Soldeer Nr. 462 |
---|
H/v D F Malanstraat & Eendrachtstraat Kloofsig |
Posbus 11760 |
Telefoonnommers: |
Faksnommer: |
---|
HOOFSTORIE |
Aurora Empowerment Systems finaal gelikwideer |
Deur Moira-Marie Kloppers Aurora Empowerment Systems is Dinsdag finaal gelikwideer nadat die Noord-Gautengse hooggeregshof vanoggend ʼn likwidasie-aansoek van R9 miljoen deur Copper Eagle, wat as kontrakteurs vir die maatskappy gewerk het, bekragtig het. Intussen sal die likwidateurs van die gelikwideerde Pamodzi Gold-myne waarskynlik binnekort ʼn eis van tot R1,7 miljard teen die vier direkteure van Aurora Empowerment Systems, Khulubuse Zuma (broerskind van president Jacob Zuma), Zondwa Mandela (Nelson Mandela se kleinseun), Michael Hulley (president Zuma se prokureur) en die kommersiële direkteur, Thulani Ngubani, indien vir die skade wat onder hulle bestuur deur die stroping van die mynbates aangerig is. Volgens die vakbond Solidariteit baan die likwidasiebevel ingevolge artikel 424 van die Maatskappyewet nou die weg dat die direkteure van dié maatskappy regsaanspreeklik gehou en vervolg kan word vir die Aurora-ramp. “Aurora Empowerment Systems is die moedermaatskappy wat destyds deur die Pamodzi-likwidateurs aangestel is om die Pamodzi-myne in Springs en Orkney te bestuur,” verduidelik Gideon du Plessis, adjunk uitvoerende hoof van Solidariteit. “Die likwidasiebevel sal hopelik daartoe lei dat die direkteure van Aurora Empowerment Systems eindelik aan die pen ry vir hulle wanbestuur en selfverryking,” voeg hy by. Een van Aurora Empowerment Systems se filiale, Kaunda Global Mining Resources, wat as Aurora Gold East Rand en Aurora Gold Orkney handel dryf, is onder voorlopige likwidasie geplaas danksy ʼn aparte likwidasie-aansoek van R1,3 miljoen deur nóg ʼn krediteur, Nelesco. Dit volg op ʼn likwidasie-aansoek van R3,1 miljoen deur Solidariteit in Mei vanjaar. Die finale likwidasie van dié filiaal, onder wie al die Aurora-werknemers se dienskontrakte geval het, sal na verwagting op 1 November bekragtig word.
|
Sensus 2011 is hier, wees gereed |
Deur Cilleste van der Walt Sensus 2011 is om die draai (10 Oktober tot 31 Oktober) en daar bestaan onsekerheid oor verskeie aspekte aangaande die sensus. Die Solidariteit Navorsingsinstituut het die saak ondersoek en die volgende is wat verwag kan word met hierdie jaar se sensus. Sensusbeamptes sal uitgeken kan word aan die volgende:
Dit is nie nodig om die sensusbeampte binne jou huis of selfs binne jou erf toe te laat nie. Al wat verpligtend is, is om die sensusvorm in ontvangs te neem en om dit volledig en eerlik in te vul. Die vorm kan met ʼn swart pen of ʼn donker (2HB) potlood ingevul word. ʼn Ligte potlood of blou ink sal nie deur die masjiene wat die vorms skandeer, gelees kan word nie. Die vorm is 14 bladsye lank en het 75 vrae. Wanneer die vorm volledig ingevul is, sal die beampte vir jou ʼn plakker gee waarmee bevestig kan word dat die huishouding wel getel is. Die plakker moet tot 21 Desember, wanneer al die prosesse van die sensus afgehandel sal wees, gehou word. Feitlik geen van die vrae in die sensusvorm handel oor sensitiewe inligting nie, maar van die vrae wat dalk sensitief kan wees, is vrae oor huishoudelike inkomste en bates wat deur die huishouding besit word. Hierdie vrae benodig nie baie spesifieke antwoorde nie. Daar word, byvoorbeeld, slegs gevra dat die huishoudelike inkomste in een van verskeie breë bande geplaas moet word en nie dat presiese syfers bekendgemaak moet word nie. Die finale uitslag van die sensus sal aan enige onafhanklike instelling en enige Suid-Afrikaner wat dit aanvra, beskikbaar gestel word. Die ingesamelde inligting word gebruik vir beplanningsdoeleindes van die regering op nasionale, provinsiale en plaaslike vlak. Dit help die owerhede, byvoorbeeld, om te beplan hoeveel watervoorsieningskapasiteit in ʼn gebied benodig gaan word in die toekoms, of hoeveel polisiebeamptes om aan te stel. Dit word ook gebruik deur privaat maatskappye en instellings om hul kliënte of ondersteuners beter te bedien. Solidariteit, AfriForum en Helpende Hand maak ook van sensusdata gebruik. Vir verdere inligting besoek:
