Soldeer
|
Nr. 710 - 1/12/2016 |
HOOFSTORIE: |
Lilly-mynbestuur en besigheidsreddingpraktisyn moet nou oop kaarte
speel
Deur Juran van den Heever
Die vakbond Solidariteit het vandag gesê dat die tyd aangebreek het dat die Lily-myn se besigheidsreddingpraktisyn (BRP) en mynbestuur oop kaarte met hul werkers, Solidariteit en die media moet speel.
Dit volg nadat die BRP en die mynbestuur sedert hul aanstelling in April deurlopend beloftes gemaak het rakende ʼn belegger vir die myn, maar doelpale word gereeld verskuif met nuwe verskonings waarom ʼn transaksie nie beklink kan word nie. Daarmee saam verbind die mynbestuur hul deurgaans tot salarisbetalingdatums vir die werkers, maar bly ook in gebreke om daaraan te voldoen. Intussen word werkers nou op ʼn daaglikse basis op ʼn onmenslike wyse in die pad gesteek deurdat die persoon ʼn kil brief ontvang dat hy of sy die perseel moet verlaat en dat geen statutêre betalings gemaak word nie.
Volgens Gideon du Plessis, hoofsekretaris van Solidariteit, word Solidariteit se lede ook versoek om nie enige sensitiewe inligting of werker-onvriendelike besluite aan die vakbond te rapporteer nie – die rede blyk ʼn vrees vir regsoptrede teen die bestuur te wees en ʼn poging om enige negatiewe nuusdekking te verhoed wat skynbaar ʼn belegger sal afskrik. “Die mynbestuur en BRP se gedrag en optrede is egter besig om werkers in so ʼn mate te benadeel dat die departemente van arbeid en minerale bronne se agente versoek word om saam met Solidariteit die werksaamhede van bestuur en die BRP te ondersoek,” sê Du Plessis. “Hulle moet ook aan die nagenoeg 180 krediteure ʼn verduideliking gee oor ‘n aanbod van ‘n plaaslike belegger wat hulle na bewering van die hand gewys het.”
Dit is ook onrusbarend en diskriminerend dat indien salarisbetalings nie op ʼn normale betaaldatum kan geskied nie, die Amcu-lede en intreevlakwerkers steeds 100% van hul salarisse ontvang omrede mynbestuur ingee weens dreigemente dat die myn afgebrand sal word as voorgenoemde nie betaal word nie, terwyl die vaardige werkers weke later eers betaal word. Dan word daar al meer bewerings gemaak dat seker vakbondlede en gemeenskapslede moontlik “omkoopgeld” van die maatskappy ontvang om protesoptredes te verhoed of te beëindig – hierdie bewerings sal ook ondersoek moet word, sê Du Plessis.
Na agt maande van leë beloftes, werkers wat sonder enige statutêre vergoedingspakkette afgelê word en ook nog op betaling van hul salarisse vir April, Mei en Junie 2016 wag, begin hier tekens van die Aurora-sage verskyn wat Solidariteit geweldig bekommerd maak, sê Du Plessis. Selfs al word die beloofde beleggingsgelde binnekort ontvang, moet daar steeds ʼn ondersoek plaasvind rakende die oorsaak van die mynongeluk waarvan die uitkoms tot strafregtelike vervolgings kan lei as nalatigheid bewys kan word. Laasgenoemde ondersoek en ʼn evaluering van die BRP se bevoegdheid moet dringend gedoen word om sekerheid te kry of die mynbestuur en BRP inderdaad bevoeg is om die myn in die toekoms te bestuur omrede werkers se lewens en hul finansiële sekerheid nie verder in gevaar gestel kan word nie – in dié verband moet die geheime beleggers se identiteit bekend gemaak word sodat Solidariteit saam met die betrokke owerhede ook inligting tot ons beskikking aan die instansies kan oordra om seker te maak dat geen wanvoorstelling gemaak word nie en ons die beleggers kan bystaan met enige hindernisse wat hulle kan ervaar.
|
SOLIDARITEIT NUUS: |
Solidariteit en AfriForum vanaf 1 Desember in Pretoriase hoë hof oor
Afrikaans by UP
Op Donderdag, 1 Desember 2016 het die saak van Solidariteit en AfriForum teen die nuut aanvaarde taalbeleid van die Universiteit van Pretoria in die hoë hof in Pretoria aanvangs geneem. Hierdie beleid bepaal dat Engels in 2017 die primêre onderrigtaal aan dié instelling sal wees, wat die uitfasering van Afrikaans sal beteken. Na dié twee instellings se mening kom dit op ’n growwe skending van die grondwetlik erkende taalregte van Afrikaanse studente neer.
Solidariteit en AfriForum sal enige stappe moontlik neem ter beskerming en handhawing van Afrikaanse studente se reg om in hul moedertaal te studeer. Die organisasies het vanjaar reeds ’n soortgelyke saak teen die bestuur van die Universiteit van die Vrystaat gewen en is gereed vir die hofproses wat môre begin. Twee dae is op die hofrol vir dié saak opsy gesit.
|
Verdediging se SEB-handves skadelik vir werkers en werksekerheid
Deur Juran van den Heever
Die vakbond Solidariteit het vandeesweek insette en kommentaar gelewer op die voorgestelde SEB-handves vir die verdedigingsbedryf. Dit volg nadat adjunkpresident Cyril Ramaphosa in Mei vanjaar aangedui het dat die regering hulle tande gaan slyp rakende SEB. Hy het selfs aangedui dat die ekonomie al te lank in witmense se hande is. Hy het verder in September vanjaar by ’n konferensie gesê dat maatskappye se uitvoerende hoofde tronkstraf opgelê kan word as hulle nie aandag hieraan skenk nie.
Volgens Johan Kruger, adjunkbestuurshoof by Solidariteit, is die knyptange van dwang wat aan verskaffers in die bedryf opgelê word, sowel nieverpligtend as onwettig. Dit word egter verpligtend gemaak indien ’n besigheid wil oorleef. “In vele omstandighede word daar van verskaffers verwag om 51% van ’n besigheid aan swart persone oor te dra of te verkoop indien dit besigheid in die bedryf wil doen. Hierdie praktyk is niks anders as ongeoorloofde onteiening nie en sal werksekerheid in die bedryf negatief raak,” sê Kruger. “Diegene wat weier om hieraan te voldoen, word eenvoudig gestraf deurdat dit nie besigheid met die staat mag doen nie. Vele besighede wat nie aan hierdie ekonomiese dwang voldoen nie, sal sneuwel en werkers sal afgelê moet word.”
Die insette spreek onder andere die volgende drie aspekte aan: eienaarskap en die impak daarvan op werksekerheid, die noodsaak van die toetsing van die “een keer bemagtig, altyd bemagtig”-beginsel in die howe, en die nievoldoening van die handves aan die verbod op kwotas in die wet op gelyke indiensneming.
