SOLIDARITEIT EN VIRSEKER BOU NOU SAAM
Solidariteit het pas sy #onsbou-veldtog aangepak. Groot bouplanne word in die vooruitsig gestel. Die einddoel is om ’n toekoms te bou waarin die huidige en volgende geslag vry, veilig en voorspoedig kan wees. Om enigiets tot stand te bring en te bou is nie kinderspeletjies nie, of dit 'n sakeonderneming is wat jy bou, of dit fisiese bouwerk met stene en sement is, en of dit ’n toekoms is waaraan jy bou, dit is nie maklik nie.
Dit verg die uiterste geduld en uithouvermoë van baie mense. Dit verg deeglike beplanning, en dit verg geld, baie geld, bietjie vir bietjie, maar kort-kort. Solidariteit se bouplanne is gereed en baie bouwerk is al gedoen, maar dit moet meer, baie meer.
'n R80 wat van 12 000 mense ontvang word, is bykans 'n R1 miljoen per maand. Dít is wat die samewerking tussen Solidariteit en Virseker van dag een af in die rekening inbetaal om te bou! Bietjie vir bietjie, maar kort-kort. Virseker het tot stand gekom uit 'n klein groepie mense wat by 'n bosberaad gesit het toe die idee by hulle opgekom het dat Afrikaans as taal steeds in die versekeringswêreld 'n definitiewe plek en koopkrag het. Die Telesure-groep het die visie gedeel en dadelik aan die werk gespring om 'n skitterende handelsmerk op die been te bring. Intussen het Solidariteit deur sy finansiëledienstemaatskappy steeds gebou aan 'n kliëntebasis binne Solidariteit- en AfriForum-geledere. Die vordering wat albei handelsmerke gemaak het, het getoon dat die speelveld oorvleuel maar definitief ook wyer word.
Die twee handelsmerke het begin onderhandel om te besin oor die sinergie tussen hulle en tot die besluit oorgegaan dat Virseker voortaan ook in die Solidariteit- en AfriForum- handelsmerke verkoop moet word. Die sinergie is so sterk dat dit baie sin gemaak het dat een handelsmerk dit huisves. Virseker gaan dus net groter en sterker word. Met elke Virseker-polis wat verkoop word, word Afrikaanse onderwys ook verseker.
Die Virseker Trust het ook tot stand gekom en het reeds ’n reusebydrae van oor die R13 miljoen tot die bevordering van opleiding in Afrikaans gemaak. Om Afrikaans in die onderwys te verseker word egter nog baie meer van dié 13 miljoen rande benodig.
Solidariteit en Virseker bou dus nou saam aan ’n toekoms waar kinders en ook jongmense onderwys van hoë gehalte in Afrikaans kan kry.
Vir meer oor die vennootskap, klik hier.