|
MAROELA MEDIA Kuier saam op Maroela Media! |
|
TREE AAN! is terug in die Staatsteater op publieke aanvraag |
Deur Moira-Marie Kloppers Deon Opperman se TREE AAN! is 'n musiekspel wat die lewens van 'n klomp troepies volg - van koebaai by die stasie, deur basies en al die pad na die grens. Dit is vir die tweede keer op die planke vanaf 8 Oktober 2011 in die Staatsteater. Lede van Solidariteit kwalifiseer vir ʼn spesiale afslag van 10% op alle kaartjies. Die wagwoord vir lede-afslag is “soltree”. Bespreking by www.treeaan.co.za of Computicket-takke.
|
BESTEL ONS WAS DAAR |
BESTEL TREURGROND Treurgrond kan bestel word deur die woord “Treur” na 34388 te SMS. Die boek kos R150. (ʼn SMS kos R2.) Besoek ook www.kraaluitgewers.co.za vir meer inligting oor dié en ander boeke deur Kraal-Uitgewers.
|
BEDRYFSBROKKIES |
Deur Cilleste van der Walt Sasol dalk in knyp met lewering van poli-etileen Sasol se LLDPE-aanleg (liniêre laedigtheid-poli-etileen) in Sasolburg se roetine-instandhouding en die onlangse brand by die aanleg in Secunda het sekere sektore in die plastiekvervaardigingsbedryf onder druk geplaas. As gevolg van die werk wat by hierdie aanlegte gedoen moet word, het Sasol se polimereafdeling die lewering van poli-etileen aan sommige kleiner klante van nou af tot die einde van die jaar met soveel as die helfte gesny. Me Jacqui O’Sullivan, kommunikasiebestuurder van Sasol, het ontken dat Sasol lewering aan die plaaslike mark ingekort het. “Die vraag neem seisoenaal toe en dis nou die spitsseisoen, wat kan maak dat nie almal voorraad kan kry nie.” Die LLDPE-aanleg vervaardig liniêre laedigtheid poli-etileen, wat vir die maak van plastieksakke, kleefplastiek, deksels, pype of emmers gebruik word.
|
MY WERK Ken jou regte: dissiplinêre of afdankingsoptrede |
Deur Cilleste van der Walt Jou werkgewer kan op ʼn tydstip besluit om formele dissiplinêre of afdankingstappe teen jou aanhangig te maak. Dan moet jy jou regte ken, aangesien die maatskappyprosedures tot op die letter nagevolg moet word. Die eerste stap in so ʼn situasie moet ʼn skriftelike waarskuwing wees wat die probleem uiteensit. Die brief moet inligting bevat oor jou beweerde wangedrag of swak werkverrigting en die moontlike gevolge daarvan. Die inligting moet omvattend genoeg wees dat jy jou saak by ʼn vergadering hieroor kan stel. Die volgende stap na die brief is ʼn vergadering, maar op ʼn redelike tyd en plek waar die saak bespreek kan word. Geen optrede kan teen jou geneem word voordat hierdie vergadering nie gehou is nie. Iemand mag jou, om regsredes, na hierdie vergadering vergesel. Hierdie persoon kan ʼn kollega wees, ʼn vakbondverteenwoordiger of ʼn vakbondbeampte. By die vergadering moet die werkgewer verduidelik wat jy verkeerd gedoen het. Jou metgesel mag namens jou praat, maar mag nie vrae namens jou beantwoord nie. Indien ʼn betekenisvolle saak geopper word wat meer inligting vereis, kan die vergadering vir nadere ondersoek beëindig word. Die vergadering moet dan na ʼn ander dag uitgestel word. As die vergadering wel afgehandel is, moet die werkgewer so gou doenlik na die vergadering aan jou skryf om jou in te lig oor die besluit wat geneem is.