Solidariteit het dit in sy kommentaar ook duidelik gemaak dat hy nie ’n probleem het met swart eienaars van besighede, toepaslike swart verteenwoordiging in senior en middelbestuur en vaardigheidsontwikkeling van swart persone nie, maar dat hy die eksklusiewe en oënskynlik bestraffende en vergeldende aard van die voorgestelde handves teenstaan.
|
Nuwe Hoofraad – nuwe hoofstuk vir Solidariteit
Deur Wilmarie Brits
Solidariteit se nuwe Hoofraad vir 2017 is op Donderdag, 10 November aangewys. Die gebeurtenis was die begin van ’n nuwe periode van vyf jaar waartydens die Hoofraad die vakbond effektief op grond van die lede se belange gaan bestuur, ten einde te verseker dat die vakbond se grootste verantwoordelikheid, naamlik die welstand van die lede, nagekom sal word.
Die nuut aangestelde Hoofraad het Steve Scott van die Mynboubedryf as president herkies, terwyl Blackie Swarts, van die Metaal- en Ingenieursbedryf as visiepresident gekies is. Baie geluk aan die nuwe Hoofraad – julle word alles van die beste toegewens vir die belangrike take en verantwoordelikhede wat voorlê. Ons glo en vertrou dat julle Solidariteit na nuwe hoogtes gaan neem.
Die Hoofraad is uit vyf nasionale raadslede vir elke Bedryf binne die vakbond saamgestel, soos volg:
1 |
Steve Scott |
President (Mynbou) |
2 |
Blackie Swarts |
Visepresident (Metaal en Ingenieurs) |
3 |
Deon Jenkins |
Energie: Elektries |
4 |
Loraine Smit |
Energie: Elektries |
5 |
Deon de Vries |
Energie: Chemies |
6 |
Gawie Koch |
Energie: Chemies |
7 |
Koos de Beer |
Metaal en Ingenieurs |
8 |
Frik Cronjé |
Metaal en Ingenieurs |
9 |
Eddie Kingsley |
Metaal en Ingenieurs |
10 |
Wally Kramer |
MLS: Mynbou |
11 |
Henk Kruger |
MLS: Mynbou |
12 |
Giel Odendaal |
MLS: Mynbou |
13 |
Stefan Olivier |
MLS: Landbou en Sement |
14 |
Chris Kaempffer |
Professioneel: Finansieel, Tersiêr en Algemeen (FTA) |
15 |
Thelma Louw |
Professioneel: Finansieel, Tersiêr en Algemeen (FTA) |
16 |
Ben Saayman |
Professioneel: Inligtingtegnologie, Kommunikasie en Telekommunikasie (IKT) |
17 |
Lorinda Gerber |
Professioneel: Medies |
18 |
Magda de Ruyter |
Professioneel: Medies |
19 |
Morné Moore |
Energie: Verdediging en Lugvaart |
20 |
Arthur Boon |
Voortsettingslid |
|
Afgradering van Eskom deur S&P
Standard & Poor’s Global Ratings (S&P) se afgradering van Eskom is volgens die Demokratiese Alliansie (DA) ’n mosie van wantroue in Eskom en sy bestuur in die besonder, asook in die “relatief swak korporatiewe bestuur van staatsondernemings in die algemeen,” berig Netwerk24.
“Dit is hartseer en is ’n bewys van Eskom se ernstige gebrek aan leierskap, op direksievlak en op regeringsvlak, soos verteenwoordig deur Lynne Brown, minister van openbare ondernemings,” het die opposisie die naweek in ʼn verklaring gesê in reaksie op dié nuus Vrydagaand.
S&P het die gradering se vooruitsig negatief gehou, wat beteken ’n verdere afgradering van Eskom is nie buite die kwessie nie. Eskom was reeds een trappie onder beleggingsgraad op BB+, en is met een vlak tot BB verlaag.
Eskom self het Vrydagaand sy spyt oor die afgradering uitgespreek.
S&P het die groot druk op Eskom se geldsake vir sy besluit uitgelig en gesê daar is onsekerheid of die staatswaarborg van R350 miljard vir Eskom verleng sal word wanneer dit einde Maart volgende jaar verval.
Daarbenewens is Eskom tans in ’n hofsaak met die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) gewikkel oor sy versoek om tariewe te verhoog. S&P het dié saak ook in sy besluit genoem.
|
Die regsimplikasies van die voetstootsklousule
Wanneer jy iets koop, is daar ’n geïmpliseerde waarborg dat die merx (die ding wat verkoop word) vry van enige gebreke is. Dit is egter moontlik om by hierdie geïmpliseerde waarborg verby te kom deur ’n vrystellingsklousule in die kontrak in te voeg wat sê die verkoop is voetstoots.
Die term voetstoots is ’n Nederlandse woord en word gebruik om ’n verkoop sonder waarborge te beskryf waar die merx verkoop word “soos dit is” met al sy tekortkominge.
Voetstootsklousules is baie algemeen in skriftelike koopooreenkomste en word dikwels met agterdog bejeën. Baie mense is van mening dat sulke klousules ’n kontrakterende party met ’n sterker bedingingsposisie in staat stel om die ander swakker kontrakterende party uit te buit en te misbruik. Omdat die merx gekoop word “soos dit is”, dink baie mense die verkoper kan nie vir enige gebreke wat later aan die lig kom, aanspreeklik gehou word nie. Hierdie siening is verkeerd en is ’n wanvertolking van die reg.
Die gemeenregtelike posisie
Ingevolge die gemenereg kan ’n koper beswaar aanteken waar die merx gebrekkig was ten tyde van die verkoop en waar die verkoper bewus was van die gebrek maar versuim het om dit aan die koper bekend te maak, wel wetende dat as die koper daarvan geweet het, hy óf nie met die koop sou voortgaan nie óf ‘n gunstiger koopprys sou beding het. In so ’n geval is die onus op die koper om die wanvoorstelling aan die kant van die verkoper te bewys.
Gevolglik sal aanspreeklikheid aan die kant van die verkoper ontstaan as ’n gebrek verborge is en nie sigbaar is nie.
Verborge gebreke is tekortkominge wat nie met die blote oog sigbaar is nie en verskuil is, byvoorbeeld ’n lekkende geiser of foutiewe bedrading. In so ’n geval kon die koper nie voor die verkoping redelikerwys van die gebrekkige kwaliteit van die merx bewus gewees het nie en behoort hy die verkoper vir so ’n gebrek aanspreeklik te kan hou.
Sigbare gebreke is foute wat merkbaar en sigbaar is vir ’n deeglike persoon deur ’n normale inspeksie van die merx, byvoorbeeld ’n stukkende venster of ’n duik in ’n deur. Hier is dit die koper se verantwoordelikheid om die merx deeglik te ondersoek en te inspekteer voordat hy dit koop, en gevolglik is dit hy wat die spit sal moet afbyt indien dit later sou blyk dat daar so ’n gebrek bestaan het.
