-insinking van vanjaar, steeds oor die afgelope vyf jaar met meer as 93% geklim. In die geval van platinum was die mees onlangse laagtepunt in Desember 2008 toe een ons platinum R8 370 gekos het. Sedertdien het dit met ongeveer 62% gestyg – beduidend minder as die styging wat die goudprys beleef het. Gegewe dieselfde druk vanaf insetkoste-kant (wat nie altyd die geval is nie), en ʼn gelyke beginpunt, is platinummaatskappye waarskynlik steeds in ʼn slegter posisie as goudmaatskappye, ten spyte daarvan dat vanjaar se prystendense vir platinum beter lyk as dié vir goud.
|
||||||||||||||||
INTERNASIONALE NUUS | ||||||||||||||||
Deur Inge Strydom Dodelike Arizona-brand eis 19 brandbestryders Minstens 19 brandbestryders is dood terwyl hulle ’n wegholbosbrand in Arizona probeer blus het. Dit word as die dodelikste voorval van die aard in 80 jaar in die VSA beskou. Die brandbestryders is laat Sondagmiddag dood toe hulle gespook het om die Yarnell Hill-bosbrand noord van Phoenix in bedwang te bring. Die brand het Vrydag uitgebreek en volgens plaaslike bosboubeamptes het dit reeds 405 hektaar vernietig. Dit is deur sterk wind aangehelp en het vinnig deur die droë, beboste gebied versprei. Honderde inwoners van Yarnell en Peeples Valley het Maandag die gebied ontruim terwyl die brand verder deur die area gewoed het. Nuwe wetgewing om buitelandse toeriste in China te beskerm Die Chinese regering gaan nuwe wetgewing instel in ’n poging om groter beskerming van die belange en regte van plaaslike en buitelandse toeriste in die land te verseker. Die nuwe Toerismewet sal op 1 Oktober in werking tree en wetgewers hoop dat dit kwessies soos toeristelokvalle, gewetenlose toeroperateurs, onbeheersde prysstygings en gedwonge aankope van goedere waarmee die bedryf te kampe het, sal aanspreek. Die nuwe wetgewing reguleer ook die kaartjiepryse vir toegang tot toeriste-aantreklikhede en verbied onbillike mededinging tussen diensverskaffers. Oortreding van die nuwe wetgewing kan boetes tot gevolg hê. Die regering het ook aangekondig dat hy beplan om in die land se toeriste-infrastruktuur te belê en finansiële steun aan die opleiding van werkers in die toeristebedryf te verleen. Geen verdere besonderhede daaroor is egter verstrek nie. Australia het moontlik die eerste malaria-entstof ontdek Australiese navorsers het Dinsdag bekend gemaak dat hulle op die punt staan om ‘n deurbraak in ’n potensiële entstof teen malaria te maak. ’n Studie toon dat hul behandeling muise teen verskeie stamme van die siekte beskerm het. Professor Michael Good van die Griffith-universiteit in Queensland sê dat die entstof tot gevolg het dat bestaande witbloedselle wat natuurlik voorkom, of T-selle, die potensieel dodelike malariaparasiet wat in rooibloedselle leef, aanval. Volgens die studie het ’n enkele inenting omvattende immuniteit teen verskillende malariaparasietspesies tot gevolg gehad. Good sê die span se navorsing het daarop gefokus om die witbloedselle aan te spoor om die parasiet aan te val, ongeag watter stam van die malariaparasiet dit was. “Wanneer die T-selle (witbloedselle) aangespoor word om malaria te vernietig, kan dit proteïene oral in die parasiet herken, selfs interne proteïene in die parasiet,” het hy aan ABC gesê.
|
||||||||||||||||
HET JY GEWEET? | ||||||||||||||||
|
||||||||||||||||
SPREEKWOORD | ||||||||||||||||
|
||||||||||||||||
AANHALING | ||||||||||||||||
|
||||||||||||||||
RIDDER EN RAMPOKKER | ||||||||||||||||
Deur Inge Strydom Ridder AfriForum, Solidariteit se burgerregte organisasie, is vandeesweek se ridder. Dit volg nadat dié organisasie verlede week ’n deurbraak behaal het in sy regstryd teen die Zimbabwiese regering oor dié se grondhervormingsbeleid. Die konstitusionele hof het Zimbabwe se appèl teen Suid-Afrikaanse hofbevele, wat die geregtelike verkoping van eiendom van die Zimbabwiese regering gelas het om boere ingevolge bevele van die tribunaal van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) te vergoed, verwerp. Die konstitusionele hof het bevind dat Suid-Afrika, net soos in die geval van Zimbabwe, verplig is om bevele van die tribunaal uit te voer. Die hof het daarvan kennis geneem dat Zimbabwiese boere kragtens ’n “landelike hervormingsprogram” hul grond sonder kompensasie verloor het. Die konstitusionele hof het ook bevind dat die tribunaal se jurisdiksie op die oppergesag van die reg berus en dat die verontregte boere regresreg op die tribunaal se beskerming het. Rampokker Generaal-majoor Simon Mapyane, die Suid-Afrikaanse Polisiediens se spesiale eenheid, die Valke, se hoof in Mpumalanga, is vandeesweek se rampokker. Die staat gaan binnekort sy korrupsiesaak voortsit teen Mapyane, wat vals reiseise ten bedrae van R7 000 ingedien het. Sy verhoor sal op 25 September vanjaar voortgaan. Intussen word die polisie gekritiseer omdat daar nie onmiddellike stappe teen Mapyane geneem is ná sy inhegtenisname vroeër in Mei nie. Brigadier Phuti Setati, polisiewoordvoerder, het egter gesê dat hulle bewus is van sy inhegtenisneming en dat die polisie nog oorweging daaraan skenk of ’n formele departementele verhoor geregverdig is.
|
||||||||||||||||
ATTERBURY TEATER | ||||||||||||||||
Hoogtepunte by die Atterbury Teater
Kaartjies is by enige Computicket-kantoor beskikbaar of skakel 083 915 8000 om ʼn bespreking te doen. Atterbury Teater is geleë op die hoek van Lynnwoodweg en Daventrystraat in Lynnwood. Skakel die teater by 012 471 1700 of stuur ʼn e-pos na info@atterburytheatre.co.za.
|
||||||||||||||||
Sluit só aan by die Solidariteit Atletiekklub Word vandag nog deel van die Solidariteit Atletiekklub. Skakel klubvoorsitter Hendrik van der Westhuizen by 082 851 8451 vir meer inligting of stuur ʼn e-pos na atletiek@solidariteit.co.za. |
[CONTENT]