Die uitkoms kan ook enigiets anders wees wat die probleem kan oplos.
|
Sluit só aan by die Solidariteit Atletiekklub |
|
Trap saam met die Solidariteit Fietsryklub |
|
ATTERBURY TEATER |
|
Span uit saam met Solidariteit! |
Deur Cilleste van der Walt Solidariteit bied op Saterdag, 8 Oktober ʼn Lentefees op die sportgronde van Hoërskool Patriot in eMalahleni (Witbank) aan. Hierdie fees is ideaal vir die hele gesin. Kunstenaars soos Wendy Turnbull, MarNet, Elizma Theron en Armand Hofmeyr gaan ʼn lekker kuieratmosfeer skep. Toegang is gratis. Bring stoele, iets om te eet of te braai, of koop heerlike worsbroodjies by die fees. Solidariteit-lede wat hulle inligting tydens die fees laat bywerk, staan die kans om heerlike pryse te wen. Feesgangers wat nie Solidariteit-lede is nie en op die dag kom aansluit, kan ook een van die gelukkige wenners wees. Van die pryse op die spel is, byvoorbeeld, ʼn geskenkpak met twee kaartjies vir ʼn vertoning van die musiekspel TREE AAN!, ʼn CD en ʼn program wat deur al die akteurs van die produksie geteken is. TREE AAN! is ʼn gewilde musiekspel oor die Grensoorlog wat vandeesweek weer op die planke in die Staatsteater in Pretoria is. Die musiekfees word gehou om Solidariteit-lede te bedank en om aan die gemeenskap terug te gee. Solidariteit Lentefees in eMalahleni: 8 Oktober 2011 van 11:00 tot 19:00 by Hoërskool Patriot, Birkholtzlaan, Del Judor
|
Herdenking van Irene Konsentrasiekamp |
Die lyding van die vrouens en kinders in die Irene Konsentrasiekamp word vanjaar weer, soos oudergewoonte, op die Sondag naaste aan 10 Oktober herdenk. Vanjaar val die herdenking dus op Sondag, 9 Oktober 2011. Die funksie begin sodra die son opkom, om 05:30 die oggend. Koffie en beskuit sal na afloop van die program bedien word, en die verrigtinge sal vroeg klaarmaak sodat u nog betyds vir die diens in u eie gemeente kan wees. Die duisende kinders en vrouens wat tydens die Anglo-Boereoorlog met hulle lewens vir die Britse geskroeide-aardebeleid betaal het, word jaarliks by die kerkhof herdenk. Die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie, wat op 19 Oktober 1904 deur die hulpverpleegsters van die Irene Konsentrasiekamp gestig is, bied vanjaar weer die program aan. As kunstenaars gaan onder andere Dewald Grobler en Vita Wilkens optree met sang en voorlesings uit die digkuns van C Louis Leipoldt en Jan FE Celliers. Waar: Irene Konsentrasiekampkerkhof in Stopfordstraat, Irene Wanneer: 9 Oktober 2011 om 05:30 (Sondagoggend met sonsopkoms!) Bring saam: Blomme uit u eie tuin, stoele en ʼn donasie vir die SA Vrouefederasie Kontak:
|
VENSTER OP EUROPA Beperkte ontwikkelingshulp meer gewild |