Die waarborg teen verborge gebreke geld outomaties deur regswerking en maak deel uit van die naturalia (bepalings wat in die reël regtens geld vir elke kontrak van ’n bepaalde klas) van elke verkoopkontrak.
Die nuwe posisie – die WVB
Die Wet op Verbruikersbeskerming, No 68 van 2008 (“die Wet”) het ’n beduidende invloed op die gemeenregtelike waarborg teen verborge gebreke. Die Wet is egter nie van toepassing nie op ’n transaksie waar die koper ’n regspersoon is waarvan die batewaarde of jaarlikse omset ten tyde van die transaksie gelyk is aan of meer is as die drempelwaarde van R2 miljoen, soos van tyd tot tyd deur die Minister van Handel en Nywerheid bepaal.
Die Wet sal dus ook nie van toepassing wees nie waar goedere en dienste nie in die gewone loop van sake verskaf word nie. Byvoorbeeld, waar ’n huiseienaar sy huis wil verkoop en dit eenmalig verkoop en nie in die gewone loop van sy besigheid nie, sal die gemeenregtelike posisie soos hierbo bespreek, van toepassing wees. Dus val nie alle koopooreenkomste noodwendig onder die Wet en die beskerming vir die koper teen gebreke nie.
Artikel 55 van die Wet bepaal dat ’n koper ’n reg het om goedere te ontvang wat geskik is vir die doel waarvoor dit gekoop word, en dat dit van goeie gehalte, in werkende toestand en sonder gebrek moet wees.
Dit beteken dat dit nie saak maak of die koper die gebrek kon sien of nie, en of die verkoper die gebrek op bedrieglike wyse verberg het nie. Gebreke moet uitdruklik openbaar gemaak word en ’n algemene klousule dat die koper die eiendom aanvaar “soos dit is”, sal nie aanvaarbaar wees nie (solank die verkoop aan die Wet onderhewig is).
Hierdie bepalings geld egter nie waar die koper uitdruklik ingelig is dat die merx in ‘n spesifieke toestand aangebied word en hy uitdruklik ingestem het om dit in daardie toestand te aanvaar, of bewustelik opgetree het op ’n manier wat ooreenstem met aanvaarding van die merx in daardie toestand. Met ander woorde, as die koper bewus is dat die eiendom verkoop word in die toestand waarin dit staan op die datum van verkoop en waar die koper ’n geleentheid gehad het om die eiendom te inspekteer, sal die voetstootsklousule steeds deel van die ooreenkoms uitmaak.
Ten slotte
Dit is baie belangrik dat kopers en verkopers die begrip voetstoots moet verstaan voordat hulle enige koopkontrak aangaan. ’n Mens moet jou vergewis van die nuwe tersaaklike bepalings van die Wet en die regsimplikasies daarvan voordat jy ’n koopooreenkoms aangaan.
Verkopers moet versigtig wees as hulle ’n voetstootsklousule by ’n koopooreenkoms insluit en word aangeraai om regsadvies oor die afdwingbaarheid van sodanige klousule in te win. Insgelyks moet kopers ook regsadvies oor sulke klousules inwin voordat hulle so ’n ooreenkoms aangaan.
Bron: VDMA Prokureurs
|
Kinder-onderhoud in Suid-Afrika: Jou vrae beantwoord
Deur Candice Eve-Friis
Waaruit bestaan onderhoud?
Volgens wetgewing is ʼn kind geregtig op redelike onderhoud om voorsiening te maak vir klere, behuising, tandheelkundige en mediese sorg, onderwys en opleiding, en ontspanning (waar van toepassing). Beide ouers het ʼn plig om die kind ooreenkomstig hulle onderskeidelike vermoëns te onderhou. Die plig bestaan ongeag of die kind se ouers ongetroud is, of die kind aangeneem is en of die kind uit ʼn eerste of later huwelik gebore is.
Wat is die onlangse veranderinge aan onderhoudwetgewing en wat is die implikasies daarvan?
Die Wysigingswet op Onderhoud Nr. 9 van 2015 is op 9 September 2015 aangeneem. Hierdie wet word beskou as die volgende stap in meer as ʼn dekade van inisiatiewe deur die Departement van Justisie om die Suid-Afrikaanse onderhoudstelsel te versterk en remedies in plek te stel om diegene te hanteer wat nalaat om hulle onderhoudsverpligtinge na te kom. Die wysigingswet poog om, onder andere, navrae spoedig af te handel deur die afdwing van interimbevele, die uitreiking van onderhoudsbevele verder te reguleer en die onderhoudshof te bemagtig om, op grond van ʼn klag gelê dat ʼn persoon hulle onderhoudsverpligtinge versuim het, sy of haar persoonlike besonderhede aan die kredietburo te oorhandig.
Hoewel die doelwitte van die wet prysenswaardig is, is daar ongelukkig steeds rede vir kommer wanneer dit kom by magistraatskantore wat onderbeman en personeel wat onvoldoende opgelei is.
Veranderinge sluit in:
Sou ʼn persoon hulle onderhoudsbevel nie nakom nie, is dit nou wettig om hulle persoonlike inligting aan die kredietburo te oorhandig, wat gevolglik verhoed dat enige verdere krediet aan sodanige persoon toegestaan word terwyl hy/sy onderhoud skuld. In wese word die onderhoudwanbetaler geswartlys;
Sou ʼn onderhoudsbeampte nie daarin slaag om die persoon op te spoor teen wie die klag aanhangig gemaak is nie, mag die hof selfoonverskaffers gelas om enige inligting oor daardie persoon te oorhandig. Hierdie bevel sal slegs toegestaan word indien die hof tevrede is dat alle pogings aangewend is om die betrokke persoon op te spoor;
Interim onderhoudsbevele mag uitgereik word sou ʼn navraag uitgestel word. Die howe sal poog om onderhoudsnavrae so spoedig moontlik af te handel en met so min uitstellings as moontlik. Die hof mag egter ook, volgens hulle diskresie, tussentydse onderhoudsbevele toestaan om die klaer finansieel by te staan tydens die duur van die navraag, sou uitstellings plaasvind;
Die howe sal poog om getuies deur middel van subpoenas te bekom om feitelike getuienis voor te lê van die finansiële posisie van die persoon teen wie die klag ingedien is;
Kriminele aanklagte mag teen ʼn persoon aanhangig gemaak word wat versuim om die onderhoud te betaal soos deur hulle onderhoudsbevel bepaal en hulle mag gevangenisstraf wat nie drie jaar mag oorskry nie en/of ʼn boete in die gesig staar;
Enige persoon wat versuim om die hof van residensiële en/of werkveranderinge in kennis te stel, sal skuldig bevind word en mag gevangenisstraf wat nie ʼn jaar mag oorskry nie en/of ʼn boete in die gesig staar;
Klagtes wat by ʼn onderhoudsbeampte ingedien is, sal op die voorgeskrewe wyse deur hom/haar ondersoek word. Die beampte mag met ʼn lynnavraag in die magistraatshof begin in die area waar die klaer werksaam is, in teenstelling met slegs waar hy/sy woon; en
Onderhoudsaansoeke kan nou via e-pos beteken word in teenstelling met slegs persoonlik deur die balju van die hof, die onderhoudsbeampte of die polisie. Dit sal help om die teenwoordigheid by die hof te verseker van die persoon teen wie die onderhoudsklag ingedien is.