Deur Ingrid Scholtz Al gehoor van die 1% Club? Waarskynlik nie. Dis ʼn nuwe soort ontwikkelingshulp wat die hulpgewer regstreeks koppel aan ʼn klein ontwikkelingsprojek in ʼn arm land. Sulke projekte is met opset klein en beperk sodat vordering maklik gevolg kan word en die resultate maklik meetbaar en vinnig sigbaar is. Dink byvoorbeeld aan die bou van ʼn weeshuis in die Demokratiese Republiek van die Kongo of ʼn projek waarvolgens mense in Malawi fietse kan leen. Hierdie meer moderne en saaklike benadering is ʼn antwoord op die groeiende wantroue jeens die “klassieke” benadering tot ontwikkelingshulp. So onlangs as 2004 het – volgens ʼn artikel in de Nederlandse dagblad De Volkskrant ‒ 20% van die Nederlanders gemeen dat sulke hulp afgeskaal moet word; maar in 2010 was hierdie persentasie 42%. Ook hierdie nuwe benadering is egter net tot op sekere hoogte suksesvol. Die 1% Club-webwerf het tot nou toe maar net sowat 8 000 lede gewerf en 500 000 euro ingesamel, wat maar ʼn druppel in die emmer is. Die reaksie van die Nederlanders op die hongersnood in Somalië is ʼn goeie voorbeeld van die groeiende sinisme. Nederland gee gewoonlik meer geld as enige ander Europese Unie-land aan verdienstelike sake. Maar ná twee weke se intensiewe reklame het nog maar net een uit elke ses Nederlanders iets hiervoor gegee. Mense redeneer min of meer soos volg: In die meeste ontwikkelingslande is armoede die gevolg van ʼn korrupte en hoogs ondoeltreffende regering, en ontwikkelingshulp kan dit nie verander nie. Bowendien verdwyn die meeste geld tog in die sakke van die ryk elite. En om alles te kroon, verkoop arm lande goeie landbougrond aan buitelandse beleggers, verdien direkteure van hulporganisasies yslike salarisse en werk al daardie hulp soos dagga - dit maak mense bloot verslaaf daaraan. Maar, meen De Volkskrant, die ryk Europa kan nou wel as’t ware ʼn heining om arm lande bou en maak of hulle nie bestaan nie, maar daarmee gaan die probleem van armoede en hongersnood nie verdwyn nie. Afgesien daarvan dat Europa dan sy morele verantwoordelikheid ontduik, is hierdie benadering ook om praktiese redes verkeerd. Eerstens sal wanhopige mense altyd daarin slaag om oor daardie heining te klim en na ryk lande emigreer. En tweedens mis die Weste geleenthede wat wel benut word deur China, wat byvoorbeeld hard besig is om die grondstowwe in Afrika te ontgin. Hoe kan die hulporganisasies hierdie groeiende wantroue te bowe kom? Bogenoemde 1% Club is ʼn goeie begin. Maar waarskynlik nog belangriker is eerlikheid. Volgens die direkteur van Dokters sonder Grense, Marilyn McHarg, moet jy nie probeer om met ʼn skewe voorstelling van sake hulp te verkoop nie. Advertensies van uitgehongerde kinders met die teks: “As jy niks gee nie, sterf hierdie kind” is volgens haar verkeerd, omdat jy daarmee suggereer dat die hongersnood net met kos en water opgelos kan word. Nee, sê sy, vertel ook dat voortdurende oorloë ʼn groot rol gespeel het en dat jy dus maar net gedeeltelik en tydelik kan help. Daarmee bereik jy meer mense. Want ʼn goeie strateeg, het die Chinese generaal Sun Tzu al duisende jare gelede geweet, begin om sy teenstander – in hierdie geval die siniese burger – nie te onderskat nie.
|
EKONOMIESE NUUS Stop alle invoere! (en uitvoere...) |
Deur Paul Joubert Die ministers van ekonomiese ontwikkeling, handel en nywerheid en landbou, bosbou en visserye is al weer besig om teen Walmart se oorname van Massmart te protesteer. Hul argument is dat die oorname gaan lei tot ʼn massiewe toename in ingevoerde goedere wat in die Massmart-winkels (soos Makro, Game en Builders Warehouse) verkoop gaan word. Hulle is bekommerd dat, indien hierdie ingevoerde goedere goedkoper as plaaslik vervaardigde goedere is, dit gaan lei tot werksverliese by plaaslike fabrieke. Volgens die drie ministers mag ʼn inwoner van ʼn land dan blykbaar slegs produkte invoer wanneer dit duurder is as die produkte wat plaaslik beskikbaar is. Waarom sou ʼn mens dan enigiets wou invoer? Indien hierdie benadering volvoer word, moet Suid-Afrika se grense nou dadelik gesluit word vir enige produkte, behalwe as daar bewys gelewer kan word dat die ingevoerde produk duurder is as die prys waarteen ʼn soortgelyke produk plaaslik vervaardig kan word. Dit sal Suid-Afrikaners ontneem van talle produkte en dit sal verbruikerspryse hoog opstoot weens gebrek aan mededinging, maar niemand is mos daaroor bekommerd nie. Dis nie asof die Mededingingskommissie se doel is om mededinging te bevorder om verbruikers te bevoordeel nie, of hoe? Indien hierdie beginsel vir fisiese produkte geld, waarom dan nie ook vir dienste en ander dinge soos inligting nie? Ons plaaslike dokters word mos ondermyn deurdat ons toelaat dat die bevindings van mediese navorsing in die buiteland, in Suid-Afrika bekendgemaak word. Ons eie mediese navorsers se posisies word daardeur verswak. Dieselfde geld vir enige innovasie op enige ander gebied. Dit was ʼn groot fout gewees om die tegnologie van elektriese gloeilampe in Suid-Afrika toe te laat – ons moes eerder gewag het dat ʼn Suid-Afrikaner dit self uitvind. Die beste sal dus wees om eenvoudig alle kontak met die buitewêreld af te sny. Sodoende kan plaaslike werksgeleenthede beskerm word in ʼn outargiese utopie soos die Demokratiese Volksrepubliek van Korea. Suid-Afrika moet ook nie so immoreel optree deur produkte wat plaaslik vervaardig of ontgin word, te wil uitvoer na ander lande nie. Deur dit te doen, gaan ons mos daardie lande se eie werkers se posisies ondermyn. Ons kan nie aan die een kant sê ons wil nie invoere hê, maar terselfdertyd ons goedkoop uitvoere aan ander lande opdring nie. Op ʼn ernstige noot: Die rede waarom ons produkte en dienste wil uitvoer, is juis om buitelandse valuta te verdien, wat ons dan kan gebruik om ander produkte en dienste mee in te voer. Die rede waarom ander lande ons produkte en dienste wil hê, is omdat ons dit vir hulle goedkoper kan bied as wat hulle dit self kan doen. Die rede waarom ons ander lande se produkte en dienste wil hê, is omdat hulle dit vir ons goedkoper kan bied as wat ons dit self kan doen. Hierdie handel is nie ʼn nulsom-spel nie, maar is positief vir beide betrokke partye, anders sou dit nie plaasgevind het nie. Een van die enigste geldige redes om oor goedkoop invoere besorgd te wees, is as die ingevoerde goedere van swak kwaliteit is, of op een of ander manier skadelik is, maar hierdie eienskap van die produkte nie deur die verbruiker waargeneem kan word nie. Wat dit betref, is dit tog interessant dat die groot bohaai gemaak word oor Walmart, maar nie oor die massiewe “China malls” wat in Suid-Afrika opgerig word nie. Waar is die groot bohaai oor al die ingevoerde produkte op die rakke van Checkers en Pick n Pay? (Gaan kyk maar self op die winkelrakke.) Waarom is daar dan nie ook ʼn reuse-hofsaak elke keer as ʼn Suid-Afrikaanse maatskappy produkte van swak kwaliteit vervaardig en plaaslik bemark nie? Verbruikers kan vir hulself dink. Verbruikers kan ook gewoonlik waarneem of ʼn produk van swak gehalte of skadelik is. Indien daar twyfel bestaan, versprei inligting om die verbruiker beter in te lig in plaas daarvan om die produk summier te verban. Indien ʼn verbruiker eenmaal ingeloop is met ʼn produk van swak gehalte, kan hy self besluit om nie weer daardie produk te koop nie. Sodoende verskuif die kliënte wel na die verskaffer wat die beste waarde vir geld bied. Laat winkels aan verbruikers soveel as moontlik keuses bied, sodat verbruikers self kan besluit wat hulle as ʼn goeie prys en goeie kwaliteit beskou.