Hoe kan jy die onderhoudsbedrag verminder?
Indien jy nie langer kan bekostig om die gelaste bedrag te betaal nie, kan jy by die hof aansoek doen vir ʼn vermindering, onderworpe aan finansiële ondersoek.
Kan ʼn onderhoudsbevel deur instemming verkry word?
Ja, dit kan tydens die informele ondersoek gebeur wanneer partye ʼn geskrewe ooreenkoms aangaan (soms met die hulp van die onderhoudsbeampte).
Kan jy teen ʼn onderhoudsbevel appelleer?
Jy kan nie ʼn bevel by verstek appelleer nie of indien die bestaande bevel deur instemming daargestel is nie. Jy kan ook nie appelleer teen ʼn voorwaardelike bevel met betrekking tot die koste van ʼn vaderskaptoets nie. In alle ander gevalle kan jy appelleer, en ʼn kennisgewing van voorneme om te appelleer moet oorhandig word aan die klerk van die onderhoudshof waar die bevel uitgereik is. Die kennisgewing moet ook op die ander party bestel word binne 20 dae vanaf die uitreiking van die oorspronklike bevel. ʼn Appèl skort nie betaling van onderhoud in lyn met die bestaande onderhoudsbevel op nie.
Wat gebeur as die party wat beveel is om onderhoud te betaal versuim om jou te betaal?
As hy/sy versuim om die bepalings van die onderhoudsbevel na te kom en die bevel vir ʼn tydperk van 10 dae nie gehoorsaam is nie, kan jy by die onderhoudshof in die area waar jy woon aansoek doen vir magtiging om ʼn lasbrief vir eksekusie, ʼn bevel vir beslagleggingbevel van skuld, of ʼn loonbeslagleggingsbevel uit te reik.
ʼn Loonbeslagleggingsbevel is ʼn hofbevel wat deur die balju van die hof op die werkgewer van die wanbetaler bedien word, en die werkgewer beveel om aftrekkings van die wanbetaler se salaris of loon te maak ter vereffening van ʼn skuld deur die wanbetaler verskuldig aan ʼn derde-party-krediteur. Die wanbetaler se persoonlike inligting kan ook aan die kredietburo oorhandig word, wat verhoed dat enige verdere krediet aan die wanbetaler toegestaan word terwyl hy/sy onderhoud skuld. In wese sal die wanbetaler geswartlys word. Versuim om onderhoud te betaal is ʼn kriminele oortreding met óf ʼn boete óf gevangenisstraf daaraan verbind. Die enigste oplossing vir die versuimende party is om te bewys dat hy/sy nie kon betaal nie weens ʼn gebrek aan geld/inkomste.
Kan jy aansoek doen vir onderhoud in die middel van ʼn egskeiding?
Tydens ʼn egskeiding mag jy vind dat jou gade die betaling van sekere onkostes gestaak het. Suid-Afrikaanse wet laat jou toe om by die egskeidingshof aansoek te doen vir ʼn onderhoudsbevel vir jou kinders, onderhoud vir jouself, en ʼn bydrae tot jou regskoste (indien nodig). Jy sal ʼn beëdigde verklaring inhandig wat jou finansiële omstandighede uitspel en waarom jy finansiële bystand benodig, en jou gade sal op jou beëdigde verklaring antwoord met sy/haar eie beëdigde verklaring. Daarna sal die saak voor ʼn regter geargumenteer word, wat ʼn tussentydse bevel sal uitreik wat van krag sal wees totdat die egskeiding gefinaliseer is.
Kan jy aansoek doen vir onderhoud as jy nie getroud is nie?
As jy ongetroud is, kan jy by ʼn klerk van die onderhoudshof in die area waar jy woon en werk aansoek doen vir onderhoud vir jou kinders en/of vir jouself. Die klerk sal dan die ander ouer subpoena om vir ʼn onderhoudsnavraag te verskyn, waar die klerk sal poog om jou/die ander ouer se onderhoudskwessies te besleg. Indien geen oplossing bereik kan word nie, sal die klerk die saak na ʼn magistraat verwys, wat dan ʼn formele verhoor sal lei waar jy sowel as die ander ouer getuienis sal lewer aangaande julle finansiële omstandighede. Die magistraat sal dan ʼn beslissing maak, wat gelykstaande is aan ʼn hofbevel.
Wat as die ander party tot jou onderhoudnavrae werkloos is?
Indien dit die geval is, sal die magistraat die ondersoek uitstel en hom/haar toelaat om werk te soek. As hy/sy werkloos is maar huurkoopooreenkomste het waarvan jy bewus is, kan jy die magistraat inlig, wat dan mag beveel dat beslag gelê word op die meubels en dit verkoop word om onderhoud te betaal. Terwyl werkloos is kan jy by die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling aansoek doen vir ʼn kinderonderhoudstoelae.
Het die kind ʼn onderhoudseis indien ʼn ouer te sterwe sou kom?
Ja, teen die oorledene se ouers se boedel. Hierdie eis geniet voorkeur bo erfgename, maar geniet nie voorkeur bo krediteure nie. Die eis bestaan in so verre dit vir die kind onmoontlik is om hom/haarself te onderhou, byvoorbeeld as die kind ʼn groot genoeg erflating ontvang om in sy/haar behoeftes te voldoen kan hy/sy nie onderhoud uit die boedel eis nie.
Is daar ʼn verpligting op grootouers om ʼn kind te onderhou?
As nie een van die ouers die kind kan ondersteun of onderhou nie, gaan die plig oor na die grootouers toe (aan moeders- of vaderskant). As ʼn vader/moeder versuim om onderhoud te betaal, kan die ouer wat die primêre versorger is ʼn onderhoudsaansoek bring teen die grootouers.
Is daar ʼn plig op sibbe om ʼn kind te onderhou?
As nóg die ouers nóg die grootouers onderhoud kan voorsien, gaan die verpligting oor na die kind se sibbe (susters, broers, halfbroers en halfsusters), in lyn met hulle onderskeidelike vermoëns, maar slegs as die kind waarlik behoeftig is.