|
INTERNASIONALE NUUS |
Deur Ilze Nieuwoudt VSA: Steve Jobs, voormalige hoof van die Apple-maatskappy, is vandeesweek oorlede ná ʼn sewe jaar lange stryd met pankreaskanker. Jobs, wat as een van die mees innoverende mense van die digitale era beskou word, het in Augustus uitgetree as hoof van dié multimiljoendollar-maatskappy. Tim Cook, Apple se HUB wat Jobs opgevolg het, beskryf Jobs as ʼn visionêre en kreatiewe genie. Jobs is in 1955 in San Francisco gebore en het nooit universiteit voltooi nie. Ten spyte hiervan het hy tesame met Steve Wozniak een van die magtigste maatskappye in die wêreld op die been gebring en die iPod, iPhone en iPad aan die wêreld bekendgestel. Nepal: Die wêreld se hoogste webkamera is onlangs in die Himalajas in Nepal geïnstalleer en bied nou aan mense regoor die wêreld ʼn regstreekse beeld van berg Everest. Die kamera is op ʼn hoogte van 5 675 m op Kala Patthar, ʼn berg oorkant Everest, opgestel en kan temperature van tot so laag as minus 30°C weerstaan. Die kamera sal daagliks van 06:00 tot 18:00 Nepal-tyd beelde versend. (Besoek die webkamera by www.evk2cnr.org/WebCams/PyramidOne/everest-webcam.html.) Israel: Honderde jare oue Bybel-geskrifte is vandeesweek vir ʼn paar uur in Jerusalem uitgestal. Die geskrifte word in Israel se nasionale biblioteek gestoor en is nog net een keer vantevore, meer as 10 jaar gelede, aan die publiek uitgestal. Die geskrifte, wat as die Damaskus-krone bekendstaan, bied aan navorsers ʼn unieke blik op Bybelse tekste. Een van die boeke wat ook deel van die uitstalling uitgemaak het, was ʼn 700 jaar oue Bybel wat in Italië geskryf is.
|
REGSVRAAG Grieweprosedure |
Deur Johan Roos Vraag: Antwoord: Een van die voorvereistes om ʼn saak oor onbillike arbeidspraktyke,viktimisasie of diskriminasie verder te voer, is om alle interne oplossings uit te put. Die grieweprosedure is een van hierdie interne oplossings wat gevolg moet word. Dit is belangrik om te beklemtoon dat indien jy bewerings oor viktimisasie of diskriminasie in ʼn grief teenoor ʼn persoon maak, dit substantief bewysbaar moet wees. Die persoon teen wie ʼn grief aanhangig gemaak is, kan siviele optrede neem indien jy valse beweringe gemaak het. Indien daar nie ʼn grieweprosedure by jou werkplek is nie, moet briewe aan die werkgewer geskryf word. Dit moet dan stelselmatig geëskaleer word tot op die hoogste vlak in die maatskappy. Dit sal dieselfde doel as die grieweprosedure dien.
|
AFRIFORUM |
Daling in Malema-steun wys AfriForum het reg opgetree AfriForum het verlede week, ná aanleiding van die bekendstelling van TNS Research Surveys se nuutste navorsing oor die afname in Julius Malema se steun, gesê dat daar geen meriete is in die bewerings van sommige politieke kommentators dat die haatspraak-hofsaak vir die jeugligaleier ’n platform gegee het om steun te werf nie. Die marknavorsingsmaatskappy het bevind dat Malema se steun in stedelike gebiede oor die afgelope jaar van 21% na 17% geval het. Dié daling is onder sowel witmense as swart mense sigbaar. “Die grootste kritiek teen AfriForum se inisiatief om Malema voor die gelykheidshof te daag, was dat hierdie stap vir Malema ’n platform gegee het om groter steun te werf,” het Ernst Roets, adjunk-uitvoerende hoof van AfriForum, gesê. “Hierdie navorsing is egter ’n duidelike aanduiding dat Malema se steun tydens die hofsaak afgeneem het. Daar is dus geen meriete in hierdie argument nie.” AfriForum het reeds vanaf die begin van die hofsaak gesê dat die regstappe teen Malema slegs vir hom ’n platform gegee het om sy onverdraagsaamheid aan Suid-Afrika te openbaar. “Die meeste Suid-Afrikaners wil mekaar respekteer en in vreedsame naasbestaan met mekaar saamleef. AfriForum het bloot ’n spieël opgelig om Malema se onverdraagsaamheid vir die land te wys, en Suid-Afrikaners het nie gehou van die beeld wat hulle ontvang het nie,” het Roets gesê. Roets het bygevoeg dat AfriForum sal voortgaan om vreedsame naasbestaan in Suid-Afrika te bevorder en om stappe te neem teen politieke figure wat poog om verhoudings te vertroebel.