Is daar ʼn plig op stiefouers om ʼn kind te onderhou?
ʼn Stiefouers is nie onder die wet verplig om sy/haar stiefkind te onderhou nie.
Bron: Shepstone & Wylie
|
SOLIDARITEIT BEWEGING NUUS: |
AFRIFORUM |
Suid-Afrikaanse wiskunde- en wetenskappunte steeds power
Deur Mariska Batt
Die burgerregte-organisasie AfriForum spreek hul misnoeë uit oor Suid-Afrikaanse skole se power resultate in die Trends in International Mathematics and Science Study (TIMSS).
Die feit dat Suid-Afrika nie wéér die swakste in beide hierdie vakrigtings gevaar het nie, behoort geen rede tot vreugde vir Angie Motshekga, die minister van basiese onderrig, en haar departement te wees nie. Suid-Afrika het vanjaar amptelik die tweede swakste in wetenskap en swakste in wiskunde op die TIMSS-wêreldranglys gevaar. Die bedenklike prestasie kan ook nie, soos Motshekga aanvoer, aan boelies in skole en ’n tekort aan fondse toegeskryf word nie.
“Hierdie situasie kan slegs beredder word indien die departement aanspreeklikheid vir die probleem aanvaar en ophou om die erns daarvan te ontken,” meen Carien Bloem, projekkoördineerder vir onderwys by AfriForum.
Maniere waarop die probleem beredder kan word, volgens haar, is dat: die tekort aan geskikte wiskunde- en wetenskaponderwysers aangespreek word deur meer beurse beskikbaar te stel vir onderwysstudente om in hierdie kernvakrigtings te studeer; onderwysers wat nie op standaard is nie, heropgelei of gedissiplineer word;
inmenging deur vakbonde soos die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysunie (Sadou) stopgesit word; ouers seker moet maak dat hul kinders skool bywoon;
ouers die skool se dissiplinêre kode ondersteun en hul kinders aanmoedig om dieselfde te doen; ouers aktief moet betrokke raak by skole se beheerliggaamverkiesings en dié se aktiwiteite; en skole se voedingskemas ondersteun en maatreëls in plek gestel word om te verhoed dat fondse vir sulke skemas verkeerd aangewend word. “So lank as wat die departement nie verantwoordelikheid vir die leemtes in die onderwysstelsel neem nie, moet ons self ingryp ter wille van ons kinders se toekoms,” het Bloem bygevoeg.
|
SOLIDARITEIT HELPENDE HAND |
Suid-Afrika vinnig op pad om nommer een in mensehandel te word
Deur Marlien van der Westhuizen
Tans is Suid-Afrika 27ste op die globale slawe-indeks met ʼn geraamde 248 700 slagoffers. Dit het astronomies gestyg vanaf slegs 106 000 slagoffers in 2014 toe Suid-Afrika 126ste op die wêreldlys was. Verder is Suid-Afrika wyd bekend as is ’n bron, transito- en eindbestemming-land.
Tydens die 16 dae van aktivisme vanaf 25 November tot 10 Desember 2016 is die fokus op die mishandeling van vroue en kinders in die land. Weinig ander kwessies het meer hierop betrekking as mensehandel. Ongelukkig is mensehandel een van die vinnigste groeiende georganiseerde misdade ter wêreld.
Die meeste slagoffers in Suid-Afrika is ons land se eie burgers en hulle word blootgestel aan misbruike soos prostitusie, dwangarbeid, pornografie, stroping van organe, kinderhuwelike en ook onwettige aanneming van kinders.
Sedert 2014 tot vanjaar het die aantal mensehandelslagoffers in Suid-Afrika meer as verdubbel. Solidariteit Helpende Hand se Pêrels Uit As-tak het besluit om ’n inligtingsessie te hou om meer lig op die onderwerp te werp. Die tak bied ook die land se enigste studiefonds wat uitsluitlik vir gerehabiliteerde slagoffers van mensehandel is om hul lewens weer agtermekaar te kry.
Volgens Elize Bezuidenhout, ’n funksionele terapeut en voorsitter van die Pêrels Uit As-tak, is die studiefonds ’n kardinale deel van hul betrokkenheid by mensehandel. “Ons wil hierdie mans en vroue ondersteun om weer met hul lewens aan te gaan. Min organisasies sal hierdie slagoffers ’n tweede kans gee en ons wil dit verander. Die studiefonds word befonds deur skenkings sowel as die inkomste wat uit die kaartjieverkope van inligtingsessies soos hierdie gegenereer word,” sê Bezuidenhout.
Daar is egter ’n groot verskeidenheid maniere waarop die publiek betrokke kan raak en saamwerk om mensehandel teen te werk. Die inligtingsessie wat deur Bezuidenhout aangebied is, het nuttige wenke gegee oor hoe om ’n daadwerklike verskil te maak en ook hoe om jou geliefdes veilig te hou. Daar was ook ’n vertoning van Unthinkable, ’n fliek wat fokus op een van die werwingsmetodes wat die handelaars gebruik om slagoffers te vang.
Om meer uit te vind van mensehandel of om meer oor die studiefonds te wete te kom, kontak gerus vir Elize Bezuidenhout op 082 772 1821 of stuur ’n e-pos na elize@helpendehand.co.za.
|
KRAAL UITGEWERS |
Maak dít jou volgende stop
Die volgende stop-bordspel is die afdraaipad na pret vir die hele gesin. Met dié gewilde Afrikaanse bordspel sal die hele gesin vir ure kan saamspeel, hul kennis van Suid-Afrika, ons taal, mense en plekke toets en selfs spotlike stomstreke speel. Vul die pret aan met 'n tweede stel speelkaarte en siedaar – ure se pret! Die bordspel en ekstra stel speelkaarte is nou beskikbaar teen R400 (posgeld uitgesluit). Kontak Kraal Uitgewers by 012 644 4430 of stuur 'n e-pos na kraal@kraaluitgewers.co.za om van dié spesiale aanbieding gebruik te maak.
|
RUBRIEKE: |
BEDRYFSBROKKIES |
Exxaro vol vertroue dat Eskom-kontrakte veilig is ondanks verlaging van SEB-eienaarskap tot 30%
Die gediversifiseerde mynmaatskappy, Exxaro Resources, het beleggers verseker dat, ten spyte daarvan dat sy swart eienaarskap tot onder die 51% gaan daal, dit nie sy bestaande leweringskontrakte met Eskom, die staatsbeheerde kragverskaffer, sal raak nie. Eskom vereis 51%- swart eienaarskap vir alle leweringskontrakte wat hy aangaan.
Volgens Mining Weekly is die maatskappy van voorneme om ’n nuwe skema vir swart ekonomiese bemagtiging (SEB) in te stel. Dit sal tot gevolg hê dat sy aandeelhouding deur swart eienaars van die huidige 50,1% tot 30% sal daal.
Riaan Koppeschaar, Exarro se finansiële direkteur, het Donderdagaand deur middel van ’n telekonferensie met beleggers geskakel en gemeld dat ’n nuwe maatskappy, NewBEECo, ingelyf word met die doel om as die nuwe bemagtigingsvoertuig op te tree. Die nuwe maatskappy sal Main Street 333 vervang en sal uiteindelik ’n belang van 30% in Exxaro hê.
Hy het daarop gewys dat die plaasvervangende SEB-transaksie vir sewe jaar sal geld en dat bepaalde tussentydse likiditeitsmeganismes sal geld wat nie “Exarro se bemagtigingsgeloofwaardigheid” in gedrang sal bring nie.” Gedetailleerde ooreenkomste moet nog onderhandel word en die maatskappy is van voorneme om dit voor 30 April 2017 uit te klaar.
|
MY WERK |
Jaareindfunksie: Sluit die jaar af op ’n hoë noot
Deur Wilmarie Brits
Jaareindfunksies is verseker die werk se sosiale hoogtepunt van die jaar. Dit is ’n geleentheid om van al die jaar se bedrywighede en stres te vergeet en om die jaar op ’n hoё noot af te sluit. Die probleem met ’n jaareindfunksie is dat alhoewel jy daagliks saam met jou kollegas werk en hulle goed ken in werksverband, jy nie heeltemal seker is hoe jy teenoor hulle en jou bestuurders moet optree by ’n sosiale funksie nie. Party mense het so ’n groot vrees vir die funksie dat hulle dan sosiaal heeltemal ongemaklik is by die funksie, terwyl ander weer té gemaklik en rammetjie-uitnek raak.
Hou die realiteit in gedagte dat jy, te midde van die feestelike vieringe, met kollegas by ’n werksfunksie sosialiseer, terwyl jou bestuurders in die omtrek is. Wees deel van die kameraderie en geniet dit in die gees van Kersfees, maar weet waar om die streep te trek.
Pas die volgende paar wenke toe om ’n positiewe en onvergeetlike jaareindfunksie te verseker.
- Die jaareindfunksie is verseker die regte plek om goeie indrukke te skep. By so ’n funksie is die gewone hindernisse uit die weg geruim omdat dit in ’n gemaklike, informele omgewing gehou word. Dit bied geleentheid om mekaar beter te leer ken, maar onthou dat dit nie die plek is om oor werk te praat nie. Mense wat gewoonlik moeilik is om in die hande te kry, is nou baie meer toeganklik.
- Dit is ook baie belangrik om seker te maak of ’n spesifieke kleredragkode geld. As jy té formeel of té informeel aangetrek kom, kan dit jou ongemaklik laat voel en so kan dit jou aand heeltemal bederf. As julle volgens ’n tema moet aantrek, maak gebruik van die geleentheid want dit wys jy hou daarvan om deel te wees van ’n span.
- Dit is ook ’n geleentheid om jou kollegas op ’n persoonlike vlak te leer ken. Jy weet nooit, vriendskappe kan dalk net uit die geleentheid ontwikkel. Jy moet ook onthou om altyd beleef te wees teenoor jou kollega se metgesel.
- Eet voor jy drink. Dit sal help dat jy die aand langer saam met jou kollegas kan geniet, en sal voorkom dat jy rammetjie-uitnek raak.
- Moenie rede soek om oor mense by die werk te skinder nie. Moenie eers daaraan dink om op die tafels te dans of by een van jou kollegas vlerk te sleep nie.
- Tree altyd verantwoordelik op deur ’n plan te maak om veilig tuis te kom as jy dalk jou limiet oorskry het.
Alhoewel die jaareindfunksie die perfekte geleentheid is om uiting te gee aan jou prettige sy en werksverhoudinge te bou, moet jy onthou dat dit steeds ’n besigheidsfunksie is. Maak seker dat jy die regte boodskap uitstuur om dit só ’n loopbaanbouende geleentheid, eerder as ’n loopbaanbrekende een te maak.
|
MY GESONDHEID |
Suid-Afrika staar uitdagings in die gesig om bekostigbare mediese hulp in 2017 te bied
Saamgestel deur Medihelp
(Vir bekostigbare voordele-opsies, SMS “solidariteit” na 32291.)
Alhoewel baie sosio-ekonomiese veranderinge suksesvol in ons land geïmplementeer is, het Suid-Afrika se welvaartgaping ’n baie relevante kwessie gebly (ten spyte van die vordering met verskeie regeringsingrypings). Die welvaartgaping is ’n tasbare weerspieëling van die land se ongelyke gesondheidslewering, en illustreer die laer gehalte van gesondheidsdienste waaraan die meerderheid van ons bevolking blootgestel word. Volgens die Suid-Afrikaanse Mediese Joernaal is ons verwronge inkomstegaping vir hierdie maatskaplike onreg verantwoordelikheid en dit laat baie burgers sonder die middele om mediese hulpdienste te bekostig.
Statistiek wat in 2011 opgeteken is, het getoon dat meer as 23 miljoen Suid-Afrikaanse burgers onder die boonste grens van die broodlyn lewe, ’n daling teenoor ’n vorige opname in 2006. Die afwesigheid van middele om vir mediese hulp te betaal, is nie tot hierdie groep beperk nie, aangesien slegs 8,5 miljoen individue (uit die 52 miljoen burgers wat ons in 2011 gehad het) toegang tot ’n mediese hulpskema gehad het.
Ons MIV-/Vigs-epidemie het daartoe gelei dat ons baanbrekers is met die grootste antiretrovirale behandelingsprogram ter wêreld, maar ons kan hierdie uiters nodige dienste aan slegs 40% van kwalifiserende volwassenes voorsien.
Met onlangse studente-optogte teen die inkomstegaping is hierdie nasionale kwessie op die voorgrond geplaas en dit word ’n welkome deel van openbare redevoering oor armoede en toegang tot gesondheidsdienste in Suid-Afrika.
Om toegang tot basiese mediese dienste te hê, is dus ’n baie hoë maatskaplike prioriteit in Suid-Afrika en sal bes moontlik meer doeltreffend bereik word deur ’n proaktiewe, maatskaplike benadering eerder as deur regeringsprosesse. As die nasie sy houding teenoor hierdie relevante maatskaplike kwessies as geheel verander, kan die behoefte aan sodanige ingryping nie langer ontken word nie.
Die onus is dus op ons plaaslike mediese hulpdienste om geskikte en bekostigbare mediese hulpplanne in Suid-Afrika te skep wat pasgemaak is vir die koper se behoeftes. Individue word aangeraai om kwotasies van mediese fondse te vergelyk om bekostigbare opsies te vind, aangesien daar ’n verskeidenheid plaaslike dienste beskikbaar is.