|
HELPENDE HAND |
Helpende Hand skep beursfonds vir gestremde kunstenaars uit winste van kunsuitstalling by Aardklop Solidariteit Helpende Hand bied tydens vanjaar se Aardklop-kunstefees ʼn uitstalling van werke deur outistiese kunstenaars aan. Kunstenaars met gestremdhede het nie dieselfde geleenthede as ander kunstenaars om hul kunswerke ten toon te stel nie en Aardklop 2011 is die ideale platform vir hulle. Dié uitstalling is Helpende Hand se uitreiking na jongmense en kinders met outisme. Kuns is dikwels ʼn outistiese persoon se enigste manier om uiting te gee aan sy of haar ervaring van die lewe, omdat belemmerde kommunikasie so ʼn sterk eienskap van outisme is. “Kunstenaars wat uit kuns ʼn lewe probeer maak, het baie struikelblokke om te oorkom en vir jong kunstenaars met gestremdhede is daar nog meer uitdagings,” sê dr Danie Langner, die uitvoerende direkteur van Helpende Hand. “Daarom sal die wins uit die verkope omskep word in ʼn beursfonds om jong kunstenaars met gestremdhede die geleentheid te gee om hulle kunstalent te ontwikkel.” Volgens Anna Atkins, die uitvoerende hoof van die Vereniging vir Outisme en ouer van ʼn outistiese persoon, berei spesiale skole outistiese kinders voor op volwassenheid, maar is daar min skole wat voorsiening maak vir die behoeftes van kinders op die outismespektrum. “Daar is geweldige finansiële druk op die gesin van ʼn outistiese persoon indien die persoon nie tydens sy of haar skooljare voorberei is om ʼn aktiewe lid van die samelewing te word nie,” sê sy. “Maar met die regte terapie en die betrokkenheid van ouers, en danksy grondwetlike regte kan mense met outisme ʼn kwaliteit lewe lei.” Die kunstenaars wat aan die uitstalling deelneem, het elkeen ʼn Helde van Hoop-toekenning tydens ʼn spoggeleentheid by die kunstefees ontvang. ʼn Verslag oor outisme is ook bekendgestel. Die verslag is op versoek beskikbaar.
|
RIDDER EN RAMPOKKER |
Deur Cilleste van der Walt Ridder: Vandeesweek se ridder is die Weduwee- en Weesfonds vir Lede van die SAPD wat baie naby is aan sy doelwit om R2,1 miljoen in te samel. Daar is al meer as R1,8 miljoen in die fonds se rekening. Die geld sal uitbetaal word aan gesinne van polisielede wat in die uitvoering van hulle pligte dood is. Die eerste uitbetaling word binne die volgende paar weke verwag. Rampokker: Die verdagte wat ʼn hele gesin in hulle huis op ʼn kleinhoewe in Walkerville uitgewis het, is vandeesweek se rampokker. Die gesin van drie is elkeen dood aangetref met ʼn enkel skoot in die kop. Soldeer wys elke week ʼn ridder en rampokker aan. Die ridder is ʼn persoon of organisasie wat in die voorafgaande week iets positiefs bereik, behaal of gedoen het, terwyl die rampokker ʼn persoon of organisasie is wat iets negatiefs gedoen het. Voorstelle vir hierdie weeklikse toekennings kan aan Cilleste van der Walt by cilleste@solidariteit.co.za gestuur word. (Onthou om ʼn rede vir jou nominasie by die e-pos in te sluit.)
|
VOLGENDE WEEK IN ONS GESKIEDENIS |
Vir die week van 6 Oktober tot 12 Oktober (in die geskiedenis van volgende week) 6 Oktober 1955: Die FAK stel sy erepenning vir volksdiens in. (Bron: Frikkie Wallis se Nuusdagboek) |
|
[CONTENT]