Hoewel hierdie proses onvermydelik ’n stadige een sal wees, is die skuif wat ons as ʼn land in die regte rigting neem, die noemenswaardigste stap wat ons kan doen om ’n beter Suid-Afrika teweeg te bring.
|
MY SPORT |
Van 18-20 teen Nieu-Seeland tot 18-20 teen Italiё – waar gaan ons eindig?
Francois Redelinghuys
Herhaling
In Heyneke Meyer se voorlaaste wedstryd aan die stuur van die Springbokke, so ’n rapsie meer as ’n jaar gelede, het die Springbokke op 24 Oktober 2015 teen die All Blacks in die halfeindronde van die 2015 Wêreldbekertoernooi met 18 punte teenoor 20 vasgeval.
In Alister Coetzee se mees onlangse wedstryd aan die stuur van die Springbokke het die Bokke op 19 November 2016 ook met 18 punte teenoor 20 vasgeval – teen Italië. Die verskil tussen die twee opponente? Die een is die voorste span ter wêreld, terwyl die ander een rugby se stiefkind is en ’n lae 13de plek op die wêreldranglys beklee.
Wat ’n verskil kan ’n jaar nie maak nie! Van tweede op die wêreldranglys tot vyfde.
Kom ons wees eerlik. 2016 was die bokke se annus horribilis. Tans staan Alister se wenpersentasie op 36% sedert hy aan die begin van die jaar die Bokbreier geword het. Met nog een wedstryd oor vir die jaar, staan die Bokke ’n goeie kans om met 33% vir die jaar af te sluit. Dis eenvoudig nie goed genoeg nie, en ander afrigters is al vir baie minder ontslaan.
Ek is bevrees dat indien die Bokke op hierdie afwaartse trajek gaan voortsleep, ons werklik in ’n diep groef gaan verval waaruit dit baie moeilik gaan wees om uit te kom. Op die ou end is dit gelukkig of ongelukkig nou maar eenmaal so in professionele sport dat die afrigter moet pa staan vir swak vertonings. Die tyd het gekom dat Alister nou moet ophou om verskonings te maak en 2016 op die ken vat.
Op die ou end dink ek dat die nederlaag teen Italië die beste ding was wat kon gebeur. ’n Wen sou ons niks baat nie want dit sou bloot die onvermydelike uitstel met die afrigtingspan wat sou aanhou glo dat hulle op die regte pad is. Slegs so ’n vernederende nederlaag sal die topbestuur van SA rugby noop om veranderinge aan te bring.
Kom ons hoop dat Alister se 20-18-nederlaag ook sy voorlaaste sal wees.
|
RIDDER EN RAMPOKKER |
Deur Wilmarie Brits
Ridder
Jacques Papenfus, ons ridder van die week, is ʼn man wat besluit het om bo sy omstandighede uit te styg en sy vaardighede en energie aan te wend om ʼn verskil te maak in die lewe van mense wat sukkel met verslawing en armoede. Jacques is die stigter van Moeggesukkel, ʼn liefdadigheidsentrum wat fokus op bemagtiging en mense in verskillende rigtings oplei sodat hulle nuwe vaardighede kan aanleer. Daarom het Jacques besluit om MSG Auto, ʼn meganiese en duikklopwerkswinkel vanuit Moeggesukkel te open. Moeggesukkel verskaf tegniese opleiding en mense kan ambagte in duikklop- en meganiese herstelwerk leer. Hulle word ook in die versiening van voertuie opgelei.
Alhoewel Jacques self donker tye beleef en met verslawing geworstel het, is hy al nege jaar “skoon” en nou wil hy graag ander mense help om nuwe vaardighede aan te leer. MSG Auto bars behoorlik uit sy nate en moes nou na ʼn groter perseel verskuif om meer mense te kan oplei.
Rampokker
Die egpaar wat hul baba as “dwelmkoerier” wou gebruik, is dié week se rampokkers. Die egpaar is onmiddellik in hegtenis geneem nadat die polisie hul huis deursoek het en heel toevallig dwelms in die luier van hul babadogtertjie van sewe maande gevind het.
Na ʼn wenk deur ʼn lid van die publiek dat daar glo dwelms uit ʼn huis op Selosesha naby Thaba Nchu in die Vrystaat verkoop word, het die polisie ondersoek gaan instel. Tydens die deursoeking van die huis het een van die konstabels die twaalfjarige dogter van die egpaar gevra om ʼn kombers vir haar babasussie te gaan haal. Die konstabel het die baba vasgehou terwyl haar ouer sussie die kombers gaan haal het. Dit is toe dat hy ʼn vreemde voorwerp onder die baba se luier opgemerk het. By nadere ondersoek het die polisie op plastieksakkies met 57 Mandrax-tablette daarin afgekom.
Die egpaar se twee dogters is onder die toesig van hul ouma geplaas.
|
REGSVRAAG |
Wat is ʼn handelsbeperkingsooreenkoms?
Deur Phil Davel
ʼn Handelsbeperkingsooreenkoms is basies ʼn kontrak waarin een party ooreenkom om sy handelsvryheid te beperk – vir ʼn vasgestelde tydperk in ʼn vasgestelde gebied – ten gunste van die ander party.
Daar is geen arbeidswette wat handelsbeperkingsooreenkomste reguleer nie en dit word dus deur die kontraktereg beheer.
Die algemene beginsel in die kontraktereg is dat partye gebonde gehou moet word aan die ooreenkoms wat hulle sluit. Daar word geag dat persone wat ʼn kontrak teken wilsooreenstemming bereik het oor die inhoud daarvan en hulle daarmee vereenselwig.
Handelsbeperkingsooreenkomste is geldig en afdwingbaar, al perk dit ʼn persoon se handelsvryheid in.
Indien ʼn party tot so ʼn ooreenkoms die bepalings daarvan verontagsaam, kan die ander party ʼn saak van kontrakbreuk na ʼn siviele hof verwys. Die hof sal onder meer kyk of die handelsbeperkingsooreenkoms geldig is en of dit dalk teen die openbare belang is. Ander aspekte wat die hof sal oorweeg, is die volgende:
- Het die werkgewer ʼn beskermbare belang? Dit kan kliëntelyste wees, vertroulike inligting, handelsgeheime, ens.
- Sal die werknemer die werkgewer se beskermbare belang bedreig?
- Indien die werknemer wel die werkgewer se beskermbare belang sal bedreig, hoe weeg daardie bedreiging op teen die werknemer se reg om ekonomies aktief te wees?
- Is die strekking, gebied en/of duur van die handelsbeperking te wyd, te vaag of te lank? Indien ʼn klousule verhoed dat een party ʼn praktyk vir ʼn tydperk van 10 jaar op enige plek in Suid-Afrika mag open, sal ʼn hof waarskynlik bevind dat die tydperk te lank is en dat die gebied te groot is; so ʼn klousule sal dus teen die openbare belang indruis.
- Is die handelsbeperking slegs daarop gemik om mededinging te verhoed?
Die party wat aanvoer dat die handelsbeperkingsooreenkoms teen die openbare belang is, sal die hof daarvan moet oortuig dat die ooreenkoms onbillik en onafdwingbaar is.
|
RESEP VAN DIE WEEK |
Smullekker driegangmaal vir Kersdag
Deur Wilmarie Brits
Kersdag is ’n familiedag; bederf dus jou geliefdes met dié smullekker driegangmaal. Al drie geregte is genoeg vir ses mense, dis lekker maklik om voor te berei en dit beloof om al die smaakkliere te prikkel.
Voorgereg – Gerookte ham met soet mosterdsous
Bestanddele – Ham
1,2 kg gerookte ham (gammon), gaar
1x blik ingemaakte appeltjies
Soet mosterdsous
200 ml asyn
250 ml (1 k) suiker
3 eiers, geklits
30 ml (2 e) mosterdpoeier
knippie sout
5 ml (1 t) mielieblom
Metode
Verwyder die net om die ham, sny die vel in diamantvorms en besprinkel met sout en water.
- Oondbraai die vleis 50-60 minute terwyl jy elke 10-15 minute ’n bietjie water oorsprinkel. Jy kan gerus die ham verglans vir ʼn smaaklike visuele effek: Sny die vet in diamantvorms. Smeer appelkooskonfyt oor wanneer dit gaar is. Skakel die roosterelement van die oond aan en rooster vinnig tot bruin.
- Plaas al die bestanddele vir die soet mosterdsous in ’n kastrol en verhit oor lae hitte. Roer 5-7 minute tot die sous verdik. Laat sowat 5 minute prut en laat afkoel.
- Sodra die ham lekker verkleur is, sny die ham in skywe en sit dit saam met die mosterd en ingemaakte appeltjies voor.
Hoofgereg – Platribrol met spinasievulsel
Bestanddele
Vulsel
15 ml (1 e) olie
125 g spekvleis, in blokkies gesny
2 preie, in ringe gesny
1 knoffelhuisie, gekneus
sout en varsgemaalde swartpeper
15 ml (1 e) vars tiemie
125 g spinasie, fyn gekap
75 ml (5 e) vars witbroodkrummels
60 g bloukaas, gekrummel
Vleisrol
1,5 kg beesplatrib, ontbeen
40 ml vars suurlemoensap
500 ml (2 k) droë witwyn
geroosterde groente vir opdiening
Metode
Voorverhit die oond tot 160 °C.
Vulsel
Verhit die olie in ’n pan en braai die spek, preie en knoffel ’n paar minute. Geur met sout en peper en verwyder van die hitte. Laat dit effens afkoel en voeg die tiemie, spinasie, broodkrummels en bloukaas by.
Vleisrol
Plaas die vleis op ’n skoon werkoppervlak en skep die vulsel bo-op. Versprei die vulsel sodat die hele oppervlak bedek is en druk die vulsel effens plat met jou hand sodat dit makliker rol. Rol die vleis op en bind dit vas met tou.
Plaas die rol in ’n groot oondbak en geur buite-om met sout, peper en suurlemoensap. Voeg die witwyn by. Oondbraai 2 uur of tot die vleis gaar is. Laat die vleisstuk 10 minute staan voor jy dit in skywe sny. Sit voor met geroosterde groente.
Nagereg – Koekstruif in glasies
Bestanddele
2 pakkies rooi jellie
1 - 2 blikke (400 g elk) gemengde bessies, gedreineer
50-80 ml sjerrie (opsioneel)
400 g gekoopte sponskoek, in stukke gebreek
150 ml gemengde neute, gekap
500 ml aangemaakte vla
250 ml room, styf geklits
5 - 6 heel groenvyekonfyt, in stukke gesny
takkies vars kruisement vir versiering (opsioneel)
Metode
- Maak die jellie aan volgens die aanwysings op die pakkie. Die gedreineerde sap van die blikkies vrugte kan ook gebruik word.
- Sprinkel die sjerrie oor die sponskoek. Pak die jellie, bessies, koek, neute en vla in lae in glase of in ’n mooi deursigtige bak. Skep die room bo-op en versier met die groenvyestukke en kruisement as jy het.
- Plaas dit in die yskas vir een uur tot gestol. Sit koud voor.
Bron: Huisgenoot
|
HET JY GEWEET? |
Die taal van ’n gemeenskap verander stadig maar seker met die gevolg dat ’n opgevoede persoon nie woorde in sy eie taal wat 500 jaar tevore geskryf is, sal kan lees of verstaan nie.
Bron: funology.com/facts-about-language/
|
SPREEKWOORD |
Bokveld: Bokveld toe gaan (doodgaan, dood wees)
Die Bokveld, volgens een bron, was vroeër ’n verwysing na die hel, na aanleiding van die laaste oordeel beskryf in Mattheus 25 waar die bokke na die ewige vuur gaan. Later sou die betekenis dan uitgebrei het tot die algemene "doodgaan".
Bron: Prinsloo, A. Spreekwoorde en waar hulle vandaan kom (2004)
|
AANHALING |
“Daar is niks wat 'n mens so in staat stel om sy probleme te oorbrug en te oorleef, as die wete dat hy 'n unieke taak het om te vervul nie.” – Viktor Frankl
Bron: andiquote.co.za/onderwerpe/Werk%20en%20werkers.html
|
ATTERBURY TEATER: |
Hoogtepunte by die Atterbury Teater
Vertoning/ geleentheid |
Datum |
Tyd |
Prys |
Guitar Legends by Nathan Smith |
December 6 |
20:00 - 22:30 |
R160 - R200 |
A Colour-ed Krismis story |
December 15 |
19:30 - 22:00 |
R120 |
Kiekies – Lucas se Liedjies |
Januarie 22, 2017 |
16:00 - 17:15 |
R140 - 160 |
Beurtkrag |
Februarie 3, 2017 |
20:00 - 21:00 |
R140 |
Beurtkrag |
Februarie 5, 2017 |
15:00 - 16:00 |
R140 |
Kaartjies is by enige Computicket-kantoor beskikbaar of skakel 083 915 8000 om 'n bespreking te doen. Atterbury Teater is geleë op die hoek van Lynnwoodweg en Daventrystraat in Lynnwood. Skakel die teater by 012 471 1700 of stuur 'n e-pos na info@atterburytheatre.co.za.
|
ATLETIEKKLUB |
Sluit só aan by die Solidariteit Atletiekklub
Word vandag nog deel van die Solidariteit Atletiekklub. Skakel klubvoorsitter Hendrik van der Westhuizen by 082 851 8451 vir meer inligting of stuur 'n e-pos na atletiek@solidariteit.co.za.
|